Namibië se skaapkudde is die tweede grootste groep, met boere suid van die VCF wat meer as 1,164 miljoen skape aanhou. FOTO PIXABAY.COM
Namibië se skaapkudde is die tweede grootste groep, met boere suid van die VCF wat meer as 1,164 miljoen skape aanhou. FOTO PIXABAY.COM

Namibië se beeskudde 2,5 miljoen sterk

Syfers van nasionale veesensus bekend
Terwyl die meeste beeste en skape suid van die VCF voorkom, huisves die noordelike kommunale gebiede die grootste aantal bokke.
Elvira Hattingh
Die Otjozondjupa- en Ohangwenastreek is die tuiste van Namibië se grootste beesbevolkings, terwyl die Hardap- en ||Kharasstreek die hart van die land se skaapboerderye vorm.

Dit volgens die nasionale veesensus van 2021, waarvan die uitslae die afgelope week aan die media bekend gemaak is.

Namibië se nasionale beeskudde is 2,514 miljoen sterk, met meer as 1,356 miljoen beeste, of 54% van die nasionale kudde – wat suid van die veterinêre kordonheining (VCF) voorkom.

Volgens die veesensus is daar meer as 1,157 miljoen beeste wat noord van die VCF aangehou word. Dit is sowat 46% van die nasionale kudde.

Suid van die VCF is daar tydens die sensus sowat 796 948 beeste in die Otjozondjupastreek getel, 299 990 in die Omahekestreek en 126 394 in die Khomasstreek.

Die gebiede noord van die VCF met die sterkste beesgetalle is onder meer die Ohangwenastreek, met sowat 303 318 beeste. Daarnaas huisves die Oshikotostreek - in die Omuthiya-omgewing - sowat 198 270 beeste. In die Zambezi is daar 183 069 beeste.

KLEINVEE

Namibië se skaapkudde is die tweede grootste groep, met boere suid van die VCF wat meer as 1,164 miljoen skape aanhou. Noord word sowat 119 313 skape aangehou.

Die sterkste skaapproduserende gebied is die Hardapstreek, met altesaam meer as 486 000 skape wat getel is, gevolg deur die ||Kharasstreek, waar die skaapbevolking sowat 340 306 stuks sterk was.

As dit egter by bokgetalle kom, spog boere noord van die VCF met ‘n kuddesyfer van 705 877 teenoor die bek-en-klouseervrye sone, wat 594 298 bokke huisves.

Die land se sterkste bokproduserende gebiede is die Omusatistreek, met ‘n bokbevolking van sowat 232 552, gevolg deur Otjozondjupa met 194 461 bokke.

Noord van die VCF huisves die Oshikotostreek ‘n bokkudde van 176 313 koppe, gevolg deur Oshana met 117 012 bokke.

Anders as met skape, huisves die suidestreke heelwat minder bokke – onderskeidelik 86 040 bokke in die ||Kharasstreek en 50 982 in Hardap.

VARKBEVOLKING

Noord en suid van die VCF is daar bykans ewe veel varke, met ‘n nasionale kudde van meer as 93 000. Outapi is die gebied in die land wat die meeste varke huisves – met ‘n bevolkingsgetal van 17 456 “agterplaas varke” op meer as 600 plekke.

By Ondangwa is daar sowat 8 247 varke en by Eenhana 11 332.

In die Hardapstreek, by onderskeidelik die Hardap-kleinhoewes asook by Mariental, is daar ook groot varkplase, met meer as 25 000 varke. By Tsumeb en Okahandja word onderskeidelik 6 573 en 10 250 varke gehuisves.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer