Tsumkwe-inwoners soek geregtigheid

San se lewensbestaan word bedreig
Die regering het 137 onwettige heinings gevind waarvan 57 reeds teen 'n koste van N$349 407 verwyder is.
Augetto Graig
Die lewensbestaan van die !Xun San van die N‡a Jaqna-bewaringsgebied in Tsumkwe-Wes en die Ju/’hoansi San van die Nyae Nyae-bewaringsgebied in Tsumkwe-Oos word tans bedreig.

Dit weens onwettige vee wat hul weiding opvreet.

Die Nyae Nyae-ontwikkelingstigting se woordvoerder, Saskia Sheehama, het verlede week ʼn mediaverklaring namens dié randgemeenskappe uitgereik.

“Die langtermyn potensiële negatiewe impak van die onwettige weiding van beeste, en die onwettige omheining van plase om die duiwelsklou-hulpbron, en die potensiaal daarvan as ’n inkomstebron in beide Nyae Nyae en N‡a Jaqna is aansienlik en moet dringend getakel word,” lui die verklaring.

Sy haal ’n gemeenskapslid aan: “Ons toekoms en die toekoms van ons kinders is onseker. Ons beoefen nie meer ons kultuur nie.

“Ryk en politiek-gekoppelde boere en hul vee het ons gebiede beset waar ons natuurlike hulpbronne geleë is. Die beeste vernietig ons kos en ons medisinale plante.

“Dit put ons hulpbronne uit. Ons raak armer en armer en as gevolg daarvan neem misdaad in ons dorpies toe. Ons is veronderstel om die wet na te kom, maar dit kom voor dat sommige mense nie die wet gehoorsaam nie en hulself met die min hulpbronne verryk wat ons oor het.” Gemeenskapslede het gevra om anoniem te bly uit vrees vir vergelding.

Die Nyae Nyae-stigting sê die onwettige besetting van die beskermde grond het reeds 15 jaar gelede begin, en verwys na mediaberigte vanaf 2009 wat vertel van boere wat in hegtenis geneem is, en die teenstand wat onwettige boere in 2017 gebied het.

Dié bewaringsgebied en die Ju/’hoansi Tradisionele Owerheid het vier boere in Julie 2015 hof toe gesleep nadat hulle die heining geknip en meer as 1 000 beeste ingebring het.

Ná die ingryping van die voormalige polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het die hofsaak in 2016 begin, maar die saak sloer steeds voort.

Die N‡a Jaqna-gemeenskap het ’n saak in 2016 aanhangig gemaak en 22 boere moes die grond verlaat het, maar die bevel is na bewering skaars uitgevoer.

“Die N‡a Jaqna-bewaringsgebied probeer steeds om daagliks onwettige heinings en boorgate binne wildgebiede te keer met min ondersteuning van die regering af,” luidens die verklaring.

Die woordvoerder vir die ministerie van landbou, water en grondhervorming, Jona Musheko, sê egter die regering het nie misluk in die handhawing van wetgewing rakende die grond op Tsumkwe nie.

Hy sê die ministerie het ondersoek ingestel en 137 onwettige heinings opgespoor. Altesaam 57 daarvan is reeds teen ’n koste van N$349 407 verwyder.

Die ministerie het onwettige heinings van 19 kilometer in Kanovlei gevind, 11 km in Bubi Pos, 23 km in !Kadu en 105 km by #Ha-Du.

Die ministerie werk saam met die Otjozondjupa Kommunale Grondraad en die ministerie van justisie om die oorblywende 42 heinings te verwyder, volgens Musheko, wat die kwessie as ingewikkeld beskryf.

Uitgebreide ondersoeke word uitgevoer om die wettigheid van enige heining vas te stel, sê hy.

Tot dusver is 34 mense skuldig bevind en opdrag gegee om teen hul eie koste die onwettige heinings te verwyder.

Nóg vyf heinings moet ingevolge ’n bevel van die appèltribunaal verwyder word, terwyl ’n hofbevel vir die verwydering van nog 18 heinings uitgereik is, sê hy.

Een uitdaging is om die eienaars van die heinings op te spoor, sê hy.

“Die proses om die onwettigheid van ’n heining te bewys is nie eenvoudig nie, en ook nie ’n twee dae lange proses nie. Dit is ’n lang proses met komponente wat buite die jurisdiksie van die ministerie val. Andersins geniet die Tsumkwe-kwessie die hoogste aandag in die ministerie,” het hy bygevoeg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!