Lys van eise aan Meatco oorhandig

Produsente belê dringende vergadering
Produsente sê hulle soek nou waarborge by Meatco vir betalings of andersins wil hulle die helfte van hul geld met verslagting ontvang, terwyl hulle ook 'n betroubare prysstruktuur ses maande vooruit soek.
Elvira Hattingh
Meatco-produsente het, ná ’n dringende vergadering verlede Donderdag met die onderneming se bestuur en direkteure, ’n geskrewe dokument met eise ingedien dat die vleisfabriek nie net alle agterstallige betalings moet vereffen nie, maar ook waarborge moet verskaf dat betalings op tyd sal geskied.

In gevalle waar waarborge nie gegee kan word nie, moet Meatco produsente 50% vooraf betaal wanneer beeste geslag word, eis die produsente.

Dit volg nadat verskeie produsente onder voorsitterskap van André Esterhuizen ’n vergadering met Meatco belê het, wat volgens hulle hom aan roekelose handelspraktyke skuldig maak en dienooreenkomstig ernstige verliese en kontantvloei-probleme in die gesig staar.

Tydens die vergadering het produsente ook daarop aangedring dat pryse vir November tot Januarie aangepas moet word, soos daar formeel in Julie ooreengekom is, alle agterstallige betalings vereffen moet word, en produsente ’n betroubare prysstruktuur moet kry vir minstens ses maande vooruit.

IMPAK

Produsente sê Meatco se laat betalings veroorsaak ernstige kontantvloei-probleme en dat hulle nie hul werkers, verskaffers en ander koste kan dek nie.

“Veilingpryse het in duie gestort omdat produsente nou verkies om hul beeste eerder op veilings te verkoop.

“Terwyl BTW betaalbaar is op die datum wat produsente fakture ontvang, het ons nie die kontant om dit te betaal nie en raak die betalings ook agterstallig – wat beteken ons gaan beboet word,” het produsente gesê.

Produsente het dit duidelik gestel dat Meatco meer as 100 000 diere per jaar sal kan slag, sou hulle betyds betaal word volgens pryse waarop daar ooreengestem is.

“Produsente-opnames wys dat diegene van ons wat beeste voer, daartoe in staat sal wees om tussen 80 000 en 100 000 beeste op ’n voortdurende basis te verskaf,” het hulle gesê.

PROBLEME

Die produsente het tydens die vergadering gesê ondoeltreffendhede in Meatco se bemarkings-, logistieke en nakomingsafdeling verhoed dat dit optimaal – teen volle kapasiteit – kan funksioneer.

“Terwyl die wisselkoers tans meer gunstig is as in jare, kon die Noorweegse kwota nie benut word nie.”

Die produsente sê nadat Meatco die verspreiding van sy voorraad vanjaar self begin hanteer het, word vraghouers uitgevoer met onvoltooide dokumentasie.

“Meatco se personeel het nie die nodige kapasiteit en begrip van wat om te doen nadat alle verspreidingsverantwoordelikhede by GPS [Global Protein Solutions] oorgeneem is nie.

“Dit beteken die voorraad kan nie verkoop word terwyl die papierwerk nie in orde is nie. Vragte word lank op hawens opgehou en word uiteindelik teen laer pryse verkoop omdat dit naby die vervaldatum is.

“Gevolglik ervaar Meatco beduidende kontantvloei-probleme. Die realisering van markte het ’n ernstige kwessie vir Meatco geraak, terwyl geen stappe gedoen word om dit reg te stel nie,” het die produsente gesê.

Produsente voer verder aan dat terwyl wanbetalings aan hulle ’n voortdurende kwessie is, kan Meatco produsente slegs betaal met die hulp van die regering, wat deur die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN), ’n reddingsboei beskikbaar stel.

“Verliese word dus met skuld gefinansier,” meen hulle.

Daarbenewens is hulle bekommerd dat geen aksie geneem word om Meatco selfvoorsienend te maak nie. “Meatco hou aan om op die regering staat te maak om met sy daaglikse sake voort te kan gaan,” sê hulle.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!