Neckartal-projek het ’n tekort van N$2 miljard
Konsensus benodig om voort te gaan
Toe die besproeiingskema vir die eerste keer ontwikkel is, was geld geredelik beskikbaar, maar die projek is in sy spore gestuit namate finansiële hulpbronne afgeneem het.
Ellanie Smit – Om die Neckartaldam-besproeiingskema te finaliseer benodig die regering ’n bykomende N$2 miljard.
So het die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schettwein, verlede week tydens ’n bespreking met belanghebbendes op Keetmanshoop gesê toe hy oor die Neckartaldam-projek se ontwikkelingsplanne uitgebrei het.
Hy het gesê toe die projek begin is, was geld geredelik beskikbaar, “maar ons is in ons spore gestuit omdat ons geld opgeraak het”.
Die minister het bygevoeg dat geld in die stadium “nog nie geredelik beskikbaar is nie. Maar ons glo die projek is te belangrik om daardeur gestuit te word. Ons moet die projek aanpak met die wete dat finansiering nog nie verseker is nie,” het ’n optimistiese Schlettwein gesê en bygevoeg dat die regering reeds sowat 11 000 hektaar grond gekoop het, waarvan 4 000 hektaar as geskikte besproeiingsgrond geïdentifiseer is.
KONSENSUS
Volgens Schlettwein moet konsensus tussen alle belanghebbendes oor die module en finansiering vir die beoogde 5 000 hektaar Neckartaldam-besproeiingskema eers bereik word voordat dit ontwerp kan word.
Hy het gesê ’n moontlike manier waarop grond verdeel kan word, is om die bestaande groenskema-module by dié skema te gebruik.
“Jy het dan een groot boerdery-operateur, ’n paar mediumgrootte boerderybedrywighede en ook kleinskaalse boerderybedrywighede onder dieselfde groenskema,” het hy verduidelik.
’n Ander module kan dit onderverdeel in verskeie groenskemas waar slegs kleinskaalse operateurs op een of slegs grootskaalse operateurs op ’n ander werk.
“Daar is baie moontlikhede, maar konsensus moet bereik word oor watter module die mees lewensvatbare opsie is vir ekonomiese ontwikkeling.”
Hy het gesê voordat konsensus nie bereik is oor watter module gebruik moet word nie, kan die besproeiingskema nie ontwerp word nie en daar kan ook geen planne gemaak word oor waar om die infrastruktuur op te rig nie.
Hy het gesê met die kapasiteit om meer as 800 miljoen kubieke meter water te hou, het die dam drie reënseisoene nodig om dit te bereik.
“Ons was verras toe dit net in een seisoen vol geloop het. Maar moenie geflous word nie; vanjaar het die dam net 6 miljoen kubieke meter invloei ontvang.”
Volgens hom is dit minder as 10% van sy totale volume.
“As ons dus normale invloei van slegs 6 miljoen kubieke meter water kry, sal dit 12 jaar neem om vol te raak. Maar dit is die aard van ons streek hier; dit is droog en reënval is wisselvallig.”
Schlettwein het verduidelik die ontwerp van die besproeiingskema is om ’n veilige watertoevoer vir minstens drie jaar te hê, sonder enige invloei in die dam.
Hy het gesê dit is ’n belangrike aspek.
“Ons kan nie die volle 800 miljoen kubieke meter water in een jaar opgebruik nie, want dan is ons die volgende jaar gestrand, dan het ons geen water nie. So, die ontwerp is nou gebaseer op ’n driejaar-watersekerheidsplan.
MARKTE
Deur die grootte van die Neckartaldam-besproeiingskema in konteks te plaas, het hy gesê dit is gelykstaande aan sowat sewe tot agt groenskemas in een.
Die groenskemas in die Noorde langs die Kavangorivier en die Kunene het gemiddeld sowat 800 hektaar onder besproeiing, het die minister gesê.
Hy het benadruk dat die besproeiingskema ’n surplus moet lewer omdat dit te groot is vir die binnelandse mark.
“Ons sal te veel produseer. As die projek behoorlik bestuur word, kan die plaaslike mark nie alles absorbeer wat geproduseer word nie. Dus moet ons mikpunt die uitvoer van produkte wees nadat die plaaslike mark versadig is.”
Hy het gesê dit is ’n belangrike oorweging aangesien dit die keuses sal beïnvloed van watter gewasse geplant moet word en watter markte om na uit te voer, verwerkingsvermoëns en hoe om die waardeketting te ontwikkel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie