Namibiese wild kry nuwe tuiste
Kameelperde, koedoes hervestig in Angola
Die wild wat hervestig word, word op plase in die Noorde gevang.
Vier kameelperde en agt koedoekoeie van Namibië is deur die Cuatir Conservation-projek in Angola hervestig.
Dit is die tweede keer dat Wildlife Vets Namibia – onder leiding van dr. Ulf Tubbesing – wild na dié projek se reservaat neem.
Die eerste diere wat sebras, impalas, elande, koedoes en kameelperde ingesluit het, is in 2020 na die gebied van 40 000 hektaar geneem.
Volgens Tubbesing se assistent, Mariska Bijsterbosch, is die bewaringsprojek in die Cuando-Cubango-gebied in Angola geleë.
“Dit behoort aan die Namibiër Stefan van Wyk wat baie saam met Ulf in Namibië gewerk het voordat hy die projek begin het. Dit is ‘n groot gebied wat grootliks ongerep is,” het sy gesê.
LANGAFSTAND-HERVESTIGING
Tubbesing is al jare by die hervestiging van wilde diere betrokke en het ervaring oraloor suidelike Afrika opgedoen.
“Ons neem wild na reservate en private wildplase en ons help om sulke plekke in hoofsaaklik Angola en die DRK [Demokratiese Republiek die Kongo] op te rig. Ons neem slegs deel aan projekte wat tot bewaring bydra. Dus bring ons diere slegs na geskikte habitatte waar hulle vrylopend is. Ons spesialiseer in langafstand-hervestiging, met ons langste reis wat tot dusver 3 200 km was, net in een rigting.”
Die diere wat Wildlife Vets in 2020 na die projek geneem het, pas baie goed aan. Verskeie kalwers en lammers is reeds gebore.
“Die kameelperde wat ons dié keer gebring het, het almal 'n sonkrag-aangedrewe GPS-oorplaatjie wat deur die Kameelperdbewaringsfonds (GCF) verskaf is. Een van die koedoekoeie het ook 'n GPS-oorplaatjie gekry sodat ons ook haar trop kan volg.”
Die wild wat hervestig word, word op plase in die Noorde gevang. Wildlife Vets kyk na plase waar daar te veel diere is en wat of deur uitdunning of vangste verminder moet word. In die geval is al die diere op Mount Etjo Safari Lodge gevang.
“Vir langafstand-hervestiging gee ons die diere ligte verdowing. Dit gee ons die kans om jong, sterk individue te kies. Jong diere vervoer makliker en pas makliker by ‘n nuwe omgewing aan. Ons kan hulle ook ’n vitamien- en mineraalaanvulling gee, hulle teen bosluise, wurms en vlieë behandel, en ‘n langwerkende kalmeermiddel toedien.
“Dit hou sowat vyf tot sewe dae en neem die meeste van die spanning tydens die vervoerproses weg. Dit verhoog ook die diere se eetlus, wat ons wil hê. Ons neem voer van hoë gehalte op hierdie lang reise saam. Ons wil hê die diere moet in ‘n goeie kondisie wees voordat hulle vrygelaat word.”
Volgens Bijsterbosch is die logistieke proses en dokumentasie die uitdagendste deel van elke hervestiging.
“Ons ervaar probleme wanneer ons sekere dokumente nodig het om ander dokumente te kry. Dikwels het dié dokumente ‘n vervaldatum. Dus, teen die tyd dat ons uiteindelik die dokument kry, het die ander een verval en die hele proses moet van voor af begin.
“Sodra die papierwerk uitgesorteer is, moet alles gereël word sodat alles so glad as moontlik verloop. Ons moet ’n plek hê om die diere te vang, ons trokke moet gereed wees, die dokumentasie moet in orde wees, die Namibiese staatsveearts moet gereed wees om die trokke te seël, die grensbeamptes van beide lande moet gereed wees wanneer ons aankom en die ontvanger moet gereed wees.
“Vandat ons die diere vang, moet al die prosesse so glad as moontlik verloop, sodat die diere so vinnig en met so min stres as moontlik vrygelaat kan word.”
GRENSPOSTE
“By die Namibiese grens gaan dit gewoonlik redelik vinnig, maar by die Angolese of Zambiese grense kan dit ‘n nagmerrie raak.
“’n Mens probeer die meeste van die dokumentasie vooraf gereed kry, maar dit kan steeds soms ’n hele dag vat.
“Ons moet die Namibiese en Angolese grensbeamptes by Katwitwe, waar ons hierdie keer oorgegaan het, ’n groot kompliment gee. Dit was die vinnigste grensoorgang wat ons nog gehad het, binne twee ure was ons op pad.
“Die volgende uitdaging is die paaie. Die paaie in Angola, Zambië en die DRK is dikwels in ‘n swak toestand, wat veroorsaak dat ons versigtig en stadig moet ry. Ons gebruik net ervare bestuurders wat weet hoe om diere te vervoer.
“As jy weet jy moet nog 1 500 km ry, en jy ry net 10 kilometer per uur as gevolg van die slegte paaie, is dit baie frustrerend, maar mens moet kalm bly en dit vat soos dit kom. Die afstand wat ons in Angola met ons laaste hervestiging moes aflê, was nie so ver nie, maar die pad was uitdagend.
“Ons het sanderige en modderige dele en talle slaggate gehad en moes verskeie kere van die hoofpad na sypaaie oorskakel. Ná sowat sewe uur en 106 kilometer, het ons by die Kavangorivier aangekom waardeur ons moes ry.
“Aangesien die laaste deel van die reis uit swaar sanderige paaie bestaan het, het 'n reuse- 6x6-vragmotor ons sleepwa gehaak.
“Die laaste 43 kilometer was selfs vir die 6x6 uitdagend, en ons het baie stadig gery. Ons is altyd bly om terug te wees op ons wonderlike Namibiese paaie.”
Volgens Bijsterbosch is die beste deel van enige hervestiging die oomblik wanneer die vragmotor se deure oopgemaak word.
“Die beste vrylating is wanneer die diere baie rustig uitstap, rondkyk en in hul nuwe tuiste instap. Die stres om die diere daar te kry, is in daardie oomblik vergete. Dit is die deel wat ons span die gelukkigste maak.
“Een van die beste vrylatings wat ons seker al gehad het, was verlede jaar in die DRK. Ons het die deure oopgemaak, die njalas het uitgekom, en terug in die vragmotor ingestap. Hulle het seker die voer geniet wat ons vir hulle gegee het. Toe stap die wildebeeste uit en begin ruik aan ‘n paar bosse reg voor die vragmotor. Die jong wildebeeste het toe omtrent 10 tot 20 meter weg van die vragmotors begin speel. Dit was ‘n spesiale oomblik,” het sy gesê.
“Ons vra altyd die nuwe eienaars om ons op hoogte te hou, en dis wonderlik as jy hoor die diere is gevestig en die eerste kalwers of lammers word gebore.
“Dit is belangrik om terugvoering te ontvang, watter spesies goed doen, in watter habitat hulle gevind word, wat hulle graag vreet – sodat ons kan leer vir toekomstige hervestigings.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie