Dooie sprinkane lê in 'n groot, bruin "vlek" oor die gransvlaktes op 'n plaas in die Suide nadat die swerm met gif bespuit is. Foto Verskaf
Dooie sprinkane lê in 'n groot, bruin "vlek" oor die gransvlaktes op 'n plaas in die Suide nadat die swerm met gif bespuit is. Foto Verskaf

Sprinkane nié onder beheer

Boere hoop koue bring verligting
Boere in die Suide hoop die koue sal verligting bring teen die tierende sprinkaanplaag wat steeds nie onder beheer is nie.
Ronelle Rademeyer
Boere in die suide van Namibië is ontsteld oor die ministerie van landbou, water en grondhervorming se uitlating verlede week dat die ongekende hoeveelheid bruinsprinkaanswerms wat die ||Kharas- en Hardapstreek teister, “onder beheer is”.

Volgens baie boere is die stryd ver van gewonne en moet hulle steeds teen hoë koste die ergste plaag van bruinsprinkane in die land se boerderygeskiedenis bestry.

Twee deeltydse Suide-boere, mnre. Poenie van Zyl en Thinus Smith, het Republikein gekontak na aanleiding van ‘n berig verlede week waarin mnr. Chrispin Matongela, ‘n woordvoerder van die ministerie, te kenne gegee het die plaag is onder beheer. Volgens hulle is dit onwaar en woed die stryd voort.

Mnr. Kobus van der Merwe, afgevaardigde vir die ||Kharasstreek uit die uitvoerende raad van die Namibië Landbou-unie (NLU), sê groot swerms is gister steeds aangemeld.

“In die Grünau-omgewing is swerms aangemeld wat oor die 7 km lank was. By Ariamsvlei is ook nuwe swerms aangemeld, asook in die Warmbad-omgewing en in die Karasberge,” sê hy.

Volgens Van der Merwe is die eerste swerm ook in die Koës-omgewing opgemerk.

Hy sê uit die gebied wes van die B1 by Ais-Ais en Gondwanapark word nie aanmeldings ontvang nie, “want daar is baie min mense op plase oor”. Dit beslaan ‘n gebied van bykans 300 000 ha.

Van der Merwe sê dit kan wees dat daar ook groot swerms voorkom wat nie bestry word nie.

Hy sê dit wil lyk asof die veel laer temperature van die afgelope twee dae wel ‘n impak op die sprinkaanswerms se beweeglikheid het.

“Hier is mense in ons omgewing wie se waterpype vanoggend gevries was. Ons plaas ons hoop daarop dat die koue hulle minder aktief sal maak en hulle tot stilstand sal bring.

“Wat ons die afgelope weke beleef het, is ongekend. As jy dit nie self gesien het nie, sal jy dit nie glo nie. Dit was totaal buite beheer,” sê Van der Merwe.

Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfshoof van Croplife SA, sê kouer toestande sal die verspreiding van sprinkane beperk.

Hy het aan Landbouweekblad gesê in die Oos-Kaap waar kouer toestande sedert die begin van April voorkom, begin sprinkaanswerms uitgedun raak.

Hy meen as gevolg van die kouer weer sal daar waarskynlik nie voor die winter nuwe sprinkane uitbroei nie. Verdoorn meen huidige swerms sal teen die middel van Mei uitgedun wees. –[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!