Verligting oor gewysigde houtskoolreëls
Bedryf neem al meer vroue in diens
Terwyl die houtskoolbedryf onder al hoe meer druk verkeer, is rolspelers vasberade om seker te maak produsente kom maatreëls ná om veldbrande te voorkom.
Die houtskoolbedryf het ʼn sug van verligting geslaak nadat die direktoraat van bosbou houtskoolregulasies verlede week gewysig het.
Dié regulasies wat in April vanjaar afgekondig is, was volgens die meerderheid produsente onprakties en onuitvoerbaar.
Kolemakers hoef nou net ʼn 5 m-strook skoon te hou rondom die kamp waarin hulle kole brand, of andersins ʼn 5 m breë brandpad te maak wat minstens 200 m ver van die plek is waar hulle houtskool brand. Die vereiste vir 15 m breë brandpaaie op jou plaasgrense is ter syde gestel.
Hulle kan ook nou net hul bure in kennis stel dat hulle houtskool produseer en hoef nie meer geskrewe toestemming te kry nie.
Die Namibië Houtskoolvereniging (NCA) sê bestuurder, mnr. Michael Degé, sê dit volg op twee maande se onderhandelinge met die nuwe direkteur van bosbou, mnr. Johnson Ndokosho. Die direktoraat is ʼn afdeling binne die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme.
Degé het die direkteur geprys dat hy na produsente se voorstelle geluister het en oop daarvoor was om die wysigings te maak. Hy meen dit is nodig vir die oorlewing van die bedryf, wat plaaslik vir sowat 12 000 mense werk bied, ʼn oorlewingsmeganisme vir landbouers is en al hoe meer vroue in diens neem.
Hy sê die belangrikste verandering is dat die kamp waarin jy houtskool brand, nou net ʼn 5 m-brandpad rondom moet hê.
“Dit was die grootste kopseer vir produsente en die verandering waaroor almal dankbaar is. Ons het die direktoraat daarop gewys dat ʼn 15 m-brandpad nie ʼn brand keer nie, terwyl so ʼn brandpad onmoontlik in klipperige grond is.
“Met die wysiging van die bosbou-wet verlede jaar, het ons reeds dié debatte oor brandpaaie gevoer. Daar word ʼn 5 m-brandpad vereis, want dit is voldoende sodat jy kan ry sonder om jou motor te beskadig.
“Brandpaaie is egter ʼn vereiste vir alle plase, nie net die van houtskoolprodusente nie. Om ʼn 5 m-brandpad op die grense van ʼn plaas met ʼn grootte van 2 000 ha te skraap, sal N$70 000 kos. Die mense het nie nou die geld daarvoor nie,” het hy verduidelik.
WAAKSAAM
“Ons by die NCA tree nou strenger as ooit vantevore op as dit by voorsorgmaatreëls teen brande kom – nie net op houtskoolplase nie, maar op álle plase.
Hy sê die maatreëls vereis dat brandende kilns sáám gegroepeer word en dat daar 30 m rondom skoongemaak moet word.
“Daar sal streng opgetree word teen produsente wat in enkeloonde verbranding doen wat verspreid rondstaan. Die probleem is toesighouding.
“Produsente wat dit doen, sal ʼn kans kry om dit reg te stel, waarna daar weer ʼn inspeksie gehou sal word en indien dit nie reggestel is nie, sal hul permitte opgeskort word. Dit is reeds op verskeie plase gedoen,” het Degé gesê.
“Ons soek nie vanjaar brande as gevolg van houtskoolproduksie nie. Ons weet ons gaan dit kry, maar ons wil dit sover moontlik vermy.
“Ons standpunt is ook dat individuele oortreders gestraf moet word en nie die hele bedryf omdat vyf of ses mense hulle nie aan die reëls steur nie.
“Ons doen ʼn beroep op almal om dit aan te meld as ʼn produsent nie gehoor aan die regulasies gee nie. Dit gaan oor die behoud van die bedryf.
“Oortreders kan by bosbou aangemeld word en ons vra dat klagtes ook net na die NCA toe ‘deurgebel’ word, dan kan ons opvolg dat daar teen oortreders opgetree word,” het hy gesê. “Ons sal almal moet saamstaan om die probleem te takel, want dit gaan oor die oorlewing van die bedryf.”
TREK SWAAR
“Die houtskoolbedryf kry tans swaar. Die dieselprys en ander insetkoste vir produsente het kwaai gestyg, maar die produsent kry nie méér geld vir sy houtskool nie.
“Die prys het oor die afgelope drie jaar gestagneer en daar is geweldige druk op die bedryf,” het Degé gesê.
Hy sê die koste van die vraghouers waarin houtskool uitgevoer word, het intussen ook verdubbel, terwyl daar steeds ʼn tekort is.
“Die mense daar buite besef nie dat produsente houtskool produseer om te oorleef nie. Hulle doen die land ook ʼn guns – want hulle help met ontbossing,” het hy gesê.
“Tot 60% van die werkers in houtskoolfabrieke is nou vrouens. Hulle is meer verantwoordelik. Op plase hou hulle ook beter toesig oor die oonde – hulle loop nie rond nie en tydens proewe het ons gevind daar waar vroue met die oonde werk, die gehalte en produksie van die houtskool verbeter.”
Degé sê hulle verwag dat al hoe meer vroue oor die volgende twee tot drie jaar in die houtskoolbedryf in diens geneem sal word om die “potte te brand”, terwyl mans meer net hout sal kap.
Hy sê as die bedryf werkers moet laat gaan, sal dit ʼn wye ekonomiese impak hê. “Dit is ’n baie groot bedryf, ons kan dit nie net stop sit nie, maar ons moet verantwoordelik optree,” het hy beklemtoon. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie