No Image Caption

PAS IN: Savanna: Boere beloof nog N$6,4 miljoen

Elvira Hattingh
Beesprodusente se aandele in Savanna Beef Processors (SBP) het vandeesweek die 90%-merk verbygesteek, met beleggingsaansoeke van N$6,444 miljoen wat tydens die derde beleggingsrondte vanaf beesboere ontvang is.

Dit beteken beesboere se aandele in die abattoir staan op meer as N$180 miljoen.

Dit kom terwyl SBP Vrydag 14 Julie ‘n derde beleggingsrondte vir Namibiese beesprodusente geopen het, met die mikpunt om die orige N$26,432 miljoen in te samel. Dit, sodat beesboere se beleggings eindelik op N$200 miljoen kan staan.

Volgens ‘n verklaring wat deur die SBP-besturende komitee uitgereik is, blyk dit dat beesprodusente gretig is om te belê en word ‘n stormloop vir die geleentheid teen 23 Augustus verwag, wanneer SBP ook sy jaarvergadering sal hê.

Die SBP-direksie het voorheen gesê hierdie sal die heel laaste geleentheid vir Namibiese beesprodusente wees om aandele deur private plasing te koop en dus SBP-aandeelhouers te word.

Die derde beleggingsvenster sluit weer om 12:00 op 7 September. Die resultate van die derde beleggingsrondte sal vanaf 14 September bekend gemaak word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer