Dr. Job Amupanda. FOTO FACEBOOK
Dr. Job Amupanda. FOTO FACEBOOK

‘Noorweegse kwota het niks met politiek te doen’

Amupanda kry geen reaksie van Vleisraad, ministerie
'n Onafhaklike landbou-ontleder meen Amupanda se uitlatings oor die Noorweegse vleiskwota "klink na 'n noodroep om 'n ondoeltreffende staatsonderneming soos Meatco te regverdig. . ."
Elvira Hattingh
Beide die ministerie van landbou, water en grondhervorming asook die Vleisraad van Namibië het verkies om nie kommentaar te lewer op dr. Job Amupanda se uitlatings oor ’n uitnodiging vir slagfasiliteite om aansoek vir die Noorweegse kwota te doen nie.

Dit volg nadat Amupanda, die Affirmative Repositioning (AR) se leier, uitgevaar het teen die “dwase en swart plastiek-regering”, in sy eie woorde, en minister Calle Schletwein, wat volgens hom hard werk om seker te maak die belange van “wit landbou” word beskerm. Hy het verder beweer dat die president, prokureur-generaal en ander soos slawe alles navolg.

Hy het verwys na ’n advertensie wat onlangs deur die Vleisraad uitgereik is waarin geskikte organisasies genooi word om aansoek te doen vir ’n aandeel in die Noorweegse uitvoerkwota vir 2024.

“Kyk na die advertensie deur die Vleisraad van suidelike Namibië. Calle maak nou van die onderneming gebruik om Meatco te vermoor, met die ondersteuning van swart plastiek-politici in die kabinet en die parlement,” het Amupanda gesê.

“Die advertensie verwys na nuwe toetreders, wat effektief na Savanna Beef verwys wat wittes gevestig het om Meatco te vermoor,” het hy gesê.

Hy het verder uitgevaar teen “’n leier van Savanna Beef, die miljoenêr Diethelm Metzger,” wat volgens hom Namibiërs, tesame met die regering in die hofsaak vir die veterinêre kordonheining (VCF) beveg. Hy het ook ’n “waarskuwing” aan Meatco se uitvoerende hoof, Mwilima Mushokabanji, gerig deur te sê hy sal die volgende slagoffer wees en “die wittes, met behulp van die swart plastiek-leiers” sal binnekort van hom ontslae raak.

“Sê vir hom Meatco sal binnekort deur Savanna Beef vervang word, net soos Air Namibia vervang is deur Fly Namibia wat aan die miljoenêr Xavier André Compion behoort en wat ook ’n verdediger in die 1896-Rooilynsaak is,” het hy gesê.

REAKSIE

‘n Onafhanklike landbou-ontleder, Wallie Roux, het op navrae gesê die Noorweegse kwota kan slegs toegeken word aan verslagtingsentiteite wat daarvoor kwalifiseer.

“Die Noorweërs skryf nie voor wie aansoek daarvoor mag doen nie, maar vereis wel dat daar voldoen moet word aan hul vereistes vir higiëniese en veeartsenystandaarde, asook standaarde soos bepaal deur die Vleisraad van Namibië.

“Dit het niks met politiek te doen nie,” het Roux gesê. “Hierdie klink egter eerder na ’n noodroep om ’n ondoeltreffende staatsonderneming soos Meatco te regverdig, ten spyte van sy toenemende swak finansiële state.

“Geldsake praat veel harder as byvoorbeeld historiese sentimente. Sou ’n staatsondernemig soos Meatco homself in die grond in bestuur, maak dit mos sin dat die venster oopgaan vir ander private inisiatiewe om ons gesogte rooivleisprodukte te kan uitvoer en broodnodige buitelandse valuta te verdien,” het Roux gesê.

Hy sê Amupanda fokus op die politieke aspekte, wat net ’n klein deel uitmaak van wat in die praktyk aan die gang is om rooivleis na Noorweë uit te voer.

“Om enkele persone uit te sonder en af te kraak vir eie politieke gewin – mense wat inisiatiewe begin het om ons vleisuitvoere te laat voortgaan – gaan die land en die land se rooivleisbedryf nêrens bring nie.

“Ek reken dr. Amupanda moet hom bepaal daar waar hy goed is – wat klaarblyklik die akademie is. Vir enige persoon wat nie in die praktyk betrokke is nie, is dit goed om eerder ’n tree terug te staan en die praktyk te leer verstaan.

“Daarna kan jy dalk uitsprake maak wat water hou, sonder om individue te probeer aanval wat iets probeer doen vir ons land sodat ons ons gesogte produk kan bly uitvoer,” het Roux gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!