Sitrus: Uitvoere die antwoord
Kenner oor ontwikkeling van uitvoerbedryf
Lede van Citrus Namibia het die nodige stappe bespreek wat Namibië in 'n uitvoerland vir sitrusproduksie moet verander.
“Die heilige beker is uitvoere, uitvoere en nogmaals uitvoere. Die plaaslike mark is nie die antwoord nie.”
Só het mnr. Andries van der Westhuizen van Stargrow, ʼn vrugtebemarkingsonderneming van Suid-Afrika, verlede Maandag by die nuutgestigde Sitrus Kwekersvereniging van Namibië (Citrus Namibia) se eerste jaarvergadering gesê.
Hy moes lede toespreek oor die vereistes om ʼn uitvoermark vir Namibiese sitrusproduksie te ontwikkel.
Van der Westhuizen meen egter tekortkominge by die Walvisbaaise hawe sal dringend getakel moet word, omdat dit ʼn sleutelrol sal speel met genoeg vasmeerplekke vir skepe, genoeg hyskrane en sake wat doeltreffend en glad verloop.
“Groot skepe kan nie staan en wag vir vragte nie, dit kos hulle te veel geld. Dan hou hulle eerder verby. Dit is wat by die Suid-Afrikaanse hawens gebeur en dit maak ons besigheid seer. Die hawe moet die hoogste standaarde handhaaf,” het hy gesê.
BIOSEKURITEIT
Van der Westhuizen waarsku ook dat Namibië streng daarop sal moet let om slegs gesonde sitrusplante in te voer, omdat sekere peste en plae sitrusuitvoere heeltemal in duie kan laat stort.
“Dit sluit in die swamsiekte swartvlek (CBS), die valskodlingmot, sitrusvergroeningsiekte asook sitrus huanglongbing (HLB).
“Laasgenoemde is ʼn bakterieë wat deur ‘n Asiese insek oorgedra word. Dit is nie tans in Suid-Afrika nie, maar dit is ʼn ernstige bedreiging waarteen julle bedryf beskerm moet word.”
Van der Westhuizen sê die regering se rol sal wees om die bedryf te beskerm deur die nodige maatreëls vir biosekuriteit in te stel en toe te pas.
“Die maklikste ding vir julle om te doen, is om jul grense te beheer en seker te maak die plantmateriaal wat inkom, is skoon van kwarantyn-peste.”
Swartvlek is tans teenwoordig in Suid-Afrikaanse boorde.
Die vereniging se voorsitter, mnr. André Neethling, het verduidelik Amerika sal nie enige vrugte invoer wat met swartvlek besmet is nie.
“As die siekte in enige boord in ʼn streek ontdek word, word die hele streek vir uitvoere gesluit. Dit is ‘n ernstige kwessie in Suid-Afrika tussen die sitrusboorde in die ooste en weste. Wat Europa betref – hulle kom inspekteer jou boord en doen ʼn opname, voor jy kan uitvoer. Die siektes is iets wat ons uit die land moet hou.
Hy het bygevoeg dit beteken produsente moet versigtig wees wat hulle van kwekerye koop omdat daar tans nog nie voldoende beheermaatreëls bestaan teen die invoer van siek sitrusbome nie.
“Daar word tans besprekings hieroor met die Namibiese Akkerbouraad (NAB) gevoer sodat maatreëls opgestel kan word.”
Van der Westhuizen sê vir Namibië om toegang tot die beste internasionale sitrus variëteite te kry, moet die regering deel word van die internasionale unie vir die beskerming van nuwe variëteite van plante (Upov).
“Dan sal julle onbelemmerde toegang tot dié variëteite kan kry, want dan is die eienaars daarvan verseker dat hul besitregte oor die variëteit beskerm sal word.”
Hy het bygevoeg dat die regering ook sekere uitvoerstandaarde sal moet opstel en afdwing, terwyl dit ook daarvoor verantwoordelik sal wees om vir markte te onderhandel.
“Dit gaan oor die ontsluiting van vrye handelsmarkte, inter-regeringsooreenkomste en ander programme vir produsente om vrugte van die beste gehalte te verseker.”
PAKHUISE
Pakhuise word ook benodig vir uitvoere – met Van der Westhuizen wat meen elke pakhuis sal deur sowat 80 tot 100 ha sitrusboorde bedien moet word.
“Voorheen is daar altyd beraam dat 60 ha se sitrusboorde genoeg is, maar vandag word dit as die absolute minimum beskou.
“Julle gaan moet saamwerk, anders gaan dit nie werk nie.
“Daar sal ook moet gekyk word na weegbrûe vir besendings, terwyl die bedryf gaan moet saamwerk vir die totstandkoming van sekondêre verwerkingsgeriewe, wat byvoorbeeld in die verpulping en versapping van die sitrus betrokke sal wees.
“Verkoelingsgeriewe is belangrik, want sommige uitvoermarkte vereis dat die vrugte verkoel moet word. Dit is egter ʼn duur uitgawe en produsente sal hierin ook moet saamwerk – individue gaan dit nie alleen kan doen nie.
“Werk saam met jou bure om die bedryf op die been te kry.”
Van der Westhuizen sê verder is die ontwikkeling van ʼn handelsmerk vir Namibiese produksie ook baie belangrik.
“Invoerlande sal eindelik hul vertroue in so handelsmerk moet kan stel.”
Hy sê wat individue produsente betref, moet hulle die beste landboupraktyke toepas en die regulasies streng nakom.
“Moenie by dit probeer omseil nie.”
Daarteenoor is die vereniging se rol onder meer tegniese en marknavorsing, opleiding asook die versameling en verspreiding van inligting. Dit moet as ʼn platform dien waar verskeie entiteite binne die bedryf met mekaar skakel, asook met die regering.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie