LPO kroon beste grootveeprodusent
Die Metzgers van die plaas Molly naby die Botswana-grens is tydens die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres verlede week as die grootveeprodusent van die jaar bekroon. Mario en Karin Metzger is as wenners aangewys nadat agt inskrywings ontvang en beoordeel is. Twee ander produsente het eervolle vermeldings ontvang. Hulle is Hardus Breedt van Nurugas in die tweede plek en Wilfried Slaney van die plaas Skietwerf naby Nina in die derde plek. Egbert Hoff, een van die beoordelaars, sê in die NLU se nuusbrief die beoordeling was ’n groot eer en leergeleentheid. Altesaam 3 800 km is afgelê om die plase van die kandidate te besoek. Volgens hom was die kompetisie taai. Punte uit 200 is aan elke deelnemer toegeken en die topdrie deelnemers was binne 8% van mekaar. Nie net hul kuddes is onder die loep geneem nie, maar hul algehele boerderybedryf, wat finansies en arbeidersbehuising insluit, is ook beoordeel.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie