Meatco using farmers
Meatco using farmers

‘Meatco gebruik kommunale boere’

Betaal glo verskillende pryse
Die waarnemende president van die NNFU het beklemtoon dat Meatco die enigste openbare veemark vir boere is en hulle nie kan toelaat dat die organisasie tot niet gaan nie.
Ellanie Smit,Tanja Bause
Ellanie Smit – Verskeie boere-unies sê dat Meatco kommunale boere gebruik om staatswaarborge en ondersteuning te ontvang.

Terwyl Meatco Vrydag ’n spesiale algemene vergadering vir sy lede op Otjiwarongo gehou het, het boere-unies die maatskappy daarvan beskuldig dat hy kommunale boere van noord en suid van die veeartsenykordonheining (VCF) systap en gebruik het.

Die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU) het saam met die Namibia Emerging Commercial Farmers’ Union en Previous Disadvantaged Commercial Farmers Union ’n mediakonferensie belê waar hulle hul ontevredenheid uitgespreek het oor Meatco se gebrek aan konsultasie.

Amon Mutjiwee Kapi, waarnemende president van die NNFU, het gesê die spesiale algemene vergadering is op kort kennisgewing belê en is nooit met die kommunale unies gekommunikeer nie.

Meatco het in koerantadvertensies sy lede van die vergadering in kennis gestel. Die agenda was egter net ’n terugvoersessie aan veeprodusente oor sake wat voortspruit uit sy 34ste algemene jaar vergadering wat September verlede jaar gehou is.

Slegs geregistreerde Meatco-lede kon glo die vergadering bywoon.

“Ons boere wat Meatco-lede is, het by die unie se leierskap hul kommer oor dié organisasie uitgespreek. Dit het spesifiek kommersiële boere geteiken aan wie hoër pryse betaal is. Die neiging van selektiewe betrokkenheid kom al ’n lang pad,” het Kapi gesê.

Volgens hom is Meatco in die proses om die filiaal van die Noordelike Kommunale Gebiede (NCA) te ontbind, wat die enigste manier is om die noordelike boere te bedien. Hy het gesê daar is geen konsultasie met die boere nie, en dit word tans in die geheim gedoen.

“Meatco het in 2015 uit die NCA onttrek en die noordelike streke sonder ’n mark gelaat.”

Kapi het verder gesê Meatco gebruik die naam van kommunale boere wanneer hulle staatswaarborge en ekwiteite versoek, maar die geld word eintlik gebruik om sy “ondoeltreffende” bedrywighede te befonds, en om onregverdige hoë pryse aan kommersiële boere te betaal.

“Meatco het nog nie die Rundu-, Oshakati- en Opuwo-slagpale bereik nie, hulle is slegs sedert 2021 by die Katima Mulilo-slagpale werksaam, maar tog het dit staatswaarborge en ekwiteite ontvang om die NCA te ondersteun.”

Hy beweer Meatco het sedert 2020 meer as ’n halfmiljard in ’n kombinasie van staatswaarborge en ekwiteite ontvang.

“Die regering het slagpale in die NCA gebou en opgeknap wat veronderstel is om deur ’n openbare entiteit bedryf te word, maar byna niks gebeur nie.”

Kapi het gesê die bou en opknapping van slagpale, staatswaarborge en ekwiteite is belastingbetalers se geld en kan nie vir ondoeltreffende bedrywighede gebruik word nie.

“Meatco betaal verskillende pryse. Aansienlike hoë en onvergelykbare pryse word aan kommersiële boere betaal, terwyl lae pryse vir produkte in die NCA en selfs kommunale boere suid van die VCF betaal word.”

Hy het gesê die volhoubaarheid van Meatco is die groot vraagteken.

“Verhoogde swak bestuur en prestasie in die organisasie, toenemende skuld en voortdurende reddingsboeie deur die regering, het nog nooit tevore gebeur nie.”

Kapi het beklemtoon dat Meatco die enigste openbare veemark vir boere is en hulle nie kan toelaat dat die organisasie tot niet gaan nie.

“Ons kan nie toelaat dat ons boere ly weens swak bestuur en ’n gebrek aan integriteit nie.”

Hy het gesê dat hulle verlede jaar verskeie kere probeer het om met Meatco se bestuur te vergader, maar was onsuksesvol.”

“Ons sal nou die toesighoudende owerhede van Meatco betrek, as ons dan nie suksesvol is nie, sal ons al die ander opsies uitput en doen wat nodig is om hierdie probleem op te los.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!