NCS bespaar N$18 miljoen op voedselproduksie

Tanja Bause
Ellanie Smit - Die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) het daarin geslaag om oor die afgelope twee boekjare meer as N$18 miljoen op die produksie van voedsel by twee korrektiewe instansies in die Noorde te bespaar.

Die Divindu-gerief in Kavango-Oos en die Evaristus Shikongo-gerief in Oshikoto het voedselitems ter waarde van meer as N$20,9 miljoen vir die boekjaar vanaf Januarie 2022 tot Januarie vanjaar geproduseer.

Volgens die NCS het hulle vir die twee boekjare sowat N$10,1 miljoen op die produksie van mielies, koring, lusern, spesiale voergewasse vir beeste (“cow-candy”) en groente by die twee fasiliteite bestee.

Intussen het die NCS daarin geslaag om voedselitems ter waarde van meer as N$28,5 miljoen te produseer.

Dit beteken die tronkowerheid kon oor die afgelope twee boekjare sowat N$18,3 miljoen bespaar.

SUKSESVERHAAL

Die hoof van die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS), komm.genl. Raphael Hamunyela, het verlede week die twee aanhoudingsgeriewe besoek met die doel om plaasbestuuraktiwiteite te beoordeel en ’n oorsig van plaasmeganisasie in die korrektiewe stelsel te verkry.

Die twee geriewe is deel van die vier plase wat tuinbou- en landbougewasse sowel as vee vir gevangenes se rantsoene produseer.

Volgens die NCS het hulle die behoefte geïdentifiseer om voedsel self te produseer en om landbouvaardighede aan te bied vir gevangenes se rehabilitasie en herintegrasie in die sameleweing, asook om selfvoorsienend te wees.

Die NCS het gesê gedurende hierdie seisoen is mielies oor altesaam 166,7 hektaar met sewe spilpunte by die korrektiewe gerief op Divundu geplant, groente op 16 hektaar wat onder mikrobesproeiing is, en 33 hektaar is onder vrugteproduksie.

Intussen is geelmielies oor 18,5 hektaar by die Evaristus Shikongo-gerief geplant, 1,5 hektaar is onder vrugteproduksie en 0,5 hektaar is met groente beplant.

Die gerief het ook 363 beeste, 242 bokke, 152 skape en vier perde.

Volgens die NCS was daar op 25 Januarie 1 334,38 ton mieliekorrels in voorraad by Divundu.

“Sodra hierdie mielies tot mieliemeel verwerk is, sal dit genoeg wees om alle korrektiewe instansies en polisie-aanhoudingselle wat naby ‘n korrektiewe gerief is, vir ’n tydperk van sowat een jaar vanaf Maart 2023 tot Februarie 2024 van mieliemeel te kan voorsien.”

Daar is ook 590,68 ton koring in voorraad wat tot broodmeel verwerk sal word en hierdie broodmeel is genoeg om alle korrektiewe instansies en polisiekantore vir sowat een jaar en vier maande - vanaf Maart 2023 tot Junie 2024 - van meel te voorsien.

Die NCS het gesê daar is ook 21 ton geelmielies en 3 075 kg lusernbale in voorraad by die Evaristus Shikongo-instansie - wat genoeg is om die diere tot in Junie vanjaar te voer.

Die Divundu-fasiliteit voorsien alle korrektiewe instansies van mieliemeel en broodmeel. Die gerief verskaf ook mieliemeel en brood aan die Divundu-, Ndiyona- en Omega-polisiekantore.

Volgens die NCS word die broodmeel wat aan korrektiewe instansies verskaf word, ook deur gevangenes daar gebruik om hulle eie brood te bak. Dié brood word dan ook na polisieselle naby enige van die 14 aanhoudingsgeriewe versprei.

Intussen verskaf die Evaristus Shikongo-aanhoudingsgerief beesvleis, lemoene, suurlemoene en naartjies aan alle korrektiewe instansies.

Die fasiliteit verskaf ook skaapvleis en bokvleis aan die korrektiewe dienste se Lucius Mahoto-opleidingskollege.

“Ek is baie beïndruk met die produksie by die twee geriewe; hulle kommunikeer net uitdagings en klagtes aan die hoofkwartier, maar met hierdie besoek het ek die vordering in die voedselproduksie opgemerk en ek is trots op die prestasies,” het Hamunyela gesê.

Hy het ook verwys na die toekomsplanne om pluimvee- en varkvleisproduksie by Evaristus Shikongo te begin.

“Ons voel as die korrektiewe dienste is dit ook ons verantwoordelikheid om meer koring, mielies, groente en veevoer te produseer - nie net vir die gevangenisse nie, maar om honger en armoede onder Namibiërs te verminder.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!