• Tuisblad
  • Landbou
  • Minister regverdig 37 gesinne op enkele boerdery-eenheid
Calle
Calle

Minister regverdig 37 gesinne op enkele boerdery-eenheid

Ondersteuning van kritieke belang, sê Schlettwein
Die plaas het 'n drakapasiteit van 212 grootvee-eenhede, wat dit geskik maak vir die hoeveelheid vee wat die hervestigde begunstigdes besit.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit - ’n Plaas van 2 835 hektaar in die Otjozondjupastreek wat gekies is om 37 gesinne op te hervestig, is voldoende as begunstigdes dit tot sy maksimum potensiaal benut.

So het Calle Schlettwein, die minister van landbou, water en grondhervorming, gesê in reaksie op vrae wat in die parlement geopper is oor die hervestiging van die gesinne van die Hochfeld-omgewing na Plaas Otjisazu No 53 in die Otjozondjupastreek in Maart 2015.

“Die hervestiging van 37 gesinne op ’n enkele boerdery-eenheid is dus in lyn met die hervestigingsbeleid en is al voorheen [met] baie ander gesinne in verskillende streke gedoen.”

Schlettwein het gesê hervestiging behels die vrywillige verskuiwing van individue uit ’n gebied met marginale landboutoestande en swak maatskaplike infrastruktuur na ’n plek of gebied wat deur die regering aangewys is waar beter grond en maatskaplike geriewe voorsien kan word.

“Die regering sal mense wat in aanmerking kom hervestig op maniere wat institusioneel, sosiologies, ekonomies en omgewingsvolhoubaar is, en op so ’n manier dat hulle selfonderhoudend word.”

BETER ONDERSTEUNING

Schlettwein het gesê die wet op kommersiële landbougrondhervorming is die belangrikste wetlike raamwerk wat die vervreemding van kommersiële landbougrond reguleer.

Die minister het verduidelik die nasionale hervestigingsbeleid van 1998 is ontwikkel met die hoofdoel om setlaars selfstandig te maak in terme van voedselproduksie, selfstandige indiensneming en vaardighede om ’n inkomste te genereer.

Die beleid is hersien om voorsiening te maak vir verskillende hervestigingsmodelle en beter ondersteuningspakkette.

NA HERVESTIGING

Met ’n drakapasiteit van 212 grootvee-eenhede op Plaas Otjisazu, was dit voldoende vir die 59 beeste, 170 bokke en 24 skape wat die begunstigdes ten tyde van hervestiging besit het.

“Daarom is die 37 uitgesette gesinne van Hochfeld as ’n groep op die enkele boerderyeenheid hervestig,” het Schlettwein gesê.

Die minister het die noodsaaklikheid beklemtoon om ondersteuning ná hervestiging aan die gesinne te verskaf, insluitend infrastruktuur vir watervoorsiening, opleiding en die aanvang van projekte om ’n inkomste te genereer.

“Ander groepe mense stig regsentiteite, soos koöperasies, om voordeel te trek uit hervestiging as groepe. Ons is dus bly om soveel mense as moontlik deur hervestiging te akkommodeer.”

Schlettwein het gesê die plaas het onder meer die potensiaal vir gewasproduksie.

“Ons moet onthou ons het soveel grondlose Namibiërs wat grond nodig het. Die fokus moet dus daarop wees om ondersteuning te bied aan diegene wat reeds hervestig is en om te verseker dat meer mense hervestig word.”

ELKEEN SE ROL

Die onlangs goedgekeurde hersiene nasionale hervestigingsbeleid van 2023 bevorder die afbakening van kleiner boerdery-eenhede, ongeveer 100 hektaar elk, onder sy laewaarde-model.

Schlettwein het gesê hierdie benadering maak voorsiening vir die akkommodasie van meer begunstigdes wat minder vee besit en daarin belangstel om ander landbou- of nielandbou-projekte wat inkomstegenererend is na te streef.

“Die beleid stel nuwe hervestigingsondersteuningspakkette bekend. Ons sal dus verskillende belanghebbendes, soos Agribank, betrek om sy rol te speel om produktiwiteit op hervestigingsplase te verseker.”

Schlettwein het ook verduidelik dat die ministerie nie plaasskuld aan hervestigde begunstigdes oordra nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer