Mnr. André Neethling, Namibië Sitrusvereniging (NCA) se tydelike voorsitter. FOTO ELVIRA HATTINGH
Mnr. André Neethling, Namibië Sitrusvereniging (NCA) se tydelike voorsitter. FOTO ELVIRA HATTINGH

Sitrusboere kies binnekort leiers

Talle soek omgewingsklaring vir sitrusproduksie
Die nuutgestigte Namibië Sitrusvereniging hou op 18 Julie sy eerste ­jaarvergadering op Tsumeb, waartydens 'n ­verteenwoordigende bestuur gekies sal word.
Elvira Hattingh
Terwyl sitrusboere volgende maand hul leiers sal kies, beskik vier groepe sitrusprodusente reeds oor omgewingsklaringsertifikate vir sitrusproduksie – ’n syfer wat na verwagting binnekort tot tien sal aangroei.

Die nuutgestigte Namibië Sitrusvereniging (NCA) se tydelike voorsitter, mnr. André Neethling, het onlangs aan Republikein gesê die vereniging hou op 18 Julie sy eerste jaarvergadering op Tsumeb, waartydens opbetaalde lede die geleentheid gaan hê om vir ’n verteenwoordigende bestuur te stem.

Neethling, wat saam met ander onlangs self ook ’n aansoek om ’n omgewingsklaringsertifikaat ingedien het vir ’n gesamentlike beleggingsprojek genaamd Nam-Citco naby die Tschudi-kopermyn, sê die plan is om sitrusverbouing rondom pakhuise te konsentreer.

Die plan is dat elke pakhuis deur sowat 300 tot 600 hektaar se sitrusaanplantings bedien moet word.

“Alle boere kan op ’n hektaar boer en aan die naaste pakhuis lewer. Die plan is om al die nodige uitvoergeriewe tussen die pakhuise te skep en verkoelingsgeriewe by die Walvisbaaise uitvoerhawe.

“Tans word met alle betrokke partye beraadslaag en ’n loodskomitee sal binnekort op die been gebring word om die projek saam met die regering te bestuur,” het hy bygevoeg.

Neethling het verduidelik dat enige een wat meer as 1 hektaar onder besproeiing wil plaas, aansoek moet doen vir ’n wateronttrekkingspermit.

“Indien jy vir die onttrekking van meer as 200 000 m³ water per jaar aansoek doen, moet jy ’n omgewingsimpakstudie laat doen en ’n omgewingsklaringsertifikaat bekom. Dié proses neem sowat nege maande tot ’n jaar,” het hy verduidelik.

NAM-CITCO

Intussen neem Neethling en ander produsente die voortou as dit kom by die vestiging van sitrusproduksie in die vorm van ’n gesamentlike beleggingsprojek genaamd Nam-Citco, wat hoofsaaklik daarop wil fokus om sitrus-variëteite onder besproeiing vir uitvoerdoeleindes te produseer.

Nam-Citco beplan om oor vyf jaar 125 hektaar se sitrus te vestig – suurlemoene, pomelo’s, sagte sitrus, nawels en valencia’s. Nam-Citco beplan om ’n internasionaal erkende sitrusprodusent oor ’n tydperk van drie tot sewe jaar in Namibië te raak.

Dienooreenkomstig het die Environmental Compliance Consultancy (ECC) verlede maand ’n aansoek en wysigings aan ’n bestaande omgewingsklaringsertifikaat namens Three Musketeers Investment, van mnr. André Neethling, by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme ingedien.

Dis glo om meer partye by die bestaande !Uris- en Bobos-besproeiingskema by die plaas Uris in die Tsumeb-omgewing in te sluit.

Volgens die aansoek sal die grootte van die gebied waarop besproeiing gedoen word, dieselfde bly soos uiteengesit onder die huidige geldige omgewingsklaringsertifikaat, maar nou oor vier plase (125 hektaar elk) verdeel word.

Op die plaas Uris is reeds 80 ha vir sitrusproduksie skoongemaak en 20 ha is voorberei. ’n Besproeiingskema vir die eerste 10,5 ha word ook geïnstalleer, waar 4 998 Star Ruby-pomelobome tans geplant word. Op die plaas Bobos is mielies, pampoen en sitrus op 80 ha geplant.

WATER

In die aansoek word verduidelik dat die plaas Uris 481 aan die Tschudi-kopermyn grens, wat wes van Tsumeb geleë is.

’n Ooreenkoms, wat vantevore reeds deur die hoërhof goedgekeur is, bestaan tussen die myn en die plaaseienaar om oortollige water binne die mynput op die plaas te benut.

Die eienaars van die grond is Three Musketeers Properties en Josef Ismael.

Sodra die Tschudi-myn weer operasioneel is, word beplan om sowat 6 miljoen m³ water per jaar (16 800 m³/dag) vir die besproeiingskema te benut.

Volgens die ECC hou die projek ’n onbeduidende risiko vir die omgewing in. Selfs enige potensiële risiko vir die agteruitgang van grondgehalte, is klein.

“Verskeie beste praktyke en ingrypingsmaatreëls is geïdentifiseer om dit te voorkom en te verminder so ver dit prakties moontlik is . . .” lui die aansoek.

Namibië sal na verwagting in staat wees om hoë opbrengste sitrusvrugte veel vroeër as ander sitrusproduserende lande, te produseer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer