No Image Caption

Vol asdromme, leë mae

Wêreld vermors derde van alle geproduseerde kos
Minder mense in Namibië en elders in die wêreld sal honger ly as doeltreffende maniere gevind word om voedselvermorsing vanaf produksie tot verbruik te bekamp.
Ronelle Rademeyer
Die vlakke van honger in die wêreld was nog nooit so hoog soos nou nie.

Volgens die Wêreldbank se 2020 Voedselkrisisverslag het die getal honger mense wêreldwyd in 2021 alle vorige rekord oortref, met byna 193 miljoen mense wat akute voedselonsekerheid beleef het. Dit is 40 miljoen méér mense as wat in 2020 honger gely het.

Selfs voor die pandemie mense se inkomste verminder en voorsieningskettings wêreldwyd ontwrig het, was chroniese en akute honger aan die toeneem weens verskeie faktore. Dit sluit konflikn tussen lande, swak sosio-ekonomiese toestande, natuurrampe, klimaatsverandering, peste en plae in.

Die impak van die oorlog in die Oekraïne het voedselsekerheid wêreldwyd verder in die gedrang gebring, met voedselpryse wat in die afsienbare toekoms hoog sal bly en na verwagting nóg miljoene mense in akute voedselonsekerheid sal dompel, sê die Wêreldbank in sy verslag oor stygende voedselonsekerheid.

Volgens die Wêreldbank se jongste oorsig oor Namibië leef 1,6 miljoen mense nou in armoede.

Dit volg nadat 200 000 méér Namibiërs gedurende die eerste jaar van die Covid-19-pandemie in armoede verval het, sê die bank in sy oorsig.

“Die pandemie het meestal reeds kwesbare mense geraak, wat dreig om sosiale gapings verder te vergroot en reeds uiters hoë ongelykheid te verhoog,” sê die Wêreldbank.

Volgens die Integrated Food Security Phase Classification (IPC) se verslag vir die laaste kwartaal van 2021, beleef 835 739 Namibiërs (33%) geringe honger, 631 679 mense matige honger en 118 616 van die land se inwoners (5%) ernstige honger. Volgens hierdie klassifikasie bevind geen Namibiërs hulle in die ergste graad van honger, naamlik katastrofiese hongersnood nie.

Die IPC stel sy verslae saam uit inligting wat deur die Namibiese regering en die Verenigde Nasiese se Wêreldvoedselprogram (WFP) WFP en Kinderfonds (Unicef) voorsien word.

VERMORSING IS HONGER SE VYAND

Die onstellende en baie tragiese teenpool van die hongerwerklikheid is dat een derde van alle voedsel wat vir menslike gebruik geproduseer word, wêreldwyd verlore gaan of vermors word.

Volgens die WFP beloop hierdie vermorsing sowat 1,3 miljard ton voedsel per jaar, en die geldwaarde daarvan word op ongeveer US$1 biljoen (US$1 000 000 000 000) geraam.

Die WPF sê die hoeveelheid voedsel wat jaarliks geproduseer maar nooit geëet word nie, is genoeg om twee miljard mense te voed.

Om wêreldwye voedselvermorsing op kleinhandel- en verbruikersvlak teen 2030 met die helfte te verminder is een van die VN se topprioriteite. Trouens, dit is een van die organisasie se 17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling (SDG’s). Namibië is ’n ondertekenaar van die SDG.

Volgens die WFP se verslag oor voedsel wat verlore gaan, vermors verbruikers in ryk lande elke jaar amper soveel voedsel as die hele netto voedselproduksie van Afrika suid van die Sahara.

In ontwikkelende lande soos Namibië vind sowat 40 persent van verliese plaas op na-oes- en verwerkingsvlakke.

In ryk nywerheidslande skuif die vermorsing na die kleinhandelaars en verbruikers waar meer as 40 persent van verliese plaasvind.

SITUASIE IN NAMIBIË

Namibië produseer nie genoeg voedsel vir sy eie verbruiksbehoeftes nie en steun sterk op invoere om in sy inwoners se voedingsbehoeftes te voorsien.

Volgens die Namibië Zero Honger Strategiese Hersieningsverslag van 2015 wat deur die Nasionale Beplanningskommissie en die Kantoor van die Eerste Minister saamgestel is, gaan ongeveer 24% van alle voedsel wat jaarliks deur veral kleinboere in kommunale gebiede geproduseer word, voor verbruik verlore.

Die verslag wys daarop dat hoewel daar duidelike bewyse van voedselverliese en -vermorsing is, geen omvattende rekords hiervan in Namibië bestaan nie.

Vir doeleindes van die verslag is gesteun op die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se internasionale statistiek wat toon die beraamde jaarlikse verlies aan grane beloop ongeveer 30%, en dat 40–50% van wortelgewasse, vrugte en groente, 20% van oliesade, vleis en suiwelprodukte en 35% van vis verlore gaan of vermors word.

In die produksie van groente of plantgebaseerde produkte, insluitend waatlemoene, kool en pampoene, word die verliese in Namibië geskat op 14% vir kommersiële boere terwyl kommunale boere se verliese

meer as 40% vir bederfbare produkte is. By mielies, sorghum en koring word die verliese op per produksieseisoen 20% geraam.

Volgens die verslag is die rede daarvoor die feit dat produsente in landelike gebiede is nie kundig is oor voedselverlies en -vermorsing nie, veral tydens oes en berging.

“Sommige graangewasse word deur voëls of ander diere gevreet terwyl dit nog op die lande is. Ander graan word ongeoes gelaat weens gebrek aan arbeid en gemeganiseerde toerugting. Sommige produkte word ok voortydig geoes,” blyk dit uit die verslag.

Voedselverliese in kommunale gebiede het dikwels ’n strukturele dimensie soos swak padinfrastruktuur of die onvermoë om geoeste produkte na markte te vervoer.

NAVORSING DEUR DIE WNNR

Navorsing ontbreek oor kosvermorsing op huishoudelike vlak in Namibië, maar ’n verslag deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) toon huishoudings in van die grootste stede in Suid-Afrika gooi jaarliks tussen 6 kg en 12 kg kos per persoon in munisipale vullishouers.

Prof. Suzan Oelofse, hoofnavorser by die WNNR, sê 82% van voedselverlies gebeur voordat dit die verbruiker bereik, maar die voedselafval gegenereer tydens verbruik het die afgelope agt jaar van 5% tot 18% gestyg.

Redes vir vermorsing word as volg deur die WNNR aangestip:

• Produkte kneus tydens vervoer en het ’n korter rakleeftyd;

• Te dikwels werk ys- en vrieskaste nie teen die regte temperatuur nie, en kragonderbrekings kan tot bederf lei.

• Die gasvryheidsektor – soos restaurants, wegneem-eetplekke, hotelle, koffiewinkels, kafeterias by skole, werkplekke en universiteite, en kombuise in tronke en hospitale – koop en berei dikwels te veel kos voor of nie volgens die vraag nie.

• Huishoudings koop, berei of bedien te veel kos of koop produkte bloot omdat dit op ’n spesiale aanbieding is, maar gebruik dit nie. Daar is baie vermorsing as produkte geskil