Olifantprobleme ‘kan landbou tot val bring’
Komitee vir bestuur van bosreuse gestig
'n Eerste van vier komitees vir die bestuur van olifante is gister vir die noordooste gestig – waar tussen 60% en 70% van die land se olifantbevolking voorkom.
Die takel van die olifantprobleem teen die veterinêre kordonheining (VCF) is in nasionale belang.
Indien daar nie dringend en daadwerklik opgetree word nie, kan dit landbou en waarskynlik die land, tot ‘n val bring.
Dít was die mening van verskeie landbouers gister tydens ‘n vergadering wat deur die ministerie van die omgewing, toerisme en bosbou belê is.
Tydens die geleentheid is ‘n streekkomitee vir olifantbestuur op die been gebring – een van vier komitees in die noordooste van die land, wat voorts direk met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme moet saamwerk oor olifantprobleme en die toepassing van die nasionale olifantbewarings- en bestuursplan.
“Die Nuruchas Boerevereniging se grootste bekommernis is nie persoonlike belang nie, maar landsbelang. Ons is deel van ‘n N$7 miljard se bedryf – die beesbedryf. Die meeste van ons boer teen die veterinêre kordonheining,” het ‘n boer uit die omgewing, mnr. Gerhard Breedt, gesê.
Boere is bekommerd dat die olifante die land se bek-en-klouseer-vrye status, suid van dié heining, kan bedreig.
“Daarbenewens beskadig die olifante ons drade, damme, pompe en waterinfrastruktuur en gaan in ons mielie-, grondboontjie-, sorghum en akkerbonelande in. Talle van die plase huisves ook waardevolle wild, wat kan ontsnap as die drade gebreek word.”
Buiten vir staatsamptenare, is die vergadering deur verskeie bekommerde kommersiële en kommunale boere bygewoon, asook deur verteenwoordigers van bewaringsgebiede, lede van die Vleisraad van Namibië en die Vereniging vir Lewendehawe-agente en -vervoerders (Labta).
Rolspelers was dit eens: Konflik met olifante in die noordooste van die land bied hulle hoofbrekens – en het oor die afgelope jare skerp toegeneem.
HUISVES
“Tussen 60% en 70% van Namibië se olifante kom in die noordoostelike dele van die land voor – dit is hier by julle in die Otjozondjupastreek, in die Kavango-Oos- en –Wesstreek asook in die Zambezistreek,” het mnr. Kenneth Uiseb, die adjunkdirekteur van wildmonitering en navorsing binne die direktoraat van wetenskaplike dienste in die ministerie tydens die geleentheid verduidelik.
“Dit maak julle die belangrikste belangegroep in olifantbewaring. Ek wil dit duidelik stel, ons bestuur nie olifante vir verdere getallegroei nie,” het hy bygevoeg.
“Teen onafhanklikwording was daar sowat 7 000 olifante in die land, terwyl die olifantsensus van 2019 aandui dat hul getalle nou op sowat 24 000 staan,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg daar is tans sowat 3 000 olifante in die Etosha Nasionale Park en die noordweste huisves ‘n bevolking van sowat 1 200.
Mnr. Bennet Kahuure, nasionale direkteur van wild en nasionale parke, het verduidelik dat dié komitee die Tsumkwe, Khaudom-Wes en –Suid asook alle Otjozondjupa-bewaringsgebiede sal verteenwoordig.
“Ek wil dit duidelik stel. Ons het jul oproepe gehoor. Ons is oor en oor gevra om ‘n platform te skep vir oop en eerlike gesprekke sodat konstruktiewe voorstelle gemaak kan word hoe om olifante te bestuur,” het Kahuure bygevoeg.
“As ‘n regering probeer ons ons beste om die getal olifante te verminder. Ons is ook aan verskeie internasionale reëls verbonde en wil hê julle as belangegroepe moet dit verstaan.
“Mense wat in Europa of Amerika sit, het opinies oor ‘n olifant op jou eiendom in Namibië en skade veroorsaak. Ons is ook onderworpe aan internasionale entiteite,” het hy gesê.
