‘n Hart vir ‘n boerboel

Teler gesels oor sy topgenetika
Liefhebbers van die boerboelras beskryf hul troeteldiere as liefdevolle honde wat beide huishonde, maar ook waghonde kan wees.
Elvira Hattingh
“Ek dink elke teler sal graag die perfekte boerboel wil teel. As daar ‘n perfekte een is, sal dit die een wees wat die naaste aan die rasstandaard is.”

Só gesels BJL Boerboele se Joewina Lange, wat saam met haar man, Ben, net buite Windhoek op Kappsfarm met dié besonderse honderas teel. Sy sê laggenderwys dat die perfekte boerboel nog nie geteel is nie.

‘n BJL-boerbol word nie net verkoop nie; jy word gekeur voor jy een kan besit. Van die teelhonde se afstammelinge woon tans so ver as Skotland.

Die Langes teel nie op grootskaal nie.

“Ons teel drie tot vier werpsels per jaar. Ons kombinasies word lank vooruit beplan en is reeds volbespreek voordat die dekkings plaasvind.

“Ons het ‘n keuringsproses vir kopers om op die waglys te kom. Ons verkoop plaaslik, maar van ons honde is in Suid-Afrika sowel as Europa, meer spesifiek Skotland. Ons teel streng volgens die ou boerboel-rasstandaard en ons honde kom uit van die eerste bloedlyne.”

“Die ras op sigself is ‘n wonderlike ras.

“Hulle kan huishonde wees, maar ook waghonde. Wat meer wil jy hê?” vra sy.

AGTERGROND

BJL Boerboele het 26 jaar gelede hul eerste boerboel gekoop.

“Ná sy dood het ons weer een aangeskaf, dié keer van die ou Rosettaville-telery hier in Namibië. Hy was ‘n fantastiese boerboel en het tien jaar oud geword.

“Toe het die idee om te teel begin posvat. Ons het toe boerboele vanuit Suid-Afrika aangekoop. Ons het kursusse begin bywoon en aan skoue begin deelneem, plaaslik sowel as in Suid-Afrika.

“Nasionale skoue in Bloemfontein, Parys en Bredasdorp het gevolg waar ons boerboele baie goed presteer het. So het BJL Boerboele ontstaan.

“Korrekte teling is ‘n lang proses en daar is geen kort paaie nie. Elke dag leer ons iets nuuts,” vertel Lange.

TELERY

Die Langes is lede van die Suid-Afrikaanse Boerboeltelersvereniging (SABBS), waarvan die hoofkantoor in Bloemfontein geleë is.

“Ons visie is om altyd beter te teel. Verbetering met elke werpsel is belangrik,” verduidelik sy.

Lange verduidelik dat die teel van honde in verskeie opsigte van die van byvoorbeeld skape, beeste, of perde verskil.

“Jy is meer in direkte kontak met die honde, die sosialisering van jou honde is baie belangrik, asook opleiding wat gehoorsaamheid insluit. Ook met voedings: By ons word elke hond se kos afgeweeg volgens sy gewig en daaglikse behoefte,” verduidelik sy.

Enige persoon kan ‘n teler wees, maar die klem moet lê om ‘n gerespekteerde, geregistreerde teler te wees. Daarom is dit belangrik om by ‘n telersvereniging aan te sluit, jou stoetnaam te registreer en die rasstandaard te bestudeer en toe te pas.

“Telery moet vir jou ‘n passie wees, dit neem baie jare om ‘n bloedlyn te bou en generasies te teel. Jy moet met ‘n visie teel.

“Dis belangrik om te teel met boerboele wat jou ‘n paar generasies vorentoe kan vat, met ‘n goeie temperament, gesondheid en honde met ‘n lang lewe en so min as moontlik afwykings.

“Nie elke boerboel is noodwendig ‘n teelhond nie, dis belangrik om te kan onderskei tussen teelkwaliteit en net ‘n troeteldier.”

Die voordele daarvan om aan ‘n vereniging te behoort, is hul databasis. Ons gebruik Logix. Kombinasies kan uitgesoek word en werpsels word aanlyn opdateer. Die stelsel wat sedert 2017 in werking is, ook genoem die Lineer-keurstelsel, laat jou as ‘n teler toe om te sien waar jy in jou telery moet verbeter en waar tekortkominge is. Elke dier en stoet kry teelwaardes, sê sy.

Nog ‘n voordeel is om met ander telers in verbinding te kan tree en op hoogte te kan bly oor wat in die ras aangaan deur nuusbriewe, kursusse en keuringsdae wat aangebied word.

BOERBOELE IN NAMIBIë

Daar is tans 16 Suid-Afrikaanse Boerboeltelersvereniging (SABBS)-lede in Namibië, waarvan net agt aktiewe telers is.

“Die ongeregistreerde telery van boerboele wêreldwyd rig baie skade aan die ras en genepoel aan,” sê Lange.

“Daar is gewoonlik een of twee plaaslike keuringsgeleenthede per jaar. Dan kom ‘n keurder uit Suid-Afrika om die honde te keur en slypskole aan te bied.”

Lange sê boerboele is ‘n ongelooflike honderas.

“Hulle is baie lief vir hul mense en uitstekende waghonde. Moet nie oornag besluit jy wil ‘n boerboel aanskaf nie. Maak seker dat die teler waar jy wil koop, eerlik is en goeie waarde vir jou geld sal bied. Doen navrae by eienaars wat reeds van die teler se honde gekoop het. Vra baie vrae en doen genoeg navorsing voor jy ‘n besluit neem,” sê sy.

Meer besonderhede oor BJL Boerboele kan op hul Facebook-blad “BJL Boerboele – Namibia” of Instagram-blad “bjlboel” gevind word, waar hulle gereeld foto’s en nuus oor die ras en hul honde deel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!