Stryd vir VCF en dieregesondheid
Alternatief sal bedryf van N$7 miljard belemmer
Veeprodusente is bekommerd oor die risiko wat die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika inhou, terwyl hulle aanhou werk om die VCF te versterk.
“Die bek-en-klouseer in Suid-Afrika is vir ons ’n groot bekommernis. Ons veg nou hier aan die ‘bokant’, maar in hierdie stadium raak die probleem in Suid-Afrika net al hoe groter.”
Só gesels mnr. Dawie Kok, streekverteenwoordiger van die Namibië Landbou-unie (NLU) vir die GTO-streek (Grootfontein-, Tsumeb- en Otavi).
Dit kom net ná die ministerie van landbou, water en grondhervorming Woensdag sy maatreëls opgeskerp het teen die verspreiding van bek-en-klou vanaf Suid-Afrika, wat insluit dat die invoer van enige vars of gevriese varkvleis ook nou opgeskort is, asook die invoer van byvoorbeeld gras en lusern.
Terselfdertyd sal terugkerende speenkalflorries nou eers ontsmet moet word voor dit Namibië kan binnekom.
Kok is ook lid van die Nuruchas Boerevereniging, wat saam met ander partye nou betrokke is met instandhoudingswerk asook elektrifisering van die veterinêre kordonheining (VCF) – soveel so dat Nuruchas al geld vir herstelwerk bewillig het.
Kok en talle ander landbouers is bekommerd oor die risiko wat die uitbreking van bek-en-klouseer in die buurland vir Namibië inhou – iets waarna dr. Albertina Shilongo, hoof-veeartsenybeampte in die direktoraat veeartsenydienste (DVS) vroeër vandeesweek as ’n “opregte besorgdheid” verwys het.
“Ek dink dit is noodsaaklik dat ons mense hiervan bewus moet maak – veral as dit by ons suidelike grense kom,” het Kok gesê.
’n Uitbreking van bek-en-klouseer suid van die VCF sal na verwagting katastrofiese gevolge vir Namibië se totale vleisuitvoerbedryf hê.
Volgens die Vleisraad van Namibië maak die vleisuitvoerbedryf ’n reusebydrae van N$7,3 miljard tot Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) – wat sekondêre bedrywe wat hiervan afhanklik is, asook uitvoerbedrywe uitsluit.
DUUR WERK
Intussen is enkele boereverenigings en produsente, tesame met die Vleisraad, voortdurend besig om dele van die heining te elektrifiseer en in stand te hou.
Kok sê egter elektrifisering is duur en kos bykans N$300 000 vir 15 km. Dit is egter nodig om te keer dat veral olifante die draad aanhoudend beskadig.
Van dié geld kom uit die sakke van onder meer boereverenigings, wat wil hê die beplande statutêre heffing op veeverkope moet so gou as moontlik ingestel word. Die Vleisraad bied ook uitstekende ondersteuning vir die herstelwerk aan die VCF, waar moontlik, het Kok gesê.
HEFFING
Dié heffing moet egter vir die instandhouding van die veterinêre kordonheining aangewend word, asook vir verskeie ander noodsaaklike dag-tot-dag-dienste van nasionale veeartsenydienste.
Dr. Anja Boshoff-De Witt, bestuurder van vleisstandaarde by die Vleisraad, het verduidelik die heffing kan nog nie ingestel word nie aangesien die minister van landbou, water en grondhervorming dit eers moet afteken.
“Ons het dit verlede jaar September reeds aan hulle oorhandig,” het sy verduidelik.
Sy sê oor die afgelope jare moes die landboubedryf die staat se veeartsenydienste al hoe meer help met fondse omdat die regering nie in staat is nie.
“Die Vleisraad moes ook heeltyd sy reserwefondse hiervoor gebruik, en ons kan ook nie aanhou daarmee nie,” het sy gesê.
Terwyl die landboubedryf meen die VCF is nodig vir die bekamping van bek-en-klouseer, wat ’n gedeelte van die land toelaat om vleis na onder meer winsgewende oorsese markte uit te voer, stem nie almal saam nie.
Die voormalige burgemeester van Windhoek en Affirmative Repositioning-aktivis, dr. Job Amupanda, het in Mei verlede jaar ’n aansoek by die hof ingedien om die VCF as onwettig te laat verklaar.
Die Vleisraad het onlangs versoek dat die verhoor eers ná 16 September vanjaar uitgestel moet word.
Die betrokke partye verskyn op 16 Augustus vir voorverhoorverrigtinge in die hoërhof in Windhoek. Terselfdertyd het meer partye intussen aansoek gedoen om tot die hofgeding toe te tree.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie