Onkruid? Eerder uitvoergewas!

Mielies nie álmal se toekoms
Een van die land se voorste mielieboere sê mielies is dalk nie vir almal die antwoord nie en dat lonende, alternatiewe gewasse volop is, maar sal self ontwikkel moet word.
Elvira Hattingh
“Ek dink nie mielies is almal se toekoms nie. Baie ander moontlikhede vir akkerbou bestaan, wat meer arbeidsintensief én meer geskik vir ons land is.”

Só het Gernot Eggert, sekerlik een van die land se grootste akkerbouers uit die Mieliedriehoek, verlede week by die Agri X-tra Konvensie op Grootfontein gesels.

Hy het pas as jarelange voorsitter van die Akkerbou Produsentevereniging (APV) uitgetree, met mielieboer Gerhard Engelbrecht wat nou die leisels oorgeneem het.

Eggert is van mening dat alternatiewe gewasse soos geelmielies, sonneblomme, suikerbone en plante wat plaaslik as “onkruid” beskou word, lonende geleenthede vir die akkerboubedryf inhou. Terselfdertyd hou dit ook potensiaal om talle werksgeleenthede te skep – iets waaroor hy passievol is.

MIELIES?

“Julle wat met beeste in ‘n akkerbougebied boer is die mense wat die grootste verskil maak – as almal van ons ‘n bietjie meer akkerbou kan doen.

“Julle mag dalk vra hoe almal van ons met iets sal boer wat so ‘n hoë risiko inhou. Ons almal se grond is nie geskik vir byvoorbeeld mielies nie.

“Ek wil met julle saamstem, ek dink nie mielies is ons almal se toekoms nie,” het hy gesê.

“Ek het besef wat ons in hierdie land kort is relevante, Namibiese navorsing. Ek is oortuig daarvan as ons dít gehad het, was ons nie nou meer besig om mielies te plant nie, of dalk nog net met mielies in ‘n wisselbou-rotasiestelsel.

“Nou het ons nie alternatiewe nie en ons veg vir ‘n goeie mielieprys. Ek dink die alternatiewe is volop, maar ons sal dit self moet ontwikkel.”

Eggert meen akkerbouers sal self verskillende opsies moet verken en navorsing doen om vas te stel watter alternatiewe lonend sal wees.

ALTERNATIEWE

Eggert sê Namibië moet na uitvoergeleenthede vir alternatiewe gewasse kyk.

“Ons het nog nooit geelmielies ernstig oorweeg nie. Geelmielies se opbrengs per hektaar (ha) is veel beter en eintlik het dit ‘n groot mark in Namibië. Die bemarking daarvan is egter ‘n bietjie moeiliker.”

Hy het op sy grond ook sonneblomme geplant. “Dit is een van die gewasse wat ek glo ons in Namibië kan en moet plant. Dit is baie goed vir jou grond, veral as gewas vir wisselbou. Ek glo ons kan met dié gewas die Suid-Afrikaanse oesgemiddeld haal.”

Eggert sê verskeie boere in Namibië begin met suikerbone eksperimenteer en daar word tans tot N$30 000 per ton daarvoor betaal.

“Hierdie is nie eens plante wat ek glo tot Namibiese omstandighede aangepas is nie. As ek na plante kyk wat natuurlik voorkom, is daar nog niks wat vir my ‘n aanduiding gegee het dat mielies ‘n geskikte gewas is nie.”

Eggert meen om die potensiaal van plaaslike “onkruid” te identifiseer, moet daar beter op die natuur gelet word.

Hy het gewys dat plante soos paardebloem (dandelion), wat wyd as ‘n onkruid beskou word, ontdek is om groot gesondheidsvoordele in te hou.

“Dis ongelooflik, almal soek skielik die plant en sy saad, en ons landbouers is elke dag besig om daardie plant uit te haal!

“Ek is oortuig dat daar ander gewasse is wat meer geskik is vir ons land, maar ons het meer navorsing nodig.”

ONKRUID?

Hy het gewys dat wilde sesameplante plaaslik groei. Intussen het die akkerbouraad sesamesaad beskikbaar gestel en is drie proefaanplantings met vier verskillende variëteite geplant.

“Hy het baie reën nodig en sodra hy ontkiem, groei hy soos ‘n onkruid. Dis wat jy soek,” het hy gesê.

Eggert sê in Kenia is tot N$30 000 per ton vir sesamesaad betaal, terwyl daar in die literatuur gesê word dat dit ‘n oes van tussen 800 kg tot 1,5 ton per ha lewer.

“Ek glo dit is een van die gewasse wat in die toekoms in Namibië geplant kan word, want sy wilde ‘maatjie’ groei van nature hier. Dis nie soos ‘n mielie wat ek aan sy hare trek en probeer maak groei hier nie.”

Chiasade, wat as ‘n superkos beskou word en op grootmaat vir tot N$45 per kg verkoop word (N$45 000 per ton), is ook een van die gewasse wat hy meen goed in Namibië sal aard.

“Dit sal dalk nie goed by ons bemark nie, maar ek soek ‘n produk wat ons in ‘n vraghouer kan laai en na ‘n groot mark êrens elders in die wêreld kan stuur. So kan ons ook sommer talle werksgeleenthede skep en goeie salarisse betaal.”

Mispredie, wat deur akkerbouers as ‘n onkruid beskou word waarteen hulle voortdurend ‘n stryd moet voer, verdien ook goeie geld as ‘n gesonde kos in kruidenierswinkels.

Eggert sê ook plante soos smeerwortel (comfrey) en duizendblad (yarrow), as tussenry-gewasse geplant kan word, vanweë die voordele wat dit vir die grond inhou.

DOEL

Eggert sê onkruid wat op jou plaas groei – is vir sekere redes daar. Dikwels is dit om wanbalans in die grond reg te stel, soos waar grond versteur is en dit byvoorbeeld té suur, sout of alkalies is. Hy sê dit is ook die funksie van brandnetel, jakkalsstert, fluweelgras en selfs akkerbone.

Hy is van mening dat die plante vir boere ‘n aanduiding kan bied oor die eienskappe van grond en watter gewasse goed daar sal vaar, terwyl akkerbone benut kan word om lae stikstofvlakke in die grond te herstel.

Hy sê kakiebos, wat familie van die stinkafrikanerblomme is, is ‘n moontlike teenvoeter vir byvoorbeeld aalwurms, terwyl dit ook as ‘n waterdoeltreffende, tussenry-gewas kan dien

Hy sê bykans geen navorsing hieroor is vir Suider-Afrika in die literatuur beskikbaar nie.

WERKSKEPPING

“Ons as akkerbouers, en diegene van ons wat met beeste in akkerbougebiede boer, óns kan die verskil in hierdie land maak. Ek is diep oortuig daarvan.

“Sosioëkonomies móét ons ‘n verskil begin maak,” sê hy.

Eggert sê hy het bereken dat beesboere jaarliks sowat 10 tot 12 kg beesvleis per ha produseer, wat op ‘n netto-inkomste van N$210 per ha per jaar neerkom – vóór belasting. Hy sê dit skep slegs werk vir een persoon per 1 000 ha.

“Deur akkerbou kan jy dieselfde inkomste op ‘n baie kleiner gebied verdien, soveel so dat jy ‘n honderd keer dié hoeveelheid werksgeleenthede sal kan skep.

“Ek betaal oor die afgelope twee maande N$300 000 aan arbeidslone. Ek hoop dit maak ‘n verskil en daar word minder beeste en minder pompe gesteel.

“My oortuiging is dat as ons nie werk skep en sosioëkonomies ‘n versklil maak nie, gaan ons nie hierdie land se probleme oplos nie.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!