Katastrofe bedreig NCA-beesboere
Talle abattoirs slag skaars
Die AFN sê doeltreffende bemarkingskanale sal veeboere in die noordelike kommunale gebiede in staat stel om te groei tot kommersieel-georiënteerde beesvleisprodusente.
Meer as 18 000 ontluikende beesprodusente in die noordelike kommunale gebiede (NCA) het onmiddellike toegang tot markte nodig om ’n katastrofe te voorkom.
’n Opname in Februarie onder potensiële kommersieel-georiënteerde vleisprodusente in die kommunale gebied, identifiseer ’n gebrek aan amptelike bemarkingsgeleenthede, of abattoirs, as hul grootste struikelblok.
Só sê die nuutgestigde burgerregte-organisasie, Aksieforum Namibië (AFN).
Bertus Kruger, ’n bekende weidingskundige en een van die direkteure van dié organisasie, het onlangs ’n mediaverklaring uitgereik, waarvolgens die dreigende droogtetoestande oor groot dele van die land die dringendheid van die saak vererger.
“Produsente wat nie betyds hul veegetalle kan verminder nie, kan miljoene verloor as die beeste vrek. Boonop sal die kwesbare weidingsituasie verder agteruitgaan,” lui die verklaring.
Die AFN is van mening sou dié struikelblok uit die weg geruim kan word, sal dit die veeboere in staat stel om te groei van kleinskaalse veeboere tot kommersieel-georiënteerde beesvleisprodusente.
GEEN KANALE
“Sedert Meatco sy bedrywighede in 2014 in die noordelike kommunale gebiede gestaak het, is daar geen amptelike bemarkingskanale vir dié boere beskikbaar nie.
“Onlangs het die abattoir in Katima Mulilo weer met werksaamhede begin onder die bestuur van Meatco en ons kan net hoop dat die nuutgeboude Rundu-abattoir ook binnekort in volle werking sal wees,” sê die AFN.
Die ander vier abattoirs in die NCA, naamlik by Eenhana, Oshakati, Outapi en Opuwo is vir baie jare reeds nie operasioneel nie, wat veeboere met geen bemarkingsgeleenthede laat.
“Die eerste drie is vir miljoene opgeknap. Die Namibia National Liberation Veterans’ Association het in 2017 die tender ontvang om die abattoirs op Eenhana en Outapi in werking te stel, terwyl die Oshakati-abattoir in 2018 aan KIAT toegeken is – ’n konsortium van plaaslike sakemanne. Tot dusver is daar egter min tot geen beeste bemark nie,” sê die AFN.
SWAK PRODUKSIE
Die AFN gee toe die produksie van beeste en hul produktiwiteit in die noordelike kommunale gebiede is nie op standaard nie.
“Al is daar meer beeste noord van die veterinêre kordonheining as suid daarvan, dra die gebied minder as 2,5% by tot die totale lewende hawe BBP in Namibië.
“Dit is hoofsaaklik toe te skryf aan ’n lae aanteelkoers van minder as 40%, ’n hoë vrektesyfer van sowat 20%, ’n lae afset van sowat 4% en swak gehalte diere.”
Die AFN merk op Nguni-beeste is goed aangepas, maar dat inteling oor baie jare die aanteel, produksie en gehalte van diere belemmer het.
Die meeste beesvleis wat tans binne die NCA geëet word, word van suid van die veterinêre kordonheining ingevoer. Dit hoofsaaklik omdat verbruikers soos kleinhandelaars, toerisme-instellings en regeringsinstansies die beter vleis van jonger diere verkies wat in meer higiëniese toestande geproduseer is en voortdurend beskikbaar is, sê die AFN.
WEIDING
Die toestand van die weiding – wat vererger word deur gedurige droogtes – is swak en toon agteruitgang.
Namibië het jare gelede reeds 20 miljoen euro van die Europese Unie (EU) ontvang vir ’n projek genaamd “Ondersteuning aan die lewendehawesektor in die noordelike kommunale gebiede van Namibië”.
Die doel van die projek is om lewendehaweboere in die NCA te ondersteun om markgeoriënteerde vleisprodusente te raak. Daar is sowat 160 000 individuele boere in dié gebied, waarvan sowat 63% of 104 000 beeste besit.
Sowat 18 500 besit beeskuddes van 30 stuks of meer. Kuddes van dié grootte word dikwels beskou as ’n minimum om ’n gereelde afset te kan verseker.
Kruger het bygevoeg dat die lewendehawe afset vanaf Namibië se natuurlike weiding op verskeie fondasies rus. Dit sluit in produktiewe en veerkragtige weiding wat goeie gehalte en hoeveelhede voer op ’n deurlopende wyse lewer. Nog ’n fondament is die doeltreffende omskakeling van voer na produkte soos vleis en melk.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie