Touwys gemaak oor dieremisdaadtonele

Eerste kursus vir die jaar
Kursusgangers het onder meer geleer oor misdaadfotografie, om afgietsels van skoenafdrukke te neem en afdrukke van motorspore te maak.
Elvira Hattingh
Voornemende vee- of wildstropers sal voorts lig moet loop vir boere wat onlangs ‘n kursus in die hantering van dieremisdaadtonele bygewoon het en nou goed toegerus is om alles van hoe om bewysstukke te versamel tot die hantering van hofsake, te hanteer.

In hul jongste nuusbrief skryf Wildlife Vets Namibia se Mariska Bijsterbosch dat die geleentheid deur boere, plaasbestuurders, lede van teenstropingseenhede en natuurbewaarders bygewoon is, wat dikwels met veediefstal of wildstropery te doen kry.

Die kursus wat vanaf 4 tot 6 Maart by die Etango Ranch naby Windhoek aangebied is, was die eerste vir die jaar. ‘n Tweede kursus sal vanaf 13 tot 15 Mei by Kifaru Bush Camp in die Outjo-distrik aangebied word.

Bijsterbosch skryf kursusgangers word spesifiek geleer oor die hantering van dieremisdaadtonele asook bewysstukke. Dié kennis kan egter op enige misdaadtoneel aangewend word, ook waar daar byvoorbeeld ‘n sonpaneel of ander plaastoerusting gesteel is.

“Tydens die eerste dag van die kursus word mense ingelig oor hoe ingewikkeld ‘n misdaadtoneel is, die belangrikheid van DNS en hoe maklik dit is om jou eie DNS per ongeluk op die misdaadtoneel te laat, wat jou ook ‘n verdagte kan maak,” skryf sy.

Die professionele fotograaf Dirk Heinrich het kursusgangers gewys hoe om misdaadtonele af te neem en die deelnemers is ook geleer hoe post-mortem forensiese ondersoeke gedoen word, en het ook ander basiese wenke ontvang.

“Op die tweede dag is daar op die hantering van ‘n misdaadtoneel gefokus asook hoe om bewysstukke te versamel en te bewaar. Dit is opgevolg deur lesse oor lyftaal, om verslae te skryf en hofverskynings,” skryf sy.

Kursusgangers het wenke ontvang oor die hantering van hofverskynings.

Verder is deelnemers geleer hoe om skoenspore en wielspore af te neem en het hulle afgietsels van skoenafdrukke gemaak.

“Dit bied ‘n permanente bewysstuk van die oortreder se skoen,” skryf sy.

Hulle het ook geleer hoe om ‘n afdruk van motorspore te maak.

Die kursusgangers moes ‘n misdaadtoneel, ‘n “huisinbraak”, heeltemal op hul eie hanteer waar daar items “gesteel” is.

Vir meer inligting kan Wildlife Vets Namibia se Facebook-blad of webwerf besoek word, of Bijsterbosch kan by +264 (0) 81 382 8473 geskakel word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer