Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

Meatco se omset styg met 57% in 2023-’24

Volhoubare markverwante pryse
Gedurende die 2023-'24-boekjaar het Meatco N$964 miljoen aan produsente betaal om primêre produksie van lewende hawe in die nasionale belang van Namibië te beskerm.
Ellanie Smit
Meatco het sy omset gedurende die 2023-’24-boekjaar met 57% verhoog tot N$1,2 miljard teenoor die N$765 miljoen van die vorige jaar.

Volgens Meatco se 2023-’24-jaarverslag het die netto verlies met 43% afgeneem vanaf N$118 miljoen in 2022-’23 tot sowat N$67 miljoen in die 2023-’24-boekjaar.

Luidens die verslag het die regering N$142,3 miljoen aan Meatco toegeken vir die voortgesette lewering van sy mandaat, terwyl die regering aan ’n volhoubare model werk wat die maatskappy op die lang termyn sal laat herleef.

Meatco het gedurende die 2023-’24-finansiële jaar N$964 miljoen aan produsente betaal om primêre produksie van lewende hawe in die nasionale belang van Namibië te beskerm. Die bedrag wat Meatco in 2022-’23 aan produsente betaal het, was N$560 miljoen.

“Deur voort te gaan om volhoubare markverwante pryse te betaal, sal produsente in staat stel om hul produksie en uiteenlopende produksiemetodes tussen speenvark- en slagsbokproduksie te beplan,” lui die verslag.

Meatco het 29 120 ton beesvleis verkoop wat 19 760 ton meer beesvleis is as in 2022-’23 toe 9 360 tonnes verkoop is. Sodoende is sy inkomste met N$440 miljoen verhoog in vergelyking met die vorige jaar, volgens die verslag.

Van die 29 120 ton beesvleis en verwante produkte wat verkoop is, het Meatco 60% van die volume aan uitvoermarkte verkoop wat 75% van die totale inkomste van beesvleis en verwante produkte gegenereer het.

Die verslag sê internasionale verkope het N$956 miljoen gegenereer in vergelyking met die N$564 miljoen in 2022-’23.

“Ontbeende, vakuumverpakte, verkoelde en gevriesde snitte, sowel as die meeste van die gevriesde beesvleis is na internasionale sowel as plaaslike markte uitgevoer.”

Gevolglik het die Europese Unie (EU) 42% van die totale inkomste gegenereer, Noorweë 17%, Suid-Afrika 8% en China/Asië 6%. Altesaam 21% is in Namibië verkoop.



VERSLAGTING

Vir die eerste keer in drie jaar het Meatco ook daarin geslaag om verby die 60 000-kerf te beweeg vir die aantal beeste wat geslag is.

Luidens die verslag het Meatco 60 820 beeste suid van die veeartsenykordonheining (bekend as die Rooilyn) tydens 2023-’24 geslag in vergelyking met 33 144 beeste wat die vorige jaar geslag is. Daar is begroot om 50 000 beeste te slag.

Noord van die Rooilyn is 4 607 beeste in 2023-’24 verkoop vergeleke met die 3 779 wat in 2022-’23 geslag is.

Die gemiddelde gewig per karkas suid van die Rooilyn het in 2023-’24 gestyg tot

259 kg vanaf die 252 kg in 2022-’23. Noord van die Rooilyn het die gemiddelde gewig per karkas egter van 208 kg in 2022-’23 tot 156 kg in 2023-’24 gedaal.

Die deurvoertonnemaat suid van die Rooilyn het vanaf 8 588 ton tot 28 254 ton toegeneem, terwyl dit noord van die Rooilyn vanaf 772 ton tot 866 ton gestyg het.

“Die styging in produsentepryse is aangedryf deur die beperkte aanbod van beeste wat gereed was om geslag te word en die vraag na premies vir kredietrisiko deur produsente,” lui die verslag.

Die verslag sê voorts Meatco het strategieë ontwikkel om kredietrisiko’s beduidend te verlaag en het ook alternatiewe verskaffingstrome vir beeste ingestel.

Dié strategieë sal lei tot verhoogde verskaffing van slagbeeste, gestabiliseerde pryse en uiteindelik verbeterde winsmarges.

“Vanaf die 2024-’25-finansiële jaar sal Meatco volle beheer oor die bemarkings- en verkoopfunksies in al sy markte hê.”

Dit sal die maatskappy in staat stel om ware prysherstel te verken.

Die gemiddelde produsentepryse suid van die Rooilyn het vanaf N$61/kg in die 2022-’23-boekjaar tot N$62/kg in 2023-’24 gestyg. Dié styging is grootliks gedryf deur mededinging vir die beperkte aanbod van slagbeeste. Die gemiddelde produsentepryse noord van die Rooilyn het vanaf N$34/kg in 2022-’23 tot N$37/kg in 2023-’24 gestyg.



OMSIGTIGE BESTEDING

Luidens die verslag is Meatco daartoe verbind om omsigtige besteding oor al sy sake-eenhede toe te pas om doeltreffendheid te verbeter.

“Die bestuur van uitgawes sluit in die bestuur van administratiewe koste, die interne gebruik van dienste wat uitgekontrakteer word, die bestuur van oortyd in produksiegeriewe deur ’n blokstelsel vir verslagting asook die belyning van die organisatoriese stelsel.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer