Taaier as droogte, siektes

Mahangu as alternatiewe graangewas
Elvira Hattingh
Mahangu-tipe of pêrelgiers (pearl millet), insluitend sorghum, maak minder as 3% van die internasionale handel in graangewasse uit.

Terselfdertyd kan dié tipe gewas ’n goeie opsie wees in ’n omgewing waar die veerkragtigheid van wêreldwye handel in graanmarkte verbeter moet word en aan produksie-skokke onderwerp is.

Boonop is die gewas gehard, droogte- en siektebestand en kan dit met min onderhoud oorleef.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) in Namibië het in sy jongste nuusbrief gesê vanjaar is as die internasionale jaar van mahangu-gewasse gedoop – ’n geleentheid om bewusmaking te kweek van die verskeidenheid voordele wat die gewas inhou – alles van sy voedingswaarde en gesondheid tot omgewingsvolhoubaarheid en ekonomiese ontwikkeling.

Die vraag na mahangu-tipe gewasse het egter gekrimp omdat ander graangewasse soos koring, mielies en rys al hoe gewilder onder verbruikers raak.

Terselfdertyd is mahangu stapelvoedsel vir meer as 50% van die plaaslike bevolking – volgens statistiek deur die Namibiese Akkerbouraad (NAB).

Dit word plaaslik in die Zambezi-, Kavango-Oos- en Kavango-Wes-, Ohangwena-, Omusati-, Oshana-, Oshikoto-, dele van die Otjozondjupa-streek en die Tsumkwe-gebied gekweek.

“Die bevordering van mahangu-gewasse en herwinning van markgeleenthede, kan boonop bykomende bronne van inkomste vir kleinboere skep . . .” het die FAO gesê.

DROOGTEBESTAND

In droë gebiede is mahangu dikwels die enigste gewas wat in die droë seisoen geoes kan word en is dus ’n noodsaaklike item in huishoudings se kosmandjies.

Die gewas kan ook in swak en onvrugbare grond onder droëlandtoestande groei en beroof die grond nie van voedingstowwe nie.

Om die rede word daar dikwels na dit verwys as ’n gewas wat bestand is teen klimaatsverandering – omdat dit met min onderhoud en insette in droë dele van die wêreld gegroei kan word. Dit is ook minder kwesbaar vir siektes en peste.

Daarbenewens is die gewas ’n goeie bron van minerale, vesels, antioksidante en proteïen. Dit is ’n goeie voedsel vir mense met hoëbloeddruk-probleme, is vry van gluten en ’n kostedoeltreffende bron van yster.

Dit bevat ook baie koper, yster, magnesium, fosfor, selenium en sink en is ook ’n bron van tiamien en vitamien B6, sê die FAO.

Dit het selfs ’n beter voedingswaarde as verfynde gewasse, insluitende van koring, rys of mielies.

‘MAKGEMAAKֽ’

Hierdie gewas is van die heel eerste om deur mense “makgemaak” of geproduseer te word en is ’n belangrike voedselbron vir miljoene mense in Afrika suid van die Sahara asook in Asië.

Pêrelgiers verwys na ’n verskeidenheid gewasse wat klein graankorrels onder droëlandtoestande kan produseer. Dit sluit onder meer mahangu-, pêrel-, proso-, jakkalsstert-, boerenerf, klein, kodo-, bruintop-, vinger- en guinee-giers, asook swart en wit fonio, sorghum, tef en Job se trane in.

Dit het sy oorsprong in Wes-Afrika en kom vandag wydverspreid oor die semidroë, tropiese dele van Afrika en Asië voor – alhoewel dit hoofsaaklik in lande in Afrika suid van die Sahara gekweek word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!