Subsidies kom vir sitrusproduksie

Wil verbouing aanmoedig
Die Akkerbouraad sê die eerste stap is om almal te registreer wat betrokke is in die produksie, verwerking, berging en bemarking van sitrusprodukte.
Elvira Hattingh
Die Namibië Akkerbouraad (NAB) sê hy beplan om die verkryging van hoë gehalte sitrussaailinge asook die vestiging van plaaslike sitruskwekerye te subsidieer.

“Ons is besig om die logistiek agtermekaar te kry, sodat ons werklik sitrusproduksie in die land kan aanmoedig.

“Die Akkerbouraad sal ook opleidingsprogramme finansier en betrokke wees by enige sitrusnavorsing, wat nodig mag wees.”

Só het me. Paulina Mubiana, die NAB se beampte vir tuinboubemarkingsontwikkeling op Tsumeb, Maandag tydens die Sitrus Kwekersvereniging van Namibië (Citrus Namibia) se eerste jaarvergadering gesê.

Sy sê dit sal alles deel vorm van die Namibië Vrugte Ontwikkelingskema, waarvan die hoofdoel is om die plaaslike produksie en bemarking van vrugte te stimuleer.

“Ons het besef ʼn groot gaping bestaan as dit by sitrusproduksie kom. Die Akkerbouraad het dus in 2021 met die ontwikkelingskema vir vrugte vorendag gekom – waar ons fokus op die ontwikkeling van die plaaslike vrugtebedryf.

“Die heel eerste ding wat ons egter nou moet doen, is om enige persoon en instansie wat betrokke is in die produksie, verwerking, berging en bemarking van sitrusprodukte te registreer. Tans het ons nog nie ʼn databasis nie,” het sy verduidelik.

PLAASLIKE PRODUKSIE

Mubiana, wat die Akkerbouraad se sake op Tsumeb, maar ook in die Karstgebied en die groter sentrale noorde hanteer, sê Namibië voer sowat 95% in van alle vrugte wat plaaslik verbruik word.

Sy het, aan die hand van amptelike invoer- en uitvoersyfers van 2019 –’20, gewys dat Namibië self sowat 0,04 ton kumkwat produseer (en 3,57 ton invoer), asook 39,95 ton suurlemoen (invoere 678,89 ton), 14,41 ton nartjies (invoere 348,53 ton) en 304,31 ton lemoene (invoere 4 157,95 ton).

“Ons voorsien self in slegs 7% van die Namibiërs se vraag na lemoene en 6% in die vraag na suurlemoene,” het Mubiana verduidelik.

“Hierdie syfers sluit net die produkte in wat in die formele mark verkoop is – dit is al waarvan ons rekord het. Ons weet die meerderheid van ons sitrusproduksie gaan na die informele mark, waarvan nie rekord gehou word nie.

“Soos julle kan sien, is die vraag na sitrusprodukte daar, maar ons moet georganiseerd raak. Die Namibië Akkerbouraad (NAB) wil saamwerk om hierdie gaping te oorbrug,” het Mubiana gesê.

REGISTRASIE NODIG

Mubiana het gesê registrasie van alle produsente is nodig, sodat hulle kan weet met watter vrugtebome daar plaaslik geboer word, wat produsente se verwagte oes vir die seisoen is, asook vir ander doeleindes, soos om sitrus as ʼn beheerde produk te verklaar en produsente te help om hul produksie te bemark.

“Sodra ons die inligting het, kan ons ʼn verslag saamstel wat met die handelaars gedeel kan word. Dit kan die bemarking van die produkte fasiliteer.

“Sodra ons statistieke het, kan ons ook vasstel wat die plaaslike oesverwagting sal wees. As ons sien dat dit groter as die plaaslike vraag is, kan ons die grense vir invoere sluit.

“As ons byvoorbeeld sien dat ons oes in 30% van die plaaslike vraag sal voorsien, kan ons invoere beperk om net in die res Namibiërs se behoeftes – die oorblywende 70% – te voorsien.

“So maak ons seker dat dit wat plaaslik beskikbaar is, opgekoop word.”

Sy het verduidelik voor dit kan gebeur, sal sitrusprodukte egter eers as ‘n spesiaal beheerde produk gelys moet word, wat op die beurt net kan gebeur sodra daar ‘n databasis van plaaslike produsente en ander rolspelers is.

STANDAARDE

Mubiana het gesê sekere standaarde vir die gehalte van vrugte sal van toepassing wees.

Sy het gesê tans word ʼn standaard vir beste praktyke vir die plaaslike sitrusbedryf ontwikkel en dat die publiek se insette op die oomblik nog hieroor ontvang word.

“Op die oomblik is die standaard nog vrywillig, maar die Akkerbouraad sal tegniese regulasies vir die sitrusbedryf ontwikkel en afdwing. Dit sal na verwagting reeds volgende jaar geïmplementeer word. Die doel is slegs om die bedryf te beskerm.

Sy het bygevoeg die rol van die Akkerbouraad is om inspeksies van plase en geriewe te doen om seker te maak daar word volgens voorgeskrewe standaarde en beste praktyke geproduseer. Daar word dan ook raad gegee, waar plase en geriewe tekort skiet.

* Tydens die sitrusprodusente se jaarvergadering is die vereniging na die Sitrus Kwekersvereniging van Namibië (Citrus Namibia) herdoop, terwyl mnr. André Neethling as voorsitter herkies is. Die ondervoorsitter is 'n bekende en gevestigde sitrusboer van Tsumeb, mnr. Jan Keyser. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!