Oeskoning: Soete sukses ná taai beproewings
Wenner ná net twee jaar van ‘ernstig plant’
Terwyl hulle eers "skoolgeld" moes betaal kort nadat hulle begin boer het, het die Nel-gesin waardevolle lesse geleer oor geloof, die weer en die benutting van kundige raad.
Geloof, kennis en ’n gesin wat sáámwerk, dit is enkele wenbestanddele wat vanjaar aan Attie Nel die titel van 2022 se Oeskoning besorg het.
Dit is net die tweede jaar wat dié Abenab-akkerbouer, wat op die plaas Algier sowat 20 km buite Tsumeb boer, ernstig mielies begin plant het. Die Grootfontein Boerevereniging het hom as die Oeskoning aangewys – juis terwyl hulle vanjaar hul 50ste Oesfees sal vier.
Attie het vanjaar sowat 160 ha mielies geplant en ’n bogemiddelde oes afgehaal. Hy is tans besig om sy lande uit te brei vir die komende planttyd. “Ons sien uit na ’n nuwe oes,” sê hy.
Die Nel-gesin boer met beeste, bokke, skape en is ook gemoeid met akkerbou.
“Ons wil in die besproeiing ingaan, maar dit is nogal ’n uitdaging om water te kry,” vertel Attie.
Hy en sy vrou, Jolene, sê verskeie faktore het ’n rol in hul sukses gespeel.
“Ek dink een van die belangrikste dinge, na gelang van wat ek vanjaar gesien het, is die plantdatum. Dis nodig om so vroeg as moontlik te plant,” sê Attie.
“Dit is nou as die reën daar is – as daar nie grondvog is nie, kan jy ook nie plant nie.”
Wanneer presies is vroeg genoeg en wanneer is dit té laat?
“Die 40ste Januarie – ná dit mag jy nie meer plant nie, hoor ek die akkerbouers sê,” skerts Jolene.
GESINSWERK
Jolene sê dit is ’n groot geloofstap om op droëland te plant, soos wat hulle gedoen het. Dit was egter ’n voorreg om as ’n gesin te kon saamwerk.
Sy sê sy was dikwels die stuurjong omdat sy nog nie kon trekker ry nie, maar hul dogter, Adri, het ook ’n deel geplant, terwyl hul seun, Adriaan, die grootste dele geploeg en geplant het.
“Attie was daar om te sê hoe hy moet maak en raad te gee.
“Elkeen moes maar sy deel doen om die ding te maak werk, maar ek dink dit is ’n groot voorreg om so iets saam as ’n familie te kon doen – al is een die stuurjong en kosmaker,” sê sy met ’n glimlag.
“Hulle kom baie honger daar by die huis aan.”
Jolene sê boerdery is ’n passie en ’n liefde vir hulle almal.
“Ek het op Outjo grootgeword. Dit is harde wêreld. Ek verlang nou nog terug; ek het baie herinneringe, dit was goeie tye,” vertel Attie.
“Dit het vir my my hart vir landbou gegee. Van kleins af het ek altyd saam met my pa plaas toe gery. Ek het boerdery bo sport en skool verkies – en dit smaak my my seun is ook so.”
“Ons het al twee op plase grootgeword,” voeg Jolene by.
“Ek dink die passie en liefde vir boerdery is ‘geneties’ in ons – ten spyte van die swaar jare wat ons al beleef het en waar mens gewonder het of jy dit gaan maak.
“Die genade was daar en ons is daardeur. Daarom geniet en waardeer ons die goeie jare.”
LEERSKOOL
“Alles was nie altyd maanskyn en rose nie, en daar is baie ‘skoolgeld’ betaal. Ek het in 1993 op die plaas aangekom en so bietjie probeer plant. Dit is eintlik waar ek begin het,” vertel Attie.
’n Aantal droogtejare het egter gevolg, wat hier en daar met ’n enkele goeie jaar afgewissel is.
“Dit was maar wilde jare. Toe het ek begin transport ry om aan die lewe te bly. Ek het in 2012 teruggekom plaas toe,” sê Attie.
Jolene het egter eers in Maart vanjaar weer voltyds op die plaas aangesluit, nadat sy die skoolhoof van Karstveld Academy op Grootfontein was.
“Ek is maar nog ’n nuwe boer,” skerts sy.
Attie sê hy het vir drie jaar lank ná 2017 ’n stroper gery en mielies op boere se plase gestroop. Dit was ’n goeie leerskool.
“Ek het baie gesien oor hoe verskillende boere plant. Daarvolgens het ek besluit hoe ek gaan plant.
“Die plantestand hang af van hoe die reën voorspel word. As daar nie baie goeie reën voorspel word nie en jy waag dit om mielies te plant, kan jy nie ’n té hoë plantestand hê nie.”
SUKSES
Die Nel-egpaar sê geloof is baie belangrik vir sukses, maar ook reën.
“Jy kan niks sonder reën doen nie. En dan ook kennis.
“Jy moet jou omring met kundige en professionele mense, asook boere wat jare reeds in die bedryf is. Ek het ongelooflik baie geleer by mense soos Gerhard Engelbrecht – hy was my regterhand. So ook Johan Jacobs van Maroelaboom. Sonder hul kennis en bydrae sou ons nie hier gekom het waar ons nou is nie,” sê Attie.
Jolene voeg by hulle het voortdurend raad en kennis van “kundiges en mense gevra wat reeds hul skoolgeld betaal het”.
Attie sê nog belangrike faktore om suksesvol te wees, sluit in dat ’n boer in die regte omgewing geleë moet wees.
“Buiten vir die Mieliedriehoek, is Hochfeld en die sentrale noordelike dele ook geskikte gebiede. Jou grond moet ook in ag geneem word – daar is baie faktore,” sê hy.
“As ek ’n jong boer moes raad gee, sou ek sê hulle moenie dit op hul eie probeer doen nie, maar van die beskikbare kundiges gebruik maak – neem grondmonsters en gee dit in vir ontleding,” sê Jolene.
“Ons het vroeër jare probeer en baie skoolgeld betaal – daar was droogtes. ’n Mens hoef mos nie die wiel te herontdek nie,” vertel sy. “Dit is ’n duur speletjie as jy hom verkeerd speel.
“Dit is ook baie harde werk. Dit is oggende op voor die son opkom en vanaand nadat die son lankal gesak het. As die plantjies begin opkom, moet jy dit beskerm,” sê sy.
Hulle sê nog groot uitdagings is om die regte implemente te hê asook die nodige kennis, terwyl insetkoste soos die huidige prys vir brandstof, saad en kunsmis ook ’n groot rol speel.
“Dit is baie harde werk, maar lonend en dit is bevredigend om te sien hoe die mielies groei,” sê Jolene.
WEER
“Dit is ’n móéilike land. Ons weet vir seker die droogte kom weer,” sê Attie op die vraag of Namibië ’n geskikte land is om mielies te plant.
“Ons luister na die weervoorspellings – tegnologie het soveel ontwikkel dat daar baie meer akkurate voorspellings as vroeërjare is.
“Wat mense ook vir ons gesê het – as daar erge oosweer by die see is, dan kry ons lekker reën. Die vorige jaar was daar ‘lekker’ oosweer by die see en vanjaar weer,” sê Jolene.
“Ek glo die Here gee dit ook vir ons as ’n teken om te wys dit gaan goeie reënjare wees.”
“Ek weet ons boer in Namibië. Hier is droogtes, maar as dit verby is, het ons ook goeie jare,” sê Attie.
Hy sê weerpatrone vorm siklusse. “My pa het altyd gesê die Kaap moet goed reën kry.”
“Ons verwag weer ’n goeie reënseisoen. Ons kyk vooraf na die natuurtekens. Soos ek van die mense by die kus verstaan, was daar vanjaar die ergste oosweer in 40 jaar.
“Ons wag ook altyd op Oktobermaand se internasionale weervoorspellings – of dit ’n La Niña of El Niño-jaar gaan wees en nuus oor die seeoppervlaktemperature,” sê hy.
“Vandag moet jy hierna oplet – die tegnologie is daar.”
Attie meen dit is elke boer se keuse om ook na akkerbou te diversifiseer.
“Jy kan nie net mielies plant nie. Jy moet ander gewasse ook plant – daar is ruimte daarvoor.”
Hy sê hy is ’n voorstander van sonneblomme asook droogtegewasse soos katoen en boontjies.
“Dit is ook wisselbou. Dit bly egter ’n moeilike land vir plant en jy moet die risiko’s in ag neem en beplan.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie