No Image Caption

Mangetti-olifante ontwrig produksie op regeringsplaas

Ellanie Smit
Verskeie maatreëls word oorweeg om die olifantbevolking in die Mangetti-gebied wat in getalle toeneem, te takel.

Dié olifante ontwrig na bewering beesproduksie by die Kavango Cattle Ranch (KCR), 'n rgeringsplaas noord van Grootfontein.

Die plaas wat in die Kavango-Wesstreek geleë is, is onder die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) se sorg. Die plaas beslaan meer as 239 000 hektaar, het meer as 12 000 beeste en verskaf werk aan ongeveer 70 mense.

Die beeste op die plaas is hoofsaaklik Santa Gertrudis- en Brahmaan-rasse wat op beesvleisproduksie vir uitvoerdoeleindes gemik is.

Volgens die besturende direkteur van Nida, mnr. Mihe Gaomab II, kon die aantal olifante in die gebied in die verlede beheer word. Die bevolking het egter drasties van ’n geskatte 60 troppe in 2010 tot ongeveer 200 troppe in 2019-’20 toegeneem.

“Gevolglik het die toename in die aantal olifante die beesbestuursplan ontwrig.”

Volgens hom beïnvloed die teenwoordigheid van olifante op die plaas nie net beesproduksie nie, maar belemmer dit ook die werknemers se produktiwiteit.

Hy het gesê Nida het deur sy lynministerie die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme genader om met olifant- en ander wildbestuur op die plaas te help.

VERSAGTINGSMAATREëLS

“’n Tegniese komitee bestaande uit Nida en amptenare van die ministerie is deur dié konsultasie gestig om ’n olifant- en ander wildbestuursplan vir KCR te ontwikkel, soos deur die ministerie se olifantbewaring- en bestuursplan vir Namibië bepaal word.”

Die tegniese komitee het verskeie versagtingsmaatreëls aanbeveel, het hy gesê.

Gaomab II het gesê Nida het ook goedkeuring aan die N/a’an ku sê-stigting gegee om navorsing oor dierebewegings op KCR te doen. Vir hierdie doel sal hulle twee olifantvriendelike waterkrippe op een deel van die plaas bou, wat die mededinging met die beeste vir water sal verminder.

Konsultasies vind ook plaas met die Vleisraad van Namibië vir die fasilitering van geëlektrifiseerde heinings van private kommersiële plase wat aan die KCR grens om olifantbeweging te beperk en die olifante af te skrik.

Die agentskap sal – deur sy nuut-ontwikkelde geïntegreerde strategiese sakeplan – heinings, beeshanteringsgeriewe en boorgate verder rehabiliteer en ook voldoende behuising vir werknemers verskaf, het Gaomab II bygevoeg.

“Dis Nida se voorneme om die status van die plaas tot ’n optimale en funksionele produksie-operasie te herstel om werkskepping en verhoogde voedselproduksie te verseker.”

VERHOOGDE PRODUKSIE

Nida sal sy produksievermoë van die huidige 12 000 beeste tot die plaaskapasiteit van 18 000 teen 2026 verhoog, het Gaomab II gesê.

Hy het beklemtoon dat produktiwiteit en volhoubaarheid in die vleisbeesproduksiebedryf van die hoofdoelwitte van suksesvolle vleisbeesbestuur is.

Hy het gesê Nida ontwikkel plaasverkope en bemarkingsbeheermaatreëls om verbeterde beesbemarking te verseker asook verbeterde en tydige fakturering deur die hersiening en versterking van sy interne besigheidsprosesse.

Mnr. Joseph Sikongo, voorsitter van die streekraad van Kavango-Wes, het onlangs skok uitgespreek oor die toestand van die plaas, nadat hy vrot beeskarkasse by ’n waterpunt gevind het. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!