Landbou-oplossing eie aan Afrika nou nodiger as ooit

Oorlog tussen Rusland, Oekraïne wekroep vir vasteland
Afrika moet voedselsekerheid verbeter deur alternatiewe gewasse tot koring te verbou en grondgehalte op ander maniere as met kunsmis te verbeter.
Ronelle Rademeyer
Die landboukrisis wat veroorsaak is deur die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, veral tekorte aan kunsmis, koring en eetbare olie in Afrika, vra vir die dringende inwerkingstelling van wetenskap-geleide oplossings wat reeds by landbounavorsingsinstitute beproef word.

So sê dr. Rebbie Harawa, streekdirekteur vir Oostelike en Suider-Afrika van die Internasionale Gewasnavorsingsinstituut vir semi-droë tropiese gebiede (Icrisat).

Die Verenigde Nasies (VN) se agentskappe waarsku dat die oorlog die voedselkrisis in Afrika kan vererger, waar miljoene mense reeds in uiterste armoede gedompel is deur die Covid-19-pandemie en die uitwerking van klimaatsverandering.

Lande in die horing van Afrika wat oorheersend droë en semi-droë lande is, word waarskynlik die swaarste getref – want hulle het skaars herstel van skokke en spanning wat wissel van sikliese vloede en droogtes, die herfskommandowurm- en woestynsprinkaanplae oor die afgelope vyf jaar, sê sy.

“Die VN se Wêreldvoedselprogram (WFP) skat dat 20 miljoen mense nou 'n akute voedseltekort in Somalië, Ethiopië en Kenia in die gesig staar. Somalië voer 90% van sy koring uit die Oekraïne en Rusland in.

“Gediversifiseerde voedsel- en boerderystelsels is waarskynlik nou meer as ooit tevore nodig. Sorghum, pêrelgiers (plaaslik bekend as mahagu) en grondbone is belangrike gewasse in die droëlandstelsels.

“Hierdie gewasse speel 'n beduidende rol as voedsel- en kontantgewasse en dra by tot die voeding, gesondheid en inkomste van kleinboere,” sê Harawa.

Volgens haar kry sorghum en pêrelgiers stadigaan bekendheid as plaasvervangers vir koring. Die regering van Kenia het onlangs riglyne en standaarde opgestel wat die vermenging van meel deur meulenaars beheer om die voedingskomponente van produkte te versterk.

Die inisiatief het standaarde ontwikkel wat vereis dat mieliemeel met maniok, giers en sorghum gemeng word, en koringmeel word gemeng met sorghum, maniok en patats.

“Om onmiddellik aan hierdie vereiste te voldoen, is daar meer as 30 verbeterde variëteite sorghum en giers wat vanaf 2021 deur Icrisat en sy vennote ontwikkel is,” sê sy.

KUNSMIS

Die oorlog het ook die kunsmiskrisis vererger. Rusland is die wêreld se grootste uitvoerder van kunsmis, maar sy oorlog met die Oekraïne het verskeping ontwrig en pryse vir aardgas, 'n sleutelbestanddeel vir kunsmisvervaardiging, laat styg. Die prys van ureum-kunsmis het met 32% gestyg sedert die inval op 24 Februarie vanjaar, terwyl diammoniumfosfaat, of DAP, met 13% gestyg het.

“In Oos-Afrika het kunsmispryse binne twee maande ná die konflik meer as verdubbel vanaf hul vlakke 'n jaar gelede. Teen Maart 2022 het kunsmispryse in Kenia byna verdriedubbel tot die mate dat die regering vinnig met subsidie moes ingryp om die boere te help,” sê Harawa.

“Terwyl anorganiese bemestingstowwe die potensiaal het om die grondvoedingstowwe te herstel, vereis die omkeer van grondagteruitgang 'n geïntegreerde grondvrugbaarheidsplan (ISFM) waar die kunsmis geïntegreer word met organiese voedingsbronne soos mis, graan-peulgewas-wisselbou en kompos.

“Grondagteruitgang is veral akuut in lande suid van die Sahara waar langtermyn-oorbenutting van grond en wisselvallige reënval die hoofredes vir swak voedselproduksie is.

“Die boere is so arm dat hulle alles wat hulle kan uit die grond haal en nie bereid is om in kunsmis te belê nie omdat die groeiseisoen baie riskant is. Die versuim om die grond te verryk gee aanleiding tot ‘n bose kringloop. Tensy voedingstowwe vervang word, is die grond uitgeput en daal opbrengs en oeskwaliteit, wat lei tot wydverspreide honger en ondervoeding,” sê sy.

Hawara sê dit is 'n wekroep vir hierdie lande om te begin met die implementering van plaaslik aanpasbare grondvrugbaarheidsbestuurtegnologieë wat volhoubaar en binne die bereik van kleinboere is. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 29° Rundu: 20° | 27° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 20° | 25° Otjiwarongo: 21° | 29° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 22° | 31° Gobabis: 22° | 29° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 16° | 31° Ariamsvlei: 22° | 39° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 20° | 29° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 19° | 23° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 22° | 31° Cape Town: 19° | 23° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 23° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 25° Harare: 16° | 24° #REF! #REF!