Meatco
Meatco

Laatbetalings bekommer Meatco-produsente

Kritieke rol om bedryf te stabiliseer
As produsente nie betyds betaal word nie, het die geskiedenis getoon veilingspryse word ook negatief geraak.
Ellanie Smit
Landbou-unies sê die herhaaldelike onvermoë van Meatco om boere betyds te vergoed, gaan voort om hul vertroue te ondermyn. Dit volgens 'n brief van die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), die Namibiese Ontluikende Kommersiële Boerevereniging (Necfu) en die Namibië Landbou-unie (NAU).

Die brief wat aan die minister van finansies en openbare ondernemings Ipumbi Shiimi gerig is, is ook aan Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming, die uitvoerende direkteur van finansies Titus Ndove asook Meatco se voorsitter Sakaria Nghikembua gestuur.

Volgens die vakbonde speel Meatco 'n kritieke rol om die beesbedryf te onderhou en te stabiliseer en veral gedurende die huidige droogtetydperk.

“Namibië kan net ’n derde van die vleis verbruik wat dit produseer en ons is afhanklik van doeltreffende uitvoer waardekettings.”

Volgens die unies stimuleer uitvoerslagplase as die laaste koper van beesvleis vir uitvoerdoeleindes ook die totale waardeketting.

“As Meatco-produsente nie betyds betaal word nie, het die geskiedenis gewys veilingspryse word ook negatief geraak.”

Dit sê voorts in April vanjaar het “onvoorsiene omstandighede” weer die tydelike betaling van Meatco-produsente vertraag. Omdat produsente reeds in 2022 en 2023 laat betalings ervaar het, kan die vraag met reg gevra word of en wanneer dit weer in 2024 sal gebeur.

"Ons skryf daarom om ons voortgesette kommer oor die onlangse vertraging van betalings en die kansellasies van slaggleuwe te opper wat deur Meatco-produsente ervaar word," aldus die brief.

Die unies erken die kwessies is tydelik aangespreek, maar daar is 'n dringende kommer dat dit weer mag gebeur. Bykomend is die feit dat die Noordelike Kommunale Gebied (NCA) tekorte ervaar van hoë kwaliteit lewende hawe wat aan slagpales voorsien word.

"Die rede vir die lae kwaliteit en die getalle wat voorsien word, kan toegeskryf word aan die lae produsentepryse wat in die NCA ontvang word en wat 40% laer is as die pryse wat suid van die Veterinêre Kordonheining ontvang word. Dit volgens statistiek van die Lewende Hawe en Lewende Hawe Produkteraad van Namibië."

Die unies sê die lae pryse weerhou boere daarvan om uit te brei en meer kwaliteit beeste te produseer. Laasgenoemde bedreig nie net die operasionele lewensvatbaarheid van die NKW-abattoirs nie, maar ook boere se lewensbestaan en die groter bedryf.

"Dit is daarom noodsaaklik dat die regering in die tussentyd voorsiening maak vir 'n NCA-gelykmakingsfonds om voorsiening te maak vir die gaping tussen pryse en terwyl internasionale markte ontwikkel en die Goeie Praktykskode behoorlik toegepas word."

Volgens die unies is die voortslepende droogte 'n ideale geleentheid vir Meatco om hul uitdagings te bestuur deur sy produksieteikens te bereik en gevolglik finansiële spanning te verminder.

Dit kan slegs bereik word deur proaktiewe en deursigtige kommunikasie en met gewaarborgde betalings- en slagversekering aan produsente.

“Ons doen 'n beroep op u om hierdie bekommernisse dadelik aan te spreek. Produsente het versekering nodig dat hulle in hierdie onsekere tye op Meatco kan staatmaak.”

Meatco is aan die begin van verlede week vir terugvoer oor die brief genader, maar het teen Vrydag nog nie gereageer nie. Die uitvoerende bestuurder van die NLU Roelie Venter het aan Republikein se susterskoerant Namibian Sun gesê terugvoer is van die ministerie van finansies en openbare ondernemings ontvang dat hulle besig is om oplossings te vind en verdere terugvoer sal gee.

"Ons is daarom positief dat die kwessie aangespreek sal word," het Venter gesê.

Meatco het in Oktober verlede jaar gesê dit het 'n inkomste van N$775 miljoen jaar-tot-datum tot Augustus aangeteken en waarvan N$600 miljoen in die oorsigjaar aan produsente betaal is. Dit het gevolg nadat berig is die maatskappy skuld plaaslike beesprodusente meer as N$300 miljoen en dat dit tot 88 dae agter is met betalings.

Thinus Pretorius, voormalige voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) en tans president van die NLU, het toe gesê produsente dreig Meatco met regstappe, terwyl die bedryf groot ongemak ervaar oor die vleisverwerkingsmaatskappy se versuim om te betaal.

Meatco het intussen sy lede in sy nuusbrief ingelig die 2024 jaarlikse algemene vergadering gaan weens verskeie redes wat 'n impak op die tydlyne van die eksterne oudit gehad het nie meer op 30 Junie plaasvind nie. Die redes sluit in die bedanking van sy hoof finansiële beampte, die aanstelling van 'n tussentydse finansiële konsultant, asook die rotering van sy ouditvennoot. Die nuwe datum vir die vergadering is 16 Augustus. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!