Crops
Crops

SA boos oor geen groente na Namibië

Schlettwein oor AgriSA se reaksie
Namibië sê hy verbreek geen handelsreëls deur die invoer van sekere groente uit Suid-Afrika te verbied nie.
Ellanie Smit en Ronelle Rademeyer
Ellanie Smit en Ronelle Rademeyer

Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het gereageer ná Suid-Afrikaanse landbou-organisasies se ontstoke reaksie op die ministerie se verbod op die invoer van gewasse en tuinbouprodukte.

Die Namibië Akkerbouraad (NAB) het intussen aantygings verwerp dat dié huidige beperking in Namibië teen die ooreenkoms van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) is.

Dit volg nadat AgriSA aan die Suid-Afrikaanse minister van landbou, me. Thoko Didiza, geskryf en dringende ingryping versoek het en gesê het Botswana en Namibië het “eensydige stappe geneem om te keer dat ’n aantal Suid-Afrikaanse landboukommoditeite hul grense binnegaan”.

AgriSA het onmiddellike reaksie van die Suid-Afrikaanse regering op hierdie “ongeregverdigde optrede in stryd met die Sacu-ooreenkoms” geëis.

Schlettwein het gister in reaksie op mnr. Christo van Rheede, uitvoerende direkteur van AgriSA, se verklaring waarin hy Botswana en Namibië se optrede as “besonder gruwelik” beskryf, gesê: “Wat gruwelik is, is hoe Suid-Afrika ons industrialisasie teenwerk.”

“Suid-Afrika handhaaf ’n dubbele moraliteit. Hulle stort hulle produkte in ons mark en stel allerhande reëls in om hul markte te beskerm, maar raak ongelukkig as ons dit doen.

“Toe ons suiker van ander markte wat goedkoper as Suid-Afrika is, wou invoer, het hulle dit verbied. Net so wou hulle nie korting op koringinvoer toestaan toe ons daarvoor gevra het nie,” sê Schlettwein.

AgriSA het Didiza versoek dat die regering, as hy nie daarin kan slaag om Namibië se invoerverbod gelig te kry nie, soortgelyke maatreëls moet instel soos die moontlike staking van betalings uit Sacu se gemeenskaplike inkomstepoel.

Hierop het Schlettwein gesê Namibië sal hom nie soos ’n lam ter slagting laat behandel nie.

Die woordvoerder van die NAB, mnr. Auguste Fabian, het benadruk dat die Sacu-ooreenkoms ook voorsiening maak vir die beskerming van jong markte soos Namibië.

“Die meganismes wat deur die NAB beskikbaar gestel word vir oop en geslote grenstydperke vir sekere primêre landbou- en tuinbouprodukte is deel van die agenda om die gewasbedryf te ontwikkel en ons plaaslike boere teen goedkoop invoere te beskerm.”

Fabian het verder verduidelik die Namibiese gewasbedryf is nog in sy kinderskoene en staar talle uitdagings in die gesig, met die ontwikkeling van hierdie bedryf wat nou eers 20 jaar aan die gang is.

“Ontwikkeling van gewasboerdery in Suid-Afrika het meer as ’n eeu gelede begin en Suid-Afrikaanse boere het ’n hoë vlak van skaalvoordele in vergelyking met Namibiese boere.”

Volgens Fabian voer Namibië tans byna 100% van boerdery-insette uit Suid-Afrika in, wat beteken Suid-Afrikaanse boere het ’n produksiekostevoordeel van byna 25% vergeleke met Namibiese boere as gevolg van hoë insetkoste in Namibië.

Gevolglik is Namibiese produkte duurder as Suid-Afrikaanse produkte op die rakke.

Fabian sê verder Namibië het in 2020 tuinbou- en akkerbouprodukte ter waarde van N$402 miljoen uitgevoer en produkte ter waarde van N$5,2 miljard ingevoer.

“Dit is 13 keer die waarde van ons uitvoere na Suid-Afrika en dit is sekerlik nie gebalanseerde handel nie. Daarom word die huidige reguleringsmeganismes in plek gestel om ons plaaslike boere te beskerm en ten einde groei in die bedryf en voedselselfvoorsiening te stimuleer en werksgeleenthede te skep.”

Volgens Fabian bly Suid-Afrika ’n baie belangrike handelsvennoot vir Namibië, aangesien hy tans meer as 80% van gewasgebaseerde produkte en 100% van produksie-insette van dié buurland af invoer.

AgriSA het gesê dié handelsbeperking sluit tans onder meer tamaties, aartappels, beet, kool en gekleurde soetrissies in.

“Dié optrede spruit nie uit enige verkeerde optrede deur Suid-Afrikaanse boere nie. Hierdie lande (Namibië en Botswana) het eerder die behoefte aangevoer om hul eie plaaslike produksie te beskerm, selfs al gaan hulle voort om hul produkte na Suid-Afrika uit te voer.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!