Die NAB stel die plaaslike prys van mielies op ’n tweeweeklikse basis vas, met die hoogste van die twee – die Safex geweegde gemiddelde prys of die gestapelde vloerprys – wat die heersende aankoopprys vir mielies is. Foto Pexels.com
Die NAB stel die plaaslike prys van mielies op ’n tweeweeklikse basis vas, met die hoogste van die twee – die Safex geweegde gemiddelde prys of die gestapelde vloerprys – wat die heersende aankoopprys vir mielies is. Foto Pexels.com

Meulenaars onder druk

Akkerbouers wag dalk maande vir geld
Boere, banke en ondernemings wat produksielenings uitgee, is bekommerd dat hulle vanjaar heelwat langer sal moet wag om hul geld te ontvang en terug te kry.
Elvira Hattingh
Terwyl mielieboere binne twee weke met hul mielie-oeste moet begin, sal hulle nou dalk so lank as November moet wag om betalings vanaf die land se grootste meulenaars te ontvang.

Dit hang egter alles af van die model waarop die Namibiese Akkerbouraad (NAB) die tweeweeklikse aankoopprys vir mielies sal vasstel. In die geval waar die aankoopprys op die Safex geweegde gemiddelde prys vasgestel word, sal mielieboere vir hul geld moet wag totdat hul oeste gemaal kan word.

Dit beteken die akkerboubedryf kan dalk vir etlike maande sonder soveel as N$323 miljoen moet klaarkom, terwyl meulenaars hulle daarop toespits om hul eie kontantvloei te beskerm.

Dit kom terwyl vanjaar se nasionale oesskatting op sowat 85 400 ton staan, ná ’n rekordoes van sowat 94 000 ton witmielies in 2022. Terselfdertyd nader Namibië die punt waar die land in 50% van sy eie behoefte aan witmielies sal kan voorsien.

“Met dit alles in ag geneem, moet daar kennis geneem word van die druk wat dit op die kontantvloei van groot meulenaars plaas,” het Elfrieda Roos, operasionele bestuurder van die meulens by Namib Mills aan Republikein gesê.

Sy het bygevoeg dat die volume van die Namibiese mielie-oes jaar-op-jaar vergroot het.

“Waar groot volumes mielies gewoonlik binne ’n tydperk van twee tot drie maande aan meulens gelewer word, word dit oor ’n tydperk van ses tot agt maande verwerk,” het sy verduidelik.

Die NAB se akkerboubestuurder en markontwikkelaar, Loyde Uahengo, het gesê die raad kan nie tussenbeide tree nie omdat hierdie ’n ooreenkoms tussen die akkerbouer en die meulenaar is. Sy het gesê daar is ook kleiner meulenaars wat dalk oeste sal opkoop.

KONTANTVLOEIKRISIS

“Ons sit met ’n krisis in die mieliebedryf,” het Gerhard Engelbrecht, voorsitter van die Akkerbouprodusente-vereniging (APV), in reaksie op die nuus aan die koerant gesê.

“Wat dit prakties beteken is jy gaan nou dalk tot November toe moet wag vir al jou geld. Die banke en maatskappye wat produksielenings uitgee, spring op en af. Boonop sit ons met ’n erge droogtejaar,” het hy gesê.

“Die grootste meulenaars soos Namib Mills en Bokomo het 70% van die markaandeel in Namibiese witmielies. Ander, kleiner meulenaars het sowat 30% se aandeel en koop veel stadiger.”

Hy meen dit beteken vanjaar sal die grootste meulenaars ongeveer 58 000 ton witmielies opkoop.

“Teen sowat N$5 500 per ton, kom dit neer op sowat N$323 miljoen wat hulle eindelik behoort uit te betaal. Op twee weke se kennis, net voor ons begin stroop, het die akkerboubedryf nou gehoor hulle sal dalk maande lank hiersonder moet klaarkom,” het Engelbrecht gesê.

Hy sê betaling met lewering het altyd verseker boere kon hul rekeninge betaal, weer kunsmis aankoop en dalk weer koring plant en voortgaan met hul boerderye.

Banke en landbou-organisasies wat produksielenings uitgee, maak daarop staat dat hulle gewoonlik tussen Mei en Julie hul geld terugkry, waarna hulle vanaf April produksielenings vir koring uitleen, het hy gesê.

Intussen het Agra, wat van die grootste produksielenings in die land uitgee, aan Republikein bevestig hulle is bewus van die situasie.

“Ons het daarvan kennis geneem, maar sal nie nou enige kommentaar lewer nie,” het Agra se bemarkingsbestuurder, Chrislemien Ströh, gesê.

PRYSE MAAK SAAK

Roos het verduidelik hoe gou Namib Mills akkerbouers betaal, sal afhang van die NAB se besluit oor die mielieprys.

Die NAB stel die Namibiese prys van mielies op ’n tweeweeklikse basis vas, met die hoogste van die twee – die Safex geweegde gemiddelde prys of die gestapelde vloerprys – wat die heersende aankoopprys vir mielies is.

“In die geval waar die prys op die gestapelde vloerprys gebaseer word, sal Namib Mills die mielies met aflewering aankoop by ons silo’s in Windhoek of Otavi. Dan sal betaling binne ’n maksimum van 14 dae plaasvind – ingevolge die bemarkingsooreenkoms vir plaaslike witmielies.

“Dit is net soos dit in die verlede plaasgevind het. Tot op 28 Mei het die NAB die aankoopprys op die gestapelde vloerprys gebaseer.

“As die prys egter op die Safex geweegde gemiddelde prys gebaseer word, sal Namib Mills die mielies by beide silo’s aankoop volgens ons meulenaars-vereistes.

“Vir die 2023-oesseisoen kan ons verwag dat die prys sal wissel tussen die bogenoemde twee prysmeganismes,” het sy gesê.

Roos sê Namib Mills kan sowat 600 ton mielies per dag maal, maar dat die mark se vraag daarna eindelik hul meulens se kapasiteit bepaal en hoeveel volumes gekoop kan word wanneer die aankoopprys op Safex gebaseer word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!