Kleiner koeie vir stresvolle omgewings
Kenner sê oor aangepastheid, vrugbaarheid
Produsente word gedruk om al hoe groter en jonger karkasse te produseer, terwyl koeie met 'n groter bouvorm se produktiwiteit in stresvolle omgewings afneem.
“Ons sê ons diere is aangepas tot hul omgewing, maar wat bedoel ons daarmee? Ek persoonlik glo een van die grootste faktore van ʼn aangepaste dier is liggaamsgrootte.”
Só gesels dr. Mario Beffa, bestuurder van die Zimbabwiese Kuddeboek. Hy het tydens die Okabra-boeredag van die Schneider-familie op Saterdag 28 Mei ʼn praatjie gelewer oor hoe ʼn koei se grootte tot haar omgewing aangepas moet word vir maksimum vrugbaarheid.
“Wat ons wel weet, is dat groot diere nie aangepas is tot stresvolle omgewings nie. Ons moet ʼn koei se fisiologiese behoeftes by haar omgewing laat inpas,” het Beffa gesê.
Hy meen die probleem is egter dat diere met ’n groter bouvorm in aanvraag is.
“Hoekom ervaar ons dat volwasse koeie al groter en groter raak? Die groot ding is ons markte. Produsente word gedruk om al hoe groter en jonger karkasse te produseer – vir uitvoersnitte.
“Die vleisverwerkers soek ʼn groter karkas. ʼn Groter karkas kom van ʼn koei met ’n groter bouvorm – wat afhanklik is van julle natuurlike weiding. Terselfdertyd ervaar julle hier groot variasie in die omgewing.
“Dit is alles goed en wel, jul speenkalwers gaan na ʼn voerkraal en word met graan gevoer. Maar jou fabriek, jou koeie, is afhanklik van jou natuurlike hulpbronne.
“Die punt wat ek probeer maak, is dat wanneer jy jou beeskudde probeer onderhou, gaan die helfte van die hulpbronne om jou fabriek te onderhou. Jy moet seker maak die fabriek kry wat dit nodig het om kalwers te bly produseer,” het hy gesê.
Hy sê in ’n omgewing soos Namibië, waar weiding nie altyd beskikbaar is nie, word ʼn punt bereik waar koeie die droë seisoen oorleef.
“Hulle oorleef, maar verloor kondisie. Ons is nie in die bedryf om net te oorleef nie, maar ons wil produseer,” het hy gesê.
STUDIE
Beffa sê dragtigheid of vrugbaarheid is vier maal belangriker as enige ander produksie-eienskap van beeste.
“Dit laat die vraag by my opkom – wie van ons bestee vier maal die hoeveelheid aandag aan vrugbaarheid wanneer ons ons diere evalueer?”
Hy het vertel van ’n langtermyn- seleksie- en genotipe-omgewingstudie by Zimbabwe se Matopos-navorsingsentrum wat oor verskeie dekades gestrek het en waarby hy betrokke was.
“Ons het in 1957 begin en 200 Afrikaner-beeste vir 20 jaar in twee omgewings geselekteer, waarna ons hul omgewings in 1976 omgeruil het.
“Altesaam 100 koeie is onder tradisionele veldpraktyke aangehou – hulle het geen byvoeding ontvang nie en hulle teelseisoen is aangepas sodat hulle laat kalf – tussen Desember en Februarie.
“Die ander 100 koeie is binne ʼn omgewing aangehou waar hulle byvoeding ontvang het.
“Destyds het die wetenskap van die dag bepaal as jy byvoeding vir koeie gee, kom die koeie met ʼn beter kondisie uit die droë seisoen. Dan kan hulle vóór die reënseisoen kalf, tussen Oktober en Desember, wat aan die kalf die volle voordele van die reënseisoen bied.
“Ons het geselekteer vir gewig,” het Beffa gesê.
“In 1976 is die aantal koeie in beide omgewings na 150 koppe toe verhoog, terwyl 75 koeie uit elke groep na die ander omgewing oorgeskuif is,” het hy verduidelik.
“Die 75 koeie, wat tot dusver byvoeding ontvang het en toe oorgeskuif is na die veldtoestande waar geen byvoeding gegee word nie, se vrugbaarheid het in duie gestort.
“Wat ons dink gebeur het, is dat ons selektering vir gewig koeie se volwasse gewig doeltreffend verhoog het. Toe ons die groter koeie in die swakker omgewing geplaas het, kon hulle nie hul liggaamskondisie behou nie – al was hulle gemiddeld net sowat 10 kg swaarder as hul eweknieë in die veld,” het hy verduidelik.
“Die slotsom is: Boere moet baie versigtig wees dat hul koeie se grootte by hul omgewing pas. Indien dit nie die geval is nie, moet jy hulle voer, sodat hul kondisie sal verbeter en hulle vrugbaar sal wees,” het hy gesê.
Hy het getoon vrugbaarheid is een van die eerste funksies wat ʼn koei se liggaam staak wanneer dit tekorte aan voeding begin ervaar.
PRODUKTIWITEIT
“Die produktiwiteit van ʼn koei is omgekeerd verwant aan haar grootte,” het Beffa gesê.
Hy het verwys na ʼn tweede studie deur dieselfde navorsingsentrum, waarin die produktiwiteit van koeie uit inheemse beesrasse ontleed is.
Tydens die studie is vasgestel dat koeie met ’n kleiner bouvorm in alle opsigte beter presteer as hul groter eweknieë.
Hulle klop die koeie met ’n groter bouvorm as dit kom by die aantal kalwers waaraan hulle geboorte gee, die kalwers se oorlewing asook hul uiteindelike produktiwiteit.
Beesrasse wat in die studie ingesluit is, is die Mashona, Nguni, Tuli, Brahmaan, Charolais, Afrikaner en Sussex.
“Die gemiddelde Mashona-koei was sowat 130 kg ligter as ʼn Sussex-koei – en die heel ligste van al die rasse. Terselfdertyd het sy meeste kalwers gelewer – soos die ander Sanga-rasse – en sy het ook die minste kalwers verloor, al was haar kalwers heelwat ligter,” het hy gesê.
“Die kleiner koei is meer vrugbaar, want sy kan haar liggaamskondisie onder swakker voedingsomstandighede behou,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie