Die NLU herinner landbouers aan die beveiliging van veral plaashuise. FOTO PIXABAY
Die NLU herinner landbouers aan die beveiliging van veral plaashuise. FOTO PIXABAY

Plaasveiligheid: Beveilig jou huis só

NLU ‘betreur aanslag op alleenvrou’
Die NLU beveel onder meer aan dat 'n klein hondsoort binne die huis gehou word en een of meer groter honde buite.
Elvira Hattingh
Die Namibië Landbou-unie (NLU) het in hul jongste nuusbrief gesê die unie “betreur die aanslag op ‘n bejaarde alleenvrou op ‘n plaas” en in dieselfde asem landbouers daaraan herinner oor hoe om hul plaaswonings te beveilig.

Daar word waarskynlik na die aanslag vandeesmaand op die 65-jarige me. Marieta Wilhelm op haar plaas Fokshof in die Grootfontein-omgewing verwys, waartydens sy glo aangerand is en die dood van die 31-jarige Sakaria Kaandje veroorsaak het.

“Ons neem met kommer kennis van die voorval en is bewus daarvan dat as gevolg van werkloosheid en toenemende armoede, insidente soos dié meer mag voorkom. Daar is egter geen regverdiging vir aanvalle op bejaarde, weerlose of enige ander mense nie.”

WENKE

In die nuusbrief het die NLU landbouers egter aan die beveiliging van veral plaashuise herinner deur die benutting van veiligheidsheinings, honde, alarmstelsels en dat deure en hekke gesluit moes wees as jy saans gaan slaap.

Ander wenke is dat boere moet inskakel op hul boereverenigings se bandradio’s, op die uitkyk vir verdagte persone en voertuie wees en dit by hul naaste polisiekantoor aanmeld en om nie groot bedrae kontant op plase aan te hou nie.

Die NLU waarsku wanneer boere wel kontant trek, bedag daarop moet wees dat hulle dalk agtervolg kan word, veral as hulle op verlate paaie moet ry. Hulle word ook gewaarsku om nie by verdagte motors te stop wat langs die pad staan en hulp soek indien hulle in besit van kontant is nie.

Die NLU sê verder goeie verhoudinge met werknemers is belangrik en werknemers moet aangemoedig word om verdagte persone in die omgewing aan te meld.

Alle potensiële werknemers se verwysings moet nagegaan word om vas te stel of hulle in enige kriminele aktiwiteite betrokke was.

PARAATHEID

“Indien jy snags reageer op ongewenste bewegings op die werf of nabygeleë paaie, wees bedag daarop dat jy dalk aangeval kan word.

“As vreemde voertuie by jou stilhou en om hulp vra, skryf die registrasienommer neer. Jy sal onmiddellik aan die optrede van die insittendes agterkom as hulle iets wegsteek.”

Nog goeie maatreëls is dat alle werknemers hul besoekers moet aanmeld en waar moontlik, moet die besoekers hul ID’s toon.

Die NLU beveel aan om ’n klein hond binne die huis aan te hou en een of meer groter honde buite. Die honde moet, sover moontlik, nie kontak met werknemers hê nie.

“Moenie op ’n plek slaap waar mense van buite jou kan sien nie. Lig jou kinders in oor die korrekte prosedure as hulle die telefoon antwoord en hoe om op te tree as hulle gedreig word.

“As jou waghond skielik dood is, wees bedag dat jy dalk aangeval kan word. As jy aangeval word, moenie terugbaklei nie, veral as die aanvaller ’n wapen het.

“Indien jy in die nag aangeval word, skakel onmiddellik alle buiteligte aan en alle binneligte af, sit die alarm aan en bel die polisie.”

AS JY WEGGAAN

“Moenie altyd dieselfde roetine volg nie. Wissel dae om inkopies te doen af en indien moontlik gebruik alternatiewe roetes weg en na die plaas toe. Moet ook nie altyd dieselfde tye poste toe ry nie,” skryf die NLU.

“As jy van die plaas af wegry, moenie vir u werknemers die regte tye gee wanneer jy weer terug sal wees nie. Moenie slegs een werknemer alle verantwoordelikhede op die plaas gee nie. Deel dit aan verskeie werknemers uit.”

Die NLU raai verder aan dat daar verkieslik altyd iemand by die huis op die plaas moet wees en boere dalk selfs, wanneer hulle op vakansie gaan, ‘n pensioenaris moet kry om in hul huise te bly.

“As jy niemand ken nie, kry iemand deur ‘n plaaslike kerk.”

Die NLU meen boere moet hul bure in kennis stel as hulle op verlof gaan en spaarsleutels vir hulle gee om in die huis te kan inkom, sou dit nodig wees.

Die NLU raai boere ook aan om, wanneer hulle terugkom op hul plaas, altyd op die uitkyk te wees of alles nog dieselfde is in terme van ligte wat aan- of afgeskakel is, voordeure wat gesluit of oop is en dat hul honde daar is.

“Hou alle noodnommers en die telefoonnommers van jou bure gereed.

VOERTUIE

“As daar voertuie op die plaas staan, haal vonkverdelers (distributors) en vonkpropkabels uit. Maak die wielmoere van wiele los. As die motor gesteel word, sal die wiel na ’n kort tyd uitval.

“As jy beplan om ’n kluis te bou, bou dit teen ’n muur vas. Dra die spaarsleutel van die kluis en alle voertuigsleutels by jou. Werkers in jou huis sal moontlik vinnig agterkom waar spaarsleutels gehou word.

“Wanneer jy die plaas verlaat, haal die slotte uit die gewere uit en neem dit saam of steek dit goed weg. So ook met die ammunisie.

“Enige gereedskap wat ’n kluis kan oopbreek, soos byvoorbeeld ’n gasvlamtoestel of afskuurder, moet toegesluit of weggesteek word wanneer jy die plaas verlaat.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!