Mashare aan sy eie lot oorgelaat

Ontvang geen begroting sedert 2017
Landboutoerusting ter waarde van miljoene is aan die elemente oorgelaat en die infrastruktuur is op die rand van ineenstorting.
Iréne-Mari van der Walt
Kenya Kambowe op Mashare – In sy huidige toestand is die Mashare Landbou-ontwikkelingsinstituut (Madi) in die Kavango-Oosstreek ’n steen des aanstoots.

Landboutoerusting ter waarde van miljoene is aan die elemente oorgelaat, die infrastruktuur is op die rand van ineenstorting en die regering hou hom blind vir die kwessie.

Chaos heers by die instituut, wat sowat 50 kilometer oos van Rundu geleë is en opgerig is met die doel om by te dra tot die landbousektor van die streek en die land in geheel.

Met ’n onlangse besoek het ons susterkoerant Namibian Sun splinternuwe toerusting gesien wat in die oopte staan, blootgestel aan die wind en weer.

Die Madi-sentrumbestuurder en hoof- landbouwetenskaplike, Lukas Mandema, was sigbaar teleurgesteld toe hy gepraat het oor ’n gebrek aan ondersteuning van die lynministerie en die treurige toestand van die instituut.

Oor die toerusting wat stof opgaar, het hy gesê dit het by die sentrum aangekom sonder dat konsultasie vooraf gedoen is, wat tot uitdagings gelei het wat die gebruik daarvan betref.

Volgens hom kan hulle nie die planter en skeurploeë (rippers) wat hulle gekry het, gebruik nie aangesien dit te swaar is om te trek vir die trekkers wat hulle het.

“Hierdie toerusting is swaar en werk nie met ons trekkers nie. Van hulle het reeds skade opgedoen,” het Mandema gesê.

‘POLITICI WEET’

Madi was eens ’n plek waar plaaslike boere vee en voer kon koop, maar die sentrum het sedertdien ontaard in ’n plek waar varke op hoendervoer oorleef.

Volgens Mandema ontvang die instituut sedert 2017 geen begroting nie.

Op die oomblik huisves dit varke, donkies en beeste wat in die hande van die byna 50 arbeiders en drie tegniese personeellede gelaat is.

Die sentrumbestuurder het gesê politici – van die kiesafdelingsraadslid tot die hoogste amp in die land – is bewus van die situasie, maar hul besoeke aan die sentrum eindig net in beloftes wat nooit nagekom word nie.

Hy het gesê as deel van haar veldtog vir Swapo-visepresident verlede jaar, het eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila die instituut besoek en die toestand van die sentrum gesien, maar niks het verander nie.

“Al die leiers – of dit nou op gemeenskaps-, streek- of nasionale vlak is, insluitend die lynministerie – is bewus van die situasie by Madi, maar nie een van hulle kon ons van enige hulp wees nie. Ons goewerneur was al meer as drie keer hier. Hulle weet almal, maar niks positiefs het sedert hul besoeke gebeur nie,” het Mandema gesê.

SABOTASIE

Vinsent Kanyetu, die sekretaris-generaal van die All People’s Party (APP), wat die mediabesoek aan Madi voorgestel het, het gesê daar blyk doelbewuste sabotasie te wees sodat die instituut moet misluk.

Hy het nie doekies omgedraai toe hy gesê het hy is gewalg deur die stand van sake by die sentrum nie en het verder bevraagteken waarom die lynministerie nie aandag gee aan werknemers se bekommernisse nie.

“Ons boodskap is duidelik: ons gaan nie toelaat dat iemand Madi doodmaak nie,” het hy gesê.

“Wat ons daarvoor wil hê, is dat die regering ’n jaarlikse begroting aan die sentrum verskaf om seker te maak dat hierdie plek dienooreenkomstig bestuur word.”

TELEURGESTELD

Oor die toerusting wat in onbruik staan, het Kanyetu gesê dit was ’n vermorsing van geld in ’n land wat reeds beweer hy is platsak.

“Ons hoor van die staatskas wat leeg is, maar as jy kyk na hierdie plek en die toerusting wat in die son lê, is dit baie sleg en ek is teleurgesteld.”

By navraag vir kommentaar het die ministerie van landbou en grondhervorming gesê hy is bewus van die situasie by die sentrum.

“Net soos ’n paar ander projekte binne die ministerie wat geraak is deur begrotingsbeperkings wat die afgelope jare ervaar is, is hierdie sentrum negatief geraak. Ons werk aan ’n volhoubare oplossing om die sentrum te kan benut, en wat uiteindelik sal verseker dat dit ten volle operasioneel sal wees,” het Jona Musheko, die ministerie se woordvoerder, gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!