Meer opsies vir invoer van ruvoer van SA

LPO ondersteun riglyne
Invoerders moet 'n aanbeveling van 'n provinsiale staatsveearts in Suid-Afrika kry dat die plaas van oorsprong aan die Namibiese veeartsenykundige invoervereistes voldoen voor die uitreiking van veeartsenykundige invoerpermitte.
Francoise Steynberg
Die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) is verheug dat daar nou weer opsies vir veeboere is om ruvoer vanuit Suid-Afrika na Namibië in te voer.

Dit volg na die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, water en grondhervorming se aankondiging vandeesweek oor gewysigde invoerrvereistes vir lusern en hooi vanaf Suid-Afrika.

“Die LPO spreek sy waardering uit teenoor DVS wat tesame met LPO-verteenwoordigers en ander rolspelers in die bedryf sedert Desember 2023 moontlikhede ondersoek het om oplossings te probeer vind vir die droogtepenarie waarin ons onsself bevind,” het die voorsitter Jako van Wyk aan Network Media Hub gesê.

“Invoerders word aangeraai om aansoek te doen vir veeartsenykundige invoerpermitte by die veterinêre invoer/uitvoerbeheerkantoor,” het die waarnemende hoofveeartsenybeampte, dr. Johannes Shoopala in ‘n mediaverklaring gesê.

“Daar moet kennis geneem word dat invoerders 'n aanbeveling van 'n provinsiale staatsveearts in Suid-Afrika moet kry dat die plaas van oorsprong aan die Namibiese veeartsenykundige invoervereistes voldoen voor die uitreiking van veeartsenykundige invoerpermitte.”

Van Wyk het bevestig die LPO ondersteun die riglyne vir die invoer ter ondersteuning van die dieregesondheidstatus in Namibië.

Talle boere is tydens die droogte gekniehalter weens die invoerproses wat onderhewig was aan streng kwarantynregulasies wat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) vir lande met erkende siektevrye sones ingestel het. Dit volg nadat die uitbreking van bek-en-klouseer in sekere Suid-Afrikaanse provinsies in 2022 biosekuriteitsmaatreëls laat verskerp het.

Die gebrek aan lusern is boonop vererger toe die Hardapskema by Mariental wat die lusernmandjie van Namibië is, se krane op 31 Oktober toegedraai is toe die Hardapdam se vlak 'n rekordlaagtepunt bereik het. Die laaste lusern is van die skemalanderye geoes en is verlede week op Mariental uitverkoop.

Vir meer inligting kan invoerders vir drs. Visitorina Benhard of Liyemo Mahoto by 061 2087890/1/2 kontak, of stuur 'n e-pos na [email protected], Visitorina. [email protected] of [email protected].

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!