Akkerbouers in die Mieliedriehoek is tans besig om te stroop. FOTO TER ILLUSTRASIE.
Akkerbouers in die Mieliedriehoek is tans besig om te stroop. FOTO TER ILLUSTRASIE.

Nie alle mielieboere het rekordoeste

Elvira Hattingh
Terwyl sommige mielieprodusente reeds klaar geoes het en met rekordoeste spog, is daar ander wat deur vanjaar se laat reënseisoen belemmer is en boonop sukkel om hul vragte aan meulenaars te lewer.

Claudia Dohmen, ʼn akkerbouer in die Mieliedriehoek, sê nie almal in die omgewing het goeie oeste nie as gevolg van die reën wat laat geval het en mieliekoppe wat nie behoorlik kon ontwikkel nie. Sy sê sy en nog twee ander akkerbouers in die omgewing het net sowat 2 ton per ha gestroop, wat ondergemiddeld is.

“Ek weet daar word planne beraam om ons vragte te akkommodeer. Op die oomblik is ons almal egter gefrustreerd, want die silo’s is vol, die damme is vol – alles is vol en ons kan die mielies nêrens heen ry nie,” het Dohmen gesê.

Nog ‘n anonieme akkerbouer uit die Mieliedroehoek het laat weet dat sy erge teëspoed gehad het toe al haar mielies in Maart vanjaar deur ‘n haelstorm verwoes is.

Ander produsente lag al die pad bank toe.

“Elke boer verdien ‘n ‘eenmaal-in-‘n-leeftyd’ oes. Ek vermoed hierdie is so ʼn een.”

So gesels die akkerbouer Emil Jung van die plaas Johannestal in die Mieliedriehoek, waar stropery nou in volle gang is.

“Johannestal het nog nie so ʼn gemiddeld gehad nie – tans oes ons sowat 1,5 tot 2 ton per ha méér as die tien-jaar gemiddeld.

“Dit is dubbel die oes wat ons verlede jaar gehad het en ons verwag om die langtermyngemiddeld met 40% te oortref,” vertel Jung.

Terwyl die Namibiese Akkerbouraad (NAB) verwag dat die rekordboeke vir ʼn tweede jaar agtereenvolgens herskryf sal word met ʼn oesverwagting van 94 437 ton, die grootste in Namibiese geskiedenis, het die mielieprys in die eerste week van Julie digby N$6 400 per ton gedraai.

Die akkerbouer Stefan Tietz van die plaas Herrenhausen, ook in die Grootfontein-omgewing, sê hy is ook sowat halfpad met die stroopwerk. Alhoewel hy net ʼn gemiddelde oes van sy lande afhaal, is hy tevrede, want “die mielieprys is reg”.

OPONTHOUD

Terwyl akkerbouers in die Suide sê hulle het nie probleme om hul mielies te lewer omdat graansuiers vol is nie, is akkerbouers in die Mieliedriehoek in kennis gestel dat die bergingsgeriewe op Otavi nie meer mielies kan inneem nie aangesien dit vol is.

Terselfdertyd moet mielievragte rondgeskuif word tussen meulenaars omdat baie se jaarlikse kwota ook amper vol is.

Tietz sê hy wag ook op Otavi se graansuier om weer vragte te ontvang. “Ek het rondgebel; amper al die meulens is vol.” Hy is bekommer dat die mielies vog verloor of dalk gesteel word as dit in die damme geberg moet word.

Jung sê hy het noodgedwonge eers opgehou stroop.

“Hierdie week staan ons stil. Ek het gestroop tot my damme vol is, nou is daar nie veel meer wat ons kan doen nie, behalwe as om nuwe damme op te sit nie,” sê Jung.

“Op Johannestal is ek presies halfpad en ek stroop al twee weke lank.

“Toe Otavi vol is, het ons selfs lorries Windhoek toe gestuur. Hulle raak ook vol, want hulle neem mielies vanuit die Ooste en Suide in. Ons kan dus nie tans die mielies lewer nie – dit is ʼn groot oponthoud,” sê Jung.

Bernie Simon van die Hardapskema sê hy is reeds klaar met stroopwerk op sy mielielande en dat sy koring reeds geplant is. Hy het sowat 11 ton mielies per ha onder besproeiing geoes.

Hy sê alhoewel die Suide genoeg ruimte het vir die berging van hul mielievragte, beleef boere by die skema egter erge probleme met diefstal van hul gewasse. “Ons het ‘n probleem by die skema,” het hy gesê. Hy is ook bekommerd oor insetkoste. “Volgende jaar se diesel- en kunsmispryse sal maar bepaal of ons weer mielies gaan plant,” het hy bygevoeg.

Op die plaas Hartebeestloop is oesbedrywighede ook reeds teen einde Mei afgehandel, vertel Julia Alberts. Mielies word hier onder besproeiing verbou en Alberts sê hulle het nie in Mei probleme met lewering beleef nie.

INSETKOSTE

Jung sê boere kan tans nie oor die mielieprys kla nie.

“Hierdie jaar se prys is tot ons voordeel. Dit is dalk ons redding vir volgende jaar – die feit dat die prys goed genoeg is om van volgende jaar se insetkoste te kniehalter.

“ʼn Mens sal egter moet sien wat dit gaan kos om volgende jaar te plant,” het Jung gesê.

Insetkoste eis egter tans sy tol en akkerbouers is onder druk. “Dieselpryse gaan oor meer as net vervoer. Die olieprys het ʼn direkte invloed op die prys van kunsmis.

“Gaan daar volgende jaar nog stikstof wees? Ons weet nie. Ons wik en week alreeds – plant ons volgende jaar vol, gaan ons ʼn gedeelte sonneblomme of sojabone plant, of dalk iets heeltemal anders? Ons weet nog nie.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer