Reënseisoen sluit af met groener Namibië

Kunene, Oshana trek aan kortste ent
Besluitnemers behoort ondersteuningsprogramme vir boere en gemeenskappe in die Kunene- en Oshanastreek te mobiliseer, wat vroeg in die droë seisoen op hul heel kwesbaarste sal wees.
Elvira Hattingh
Terwyl ‘n ondergemiddelde reënseisoen op plekke in die westelike en noordelike Kunene ‘n gegewe is, is die oostelike, noordelike en noordoostelike dele van die land tans groener as normaal.

Dele van die Erongo- en ||Kharasstreek is ook groener as normaal, terwyl die grootste dele van die Kunene- en Oshanastreek ietwat droër is as wat normaal is vir hierdie tyd van die jaar.

Só sê die Rangeland Early Warning System se mnr. Bertus Kruger in sy jongste verslag. Die stelsel het onlangs sy laaste weidingskaart vir die huidige seisoen uitgereik.

Die Rangeland Early Warning System is Namibië se vroeë waarskuwingstelsel wat afstandwaarnemingstegnologie benut om naby aan werklike tyd die aktiewe plantegroei oraloor Namibië te meet.

Kruger sê hiervolgens is dit nodig dat besluitnemers op streek- en nasionale vlakke ondersteuningsprogramme vir boere en gemeenskappe in die Kunene- en Oshanastreek moet mobiliseer, wat vroeg in die droë seisoen op hul heel kwesbaarste sal wees.

Hy sê die ondernormale toestande volg op ‘n jarelange ernstige droogte in dié gebiede.

Hy het ook gewys dat plantegroei, volgens hul jongste kaart, nou uitdroog soos die 2021–’22-seisoen tot ʼn einde kom.

“Boere wat in gebiede geleë is wat sedert Januarie 2022 deurlopend in rooi op die kaart aangeteken is, moet aanvaar dat die reënseisoen tot ʼn einde gekom het en ʼn ondergemiddelde seisoen op hande is.

“Hulle moet hul dieregetalle verminder of voorsorg tref om die vee van voer te voorsien. In gebiede waar veegetalle reeds verminder het as gevolg van die afgelope jare se droogtes, moet kuddes nie nou herbou word nie,” het hy gesê.

“Op streek- en nasionale vlakke moet besluitmakers ondersteuningsprogramme van stapel stuur.

AFHANKLIK

Veeproduksie in Namibië is bykans heeltemal afhanklik van die produktiwiteit van die weiveld, wat tot baie lae vlakke gedurende erge droogtes kan daal.

Die wisselvalligheid bied ernstige bestuursuitdagings om diere se voedingsbehoeftes te balanseer met die beskikbare weiding, asook om die agteruitgang van grond te voorkom.

“’n Vinnige, jaarlikse aanpassing by die status van weiding, veral nader aan die einde van die reënseisoen, kan boere geld spaar en ook weiding in ʼn meer produktiewe toestand oor die lang termyn hou.

“Vir beleidmakers en besluitnemers kan hierdie inligting aandui watter dele van die land moontlik die meeste deur droogte geraak kan word as dit naby aan die einde van die reënseisoen kom.

“Dit bied hulle ook voldoende tyd om vir droogtehulpinisiatiewe te beplan,” het hy gesê.

Kruger sê die Rangeland Early Warning System kan deur beide boere en besluitnemers vir die ontwikkeling van hul jaarlikse weidingbestuurstrategie benut word.

“Hierdie stelsel verskaf betroubare inligting oor die toestand van weiding asook dreigende voedingstekorte, met voldoende tyd om die nodige besluite te neem.

“Die sleutelkomponent van die vroeë waarskuwingstelsel is afstandwaarnemingstegnologie wat vrylik beskikbaar is, en naby aan die werklike tyd, die aktiewe plantegroei oraloor Namibië meet.

“Deur die huidige plantegroei-aktiwiteit in ʼn spesifieke gebied met die 15 jaar-gemiddeld te vergelyk, kan jy ʼn objektiewe idee van die status van die weiding kry.

“Kaarte wat die weidingstatus uitbeeld, word elke tien dae gedurende die reënseisoen (Oktober tot einde Mei) geproduseer.

Hierdie kaarte, en ander meer gedetailleerde kaarte (wat elke streek en nasionale parke afsonderlik dek) is op www.namibiarangelands.com beskikbaar, asook per e-pos.

Vir meer inligting of om die e-posse te ontvang, kontak die Rangeland Monitoring-span by e-pos [email protected]. Andersins kan dr. Cornelis van der Waal by 081 604 5878 gekontak word, of Bertus Kruger by 081 124 0124.

Kommentaar

Republikein 2025-01-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 28° Rundu: 19° | 27° Eenhana: 21° | 27° Oshakati: 24° | 28° Ruacana: 19° | 32° Tsumeb: 19° | 28° Otjiwarongo: 19° | 28° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 20° | 30° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 17° | 19° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 20° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 21° | 33° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 22° | 33° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 19° | 34° Oranjemund: 13° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 26° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 19° | 22° Maseru: 16° | 25° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 30° Maputo: 23° | 30° Windhoek: 20° | 30° Cape Town: 17° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 17° | 20° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 21° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!