Maize
Maize

Nog 'n rekordjaar vir koring, mielies

Kommersiële oeste verras
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit - Namibië se koring- en witmielie-oeste het die afgelope oesseisoen nuwe rekords opgestel. Dit word beskryf as die grootste oes sedert die land met die aanplanting van die gewasse begin het.

Totale graanproduksie het egter ’n afname van 9% tydens die 2022–‘23-oesseisoen aangeteken vergeleke met verlede jaar se oes.

Dit is egter steeds 23% bo die tienjaar-oesgemiddeld.

KOMMERSIëLE OORVLOED

Oesskattings dui daarop dat die land 153 000 ton se graangewasse geoes het - wat laer is as die 168 200 ton wat in 2021-‘22 van lande afgehaal is, maar tog bo die tienjaar-gemiddelde produksie van 124 200 ton is.

Dit is volgens die Julie-verslag oor oesvooruitsigte, voedselsekerheid en die droogtesituasie wat deur die ministerie van landbou, water en grondhervorming vrygestel is.

"Sowat 80% van die graanoeste het vanuit die kommersiële gebied en groenskemas gekom, terwyl die kommunale gebiede 20% tot die nasionale graan-oes vir die 2022-‘23-seisoen bygedra het."

Luidens die verslag het beide mielie- en koringprodusente ’n groter oes in kommersiële gebiede aangeteken vergeleke met verlede seisoen asook met langtermyn gemiddeldes.

GROOTSTE MIELIE-OES

’n Mielie-oes van 98 800 ton is behaal, wat 9% meer is as verlede seisoen se produksie van 90 900 ton en 65% hoër as die tienjaar-gemiddelde oes van 59 900 ton.

“Uit die 98 800 ton mielies wat geoes is, is 45 649 ton (46%) op droëland verbou, terwyl 53 175 ton (54%) onder besproeiing gekweek is,” lui die verslag.

Volgens die Namibië Akkerbouraad (NAB) is dit die grootste hoeveelheid witmielies wat nog in die geskiedenis van mielieproduksie in Namibië geoes is. Die toename word toegeskryf aan 'n groter oppervlakte (meer hektare) wat deur kommersiële boere bewerk is.

KORING-OES

Daarteenoor het koringoeste gedurende die 2022–‘23-seisoen op 24 700 ton gestaan, wat ’n toename van 34% teenoor verlede seisoen se oes van 18 500 ton weerspieël en 130% hoër as die tienjaar-gemiddelde produksie van 10 800 ton is.

“Soos met die mielie-oeste in kommersiële gebiede, is dit ook die grootste koringoes in die geskiedenis van Namibië," het die NAB gesê.

Die verslag het bygevoeg dat mielie-oeste in die kommunale gebied (Zambezi-, Kavango-Oos- en Kavango-Wesstreek) op 6 800 ton staan, wat 15% laer is as verlede seisoen se oes van 8 000 ton, maar 29% meer as die tienjaar-gemiddelde produksie van 5 300 ton.

AFNAMES

Verder is 20 500 ton se mahangu tydens die afgelope seisoen geoes, wat 54% laer is as verlede seisoen se oes van 44 700 ton en 54% onder die tienjaar-gemiddelde oes van 44 500 ton.

Sorghum, aan die ander kant, het ’n oes van 2 200 ton gelewer, wat 'n aansienlike vermindering is en net sowat 64% van verlede seisoen se oes van 6 100 ton verteenwoordig. Dit is ook 41% laer as die tienjaar-gemiddelde oes van 3 800 ton.

“Hierdie afname in oeste word grotendeels toegeskryf aan die droogtetoestande en langdurige tydperke van droogte midde die 2022–‘23-seisoen,” lui die verslag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!