Die plaas Otjisazu het vir die soveelste keer deurgeloop nadat die weermag tydens opleiding by Oseri kari die veld aan die brand geskiet het. FOTO VERSKAF
Die plaas Otjisazu het vir die soveelste keer deurgeloop nadat die weermag tydens opleiding by Oseri kari die veld aan die brand geskiet het. FOTO VERSKAF

‘Soldate daag met AK’s by veldbrand op’

Ronelle Rademeyer
Die eienaar van die plaas Otjiruze naby Oseri Kari buite Okahandja waar ’n veldbrand Donderdag ontstaan het toe die weermag lewendige ammunisie tydens opleiding gebruik het, sê dit is onwaar dat boere in die omgewing nie hul samewerking verleen het aan soldate wat die brand wou bestry nie.

Mnr. Alex Rogl sê die teendeel is eerder waar. “Ek het die rook om 11:41 gewaar en die veldbrand gerapporteer. Teen 12:12 het die veldbrand van Oseri Kari af na die plaas Otjisazu (van dr. Hartmut Weimann) versprei, wat omtrent 70 persent afgebrand het.”

Rogl sê nagenoeg 40 soldate het eers tussen 17:00 en 18:00 op Otjisazu aangekom waar boere uit die omgewing besig was om die veldbrand te bestry.

“Hulle het met hulle AK’s (AK-47-aanvalsgewere) opgedaag, maar het geen brandbestrydingstoerusting of water by hulle gehad nie,” sê hy.

Weimann het wéér bykans al sy weiding verloor. Dit is nadat die weermag hom in 2018 met sowat N$550 000 vergoed het vir skade aan infrastruktuur soos sy grensheining wat tydens ’n verwoestende veldbrand in 2014 in die slag gebly het.

Destyds is die veldbrand ook deur skietoefeninge by Oseri Kari veroorsaak.

Rogl sê na raming het tussen 10 000 en 12 000 hektaar Donderdag en Vrydag afgebrand.

“Verlede jaar was die skade baie groter en omtrent 80 000 het afgebrand. Dit het gebrand van Okahandja af tot by Seeis – óók nadat die weermag die veld aan die brand geskiet het.”

Kol. Petrus Shilumbu, weermag-woordvoerder, het aan Republikein gesê volgens die bevelvoerders teenwoordig tydens die brandbestryding Donderdag en Vrydag, is die situasie vererger omdat die boere nie hul samewerking gegee het nie. Hy sê die weermag nie toegang tot plase kon kry nie omdat hekke gesluit was.

“’n Raadslid van Ovitoto het later ingegryp en gehelp sodat hulle toegang kon kry,” sê Shilumbu.

Rogl sê elke jaar praat boere in die omgewing met die weermag en vra skietoefeninge moet liewer tydens die groen seisoen plaasvind, of hulle moet seker maak dit is skoon rondom die skietbaan en brandpaaie word geskraap.

Volgens hom val die versoek telkemale op dowe ore.

Die Namibië Landbou-unie (NLU) het ook in die verlede al amptelike versoeke in dié verband aan die weermag gerig., sê me. Elke Eggers, Weimann se lewensmaat, wat alle briefwisseling en dokumentasie oor die veldbrande wat op Oseri Kari ontstaan het, op lêer het .

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!