’n Ontwerp uit swakara-pels op die loopplank. FOTO SWAKARA FACEBOOK
’n Ontwerp uit swakara-pels op die loopplank. FOTO SWAKARA FACEBOOK

Swakara-bedryf se hoop op Helsinki

Eerste veiling binnekort by Saga Furs
Nuwe geleenthede wink vir die swakara-bedryf ná die suksesvolle sluiting van 'n kontrak tussen die raad en Saga Furs.
Elvira Hattingh
Altesaam sowat 12 152 swakara-pelse het gister vir die eerste keer in Helsinki aangeland vir die heel eerste swakara-veiling by Saga Furs.

Saga Furs is ’n nuwe internasionale agent vir swakara-pelse, met sy hoofkantoor in Finland.

Dit volg ná die suksesvolle sluiting van ’n kontrak tussen die Swakara-raad en die nuwe veilingshuis, wat ’n nuwe toekoms vir die Namibiese swakara-pelsbedryf beloof.

Dit aldus Julene Meyer, voorsitter van die Namibiese Swakara-raad.

“Ek en Jaco van Zyl vlieg eerskomende Sondag Finland toe vir die veiling wat op die namiddag van 9 Junie plaasvind,” het sy in ’n kennisgewing aan produsente gesê. Van Zyl is die bestuurder van Agra se pelssentrum in Windhoek.

Van Zyl het in ’n telefoniese gesprek aan Republikein gesê die wisselkoers tans tel ook in die guns van plaaslike swakara-boere en dat hulle hoopvol is. Dit kom ná die bedryf die afgelope jare swaar getrek het onder andere weens die demper wat die pandemie op internasionale pelsverkope geplaas het.

Meyer sê daar is “redelik navrae” na die pelse.

“Die aanbod is ongelukkig klein en nie ons beste nie – met omtrent 66% daarvan wat nie by Kopenhagen Fur verkoop het nie.

“Alle lotte is egter deurgegaan en hersorteer, saam met die vars pelse. Alhoewel die aanbod klein is, is ons positief dat dit die kopers se goedkeuring sal wegdra,” het Meyer gesê.

Dit kom ná die ineenstorting van die mark vir nertspelse láát in 2020 en die gevolglike likwidasie van Kopenhagen Fur, wat tot dusver die agent vir Namibiese swakara-pelse was. Dit het Swakara genoop om ’n ander internasionale agent vir die verkope van pelse te vind.

VOORUITSIG

Saga Furs het glo enkele maande gelede ’n aanduiding aan plaaslike produsente gegee dat hulle verwag die internasionale pelsbedryf sal na verwagting beter vaar as wat hy in sy onlangse vooruitskatting voorsien het.

“Die mark het redelik beweging begin toon ná China sy Covid-maatreëls begin verslap het, met aanlyn verkope wat oor die algemeen goed gedoen het,” is produsente meegedeel.

Tog beïnvloed die konflik tussen Rusland en Oekraïne die mark negatief. Voornemende kopers glo egter dat die mark vir pelstipes, buiten nerts (mink) en Blue Fox, potensiaal inhou.

Kopenhagen Fur het in Desember 2020 aangekondig dat dit sy bates oor 24 maande sou likwideer.

Dit het gebeur nadat die Deense regering opdrag vir ’n massa-uitwissing van nertse gegee het nadat ’n mutasie van die Coronavirus onder hulle waargeneem is. Die opveil van nertspelse is sentraal tot Kopenhagen Fur en Denemarke was die wêreld se grootste nertsprodusent. Die maatskappy was 90 jaar oud.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!