KOMMER
Mnr. Jason Hamutenya sê daar is tans sewe of agt olifante op sy plaas “en hulle bréék”.
“Ons kry swaar om ons werkers te betaal, AgriBank wag vir my betaling aan die einde van die jaar en my drade lê stukkend. Ons moenie net praat en vergadering ná vergadering hou nie, ons moet besluite neem. Die belangrikste is dat ons die VCF elektrifiseer,” het hy genoem.
Breedt, wat reeds 58 jaar op sy plaas in die Maroelaboom-omgewing boer, sê die afgelope jare het olifantbesoeke aan plase in hul omgewing skerp toegeneem – iets wat nooit vantevore ‘n probleem was nie.
“Die probleem is hul getalle. Ons kan bestuur en ons kan beplan en maak soos ons wil, maar as ons nie die getalle kan beheer nie, mors ons ons tyd. Dan sal daar binnekort nie meer in hierdie land geboer word nie.
“Ons luister na die buiteland, maar wie bly hiér? Óns bly hier en ons moet ons kinders hiér kos gee. Ons moet aanhou boer en ‘n bestaan maak en die olifante kan ons nie oorheers nie. Dit moet as ‘n hulpbron gesien word – ‘n baie waardevolle een – wat ons moet bestuur, maar nie net eensydig vir toerisme nie.
“Die toerismebedryf, die ‘groenes’ en die wat sê ons mag nie doodskiet nie, hulle speel die kitaar en ons dans,” het Breedt gesê.
“As ons nie die olifante minder maak nie, gaan konflik net groter word. Môre skiet iemand ‘n olifant en dan sit hy in die tronk.”
Mnr. Pieter Schalk Grobbelaar het verduidelik sy plaas grens teen die veterinêre kordonheining (VCF), met boere wat aan die oorkant ook met beeste boer. Hy is bekommerd oor die olifante se impak op die heining.
“Daar word van ons bandboere verwag om die draad op eie onkoste in stand hou. Hoe lank kan ons dit nog volhou? Wat bly oor van ons as die hele land se vleisbedryf in duie stort?”
Mnr. Hendrik Prinsloo, wat Labta tydens die geleentheid verteenwoordig het, sê dit is tyd dat ‘n “oeskomitee” vir olifante opgestel word.
“Ons het nodig om hierdie hulpbron te ‘oes’, sodat daar ‘n inkomste ontgin kan word om die VCF te onderhou en herstelwerk op plase teenaan die grens te doen.
“Dit is in die hele bedryf se belang dat boere wat teen die VCF boer, die geld het om die heining in stand te hou en die skade op hul plase te herstel.”
Hy meen olifantvleis kan oraloor benut word en ook vir werkskepping sorg. “Hierdie is ‘n noodoproep uit die beesvleisbedryf. Ons is afhanklik van die bedryf vir ons lewensbestaan!”
“Soos ek vandag hier met julle praat, is die olifante reeds vir meer as twee weke lank op my plaas. Hulle het klein kalfies en hulle verwoes alles,” het ‘n ontluikende boer gesê, wat reeds sewe jaar op sy plaas boer.
“Ek moet elke jaar die bank terugbetaal en ook my werkers betaal. Hoe moet ek die plaas ook nog elke dag heropbou – soos in die afgelope twee weke? Die ministerie moet begin en onmiddellik op ons hulproepe begin reageer – dit help nie om weke en jare te wag nie, onmiddellike optrede is nodig,” het hy gesê.
Nog ‘n boer sê van sy werkers is al deur olifante bestorm.
“Gister was ons besig met herstelwerk, toe die olifante daar aankom. Eerste het ‘n kalfie ons bestorm en toe ‘n groot een agterna. Môre word iemand doodgemaak!” het hy gesê.
Die komitee sal binnekort amptelik deur die ministerie bekragtig word, waarna dit voorstelle vir die bestuur van olifante in die gebied kan maak. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie