Werkers in 'n tydelike dam vir geoeste mielies op 'n plaas. FOTO ARGIEF
Werkers in 'n tydelike dam vir geoeste mielies op 'n plaas. FOTO ARGIEF

Oes nóg groter

Skatting skiet verby 100 000 ton-merk
Terwyl meulenaars weer begin het om mielievragte te aanvaar, moes amptelike syfers vir die nasionale oesverwagting opnuut opgestoot word.
Elvira Hattingh
Die nasionale mielie-oes sal na verwagting vanjaar op selfs meer as 110 000 ton staan, met akkerbouers wat tans ʼn mielie-oes lewer soos Namibië nog nooit vantevore gesien het nie.

Die Namibië Akkerbouraad (NAB) se bestuurder van akkerbou markontwikkeling, me. Loide Uahengo, het aan Republikein bevestig die oesverwagting is nou weer opgestoot van die verwagte 94 437 ton van vroeër, wat op sigself die grootste mielie-oes in Namibiese geskiedenis sou wees.

ʼn Rekordoes van 90 895 ton mielies is ook verlede jaar gelewer, terwyl die langtermyngemiddeld 38 500 ton is.

Terselfdertyd word akkerbouers tans N$6 364,45 per ton betaal – wat besonders goed is. Uahengo het verduidelik die prys word elke twee weke aangepas en dat dié bedrag nog tot 6 Augustus geldig is.

Sy het bygevoeg dat daar nog heelwat mielievragte uit die Karst- en sentrale gebied, asook in die Zambezistreek is wat gelewer moet word.

“Die oesseisoen duur nog amptelik tot die einde van Oktober. Ons is baie opgewonde oor die rekordoes,” het sy gesê.

RUIMTE IN GRAANSUIERS

Sy sê intussen is planne gemaak en prosesse geïmplementeer vir die land se 16 graansuiers en meulenaars om die onverwagte groot oes te kan akkommodeer.

“Daar word nog aan oplossings gewerk. Die produksie is heelwat groter as wat ons aanvanklik verwag het en dit is waar die probleem ontstaan het,” het sy gesê.

“Ons sal 100% van alle plaaslik geproduseerde mielies opkoop. Voor dit gebeur, sal die grense nie vir enige mielie-invoere oopgemaak word nie,” volgens Uahengo.

Sy het bygevoeg dat Namibië vanjaar in bykans die helfte van sy eie vraag na mielies sal kan voorsien.

“Verlede jaar was die plaaslike vraag na mielies 204 604 ton,” het sy gesê. Dit wat nie plaaslik geproduseer kan word nie, word ingevoer.

NUWE KWOTAS

Intussen het die Akkerbou Produsentevereniging (APV) se voorsitter, mnr. Gerhard Engelbrecht, aan Republikein gesê die feit dat die oesverwagting opwaarts aangepas is, beteken die NAB sal plaaslike meulenaars se kwotas opnuut moet uitwerk.

Dit beteken dat diegene wat reeds hul kwotas gevul het in terme van aankope van die plaaslike mielie-oes, weer mielies sal kan koop – ofte wel, dié wat die ruimte het om nog mielievragte te huisves.

“Namib Mills op Otavi het byvoorbeeld meer ruimte geskep en ekstra silosakke gekry en van die mielievragte weggery.

“Akkerbouers het vandeesweek weer mielies by Otavi gestoor, alhoewel dit nie opgekoop is nie, omdat Namib Mills se kwota vir eers gevul is. Wanneer hulle ʼn nuwe kwota ontvang, sal hulle na verwagting weer die oeste begin opkoop,” het Engelbrecht verduidelik.

Hy het verduidelik dit is vir akkerbouers ʼn risiko om mielies in hul tydelike graansuiers op plase te huisves, omdat dit dalk miet kan kry en ander gehalte-probleme kan kry, sou dit dalk vroeg reën.

“Geoes is een ding, gelewer is ʼn ander. Sowat 80% van die mielie-oes uit kommersiële gebiede is tans gelewer, met sowat 20% wat oor is,” het hy verduidelik.

“Ek dink van die 110 000 ton, is daar seker nog sowat 26 000 ton oor.

“In die Karstgebied is daar seker nog sowat 18 500 ton wat nog gelewer moet word en in die Ooste, wat na die Summerdown- en Hochfeld-gebied verwys, nog sowat 7 000 ton,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!