Rodney Hoxobeb (29) is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Foto Rita Kakelo
Rodney Hoxobeb (29) is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Foto Rita Kakelo

NLU verwelkom vonnis van plaasmoordenaar

‘Geregtigheid het geseëvier’
Die 29-jarige Rodney Hoxobeb is lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op 'n Omaheke-boer.
Francoise Steynberg
Die Namibië Landbou-unie (NLU) het die vonnis van Rodney Hoxobeb (29) tot 25 jaar tronkstraf in die hoërhof in Windhoek verwelkom vir die wrede moord drie jaar gelede op die Omaheke-boer, Christof Mberitjiua Mungunda.

“Hierdie beslissende uitspraak van regter Philanda Christiaan bevestig nie net Namibië se verbintenis tot geregtigheid nie, maar versterk ook die grondliggende waardes wat ons landbougemeenskap handhaaf: Vertroue, respek en die heiligheid van die lewe,” lui ’n verklaring van die NLU.

Die saak spruit voort uit Hoxobeb wat sy 66-jarige werkgewer op 16 September 2022 vermoor het waar hy op Mungunda se plaas by die Mberitjiwa-pos naby Tallismanus gewerk het.

Hoxobeb het skuldig gepleit op vier van die ses aanklagte teen hom, naamlik moord, roof met verswarende omstandighede, roekelose bestuur en bestuur sonder ’n geldige rybewys.

Hy het egter onskuldig gepleit op die aanklag van poging tot moord op sy medeplaaswerker, Jerry Shitani, wat hy na bewering met Mungunda se gesteelde Toyota-bakkie wou omry. Hy het ook onskuldig gepleit op die sesde aanklag van bestuur onder die invloed van alkohol.

Hoxobeb het tydens sy pleitverduideliking aan Christiaan gesê hy het die aand van die moord op sy werkgewer uit vergelding opgetree nadat hy vir kos gevra het.

Hy het getuig hy het aan Mungunda gesê daar is geen kos in sy sinkhuis nie, maar hy het egter geweier om Hoxobeb te help.

Toe hy Mungunda by ’n waterpomp sien staan het, het Hoxobeb hom glo verskeie kere met sy selfgemaakte bylhandvatsel oor sy kop en teen sy nek geslaan totdat hy ineengestort het.

Hoxobeb het glo hierna na Mungunda se huis gegaan waar hy na bewering verskeie items gesteel het waaronder sy Toyota Hilux-bakkie, selfoon, polshorlosie, beskuit en 12 blikkies vis.

Hoxobeb het in die hof erken hy het die gesteelde bakkie sonder ’n geldige rybewys en op ’n roekelose manier op ’n openbare pad bestuur.

Die NLU sê hy staan in eenheid met die familie, vriende en breër boeregemeenskap wat oor die verlies van wyle Mungunda treur.

“Sy dood was ’n diepgaande tragedie – ’n vertrouensbreuk, ’n verraad van ordentlikheid en ’n ontnugterende herinnering aan die werk wat nog nodig is om waardigheid, sekuriteit en regverdigheid te verseker vir almal wat op Namibiese plase woon en werk.”

Die NLU sê terwyl die unie die oppergesag van die reg en die hof se afgemete vonnis ondersteun, bly sy blik stewig op die toekoms gerig.

“Die NLU bly verbind tot die bevordering van inklusiewe landbou – waar alle belanghebbendes, ongeag agtergrond of posisie, gerespekteer en bemagtig word om betekenisvol tot Namibië se landbou-ekonomie by te dra.”

Om Mungunda se lewe te eer, “ondersteun die NLU veiligheid, geregtigheid en ’n gedeelde visie vir ’n florerende, vreedsame landbougemeenskap oraloor Namibië”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer