Foto ter illustrasie/Junior Aklei Chaky
Foto ter illustrasie/Junior Aklei Chaky

Verbod op mielie-invoere glo gelig

Iréne-Mari van der Walt
’n Verbod op die invoer van mielies en verwante mielieprodukte wat die ministerie van landbou, water en grondhervorming verlede Woensdag uitgereik het, is volgens bronne in die bedryf “nie-amptelik teruggetrek”. Amptenare in die ministerie kon dit egter nie bevestig nie.

Daar kon ook nie duidelikheid verskaf word oor wanneer ’n amptelike terugtrekking verwag kan word nie.

’n Verklaring van die ministerie dui op ’n uitbreking van knopvrotsiekte (Phytophthora palmivora) in palmprodukte en Goss- bakteriese verwelkskroei (Clavibacter michiganensis subsp. nebraskensis) in die Suid-Afrikaanse provinsies van die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes.

Dit nadat die Verenigde Nasies se Voedsel en Landbou-organisasie (FAO) verlede jaar in ’n verslag gesê het Namibië se graanproduksie was omtrent ’n derde minder as die vyfjaar-gemiddeld weens swak reën en buitengewone temperature gedurende die reënseisoen.

“’n Kleiner mielie-oes is verantwoordelik vir die grootste deel van die afname in die totale graanproduksie, wat die gewas se hoë sensitiwiteit vir watertekorte (in die algemeen) weerspieël in vergelyking met giers en sorghum, die twee ander sleutelgraangewasse" lui die FAO se verslag.

Gegewe dat Namibië gemiddeld tweederdes van sy graan invoer, het die FAO voorspel dat Namibië weens die versengende droogte in die 2024-’25-bemarkingsjaar ’n bogemiddelde 330 000 ton graan vir die jaar sal moet invoer – waarvan die meerderheid mielies vir menslike verbruik en vir voer sal wees.

“Die koers van mielie-invoer in die eerste vyf maande van die 2024-’25-bemarkingsjaar is byna dubbel die vlak van die vorige jaar, wat die verhoogde invoerbehoeftes weerspieël,” het die FAO in sy verslag gesê.

Vanaf Oktober verlede jaar tot Maart vanjaar sal 1,26 miljoen mense voedeselonsekerheid in die gesig staar, volgens die FAO.

Hierdie syfer is amper dubbeld wat dit in dieselfde tydperk in die vorige jaar was.

Die ministerie se woordvoerder, Simon Nghipandulwa, het gesê hy wag vir die ministerie se verklaring om onderteken te word voor die ministerie dit amptelik vrystel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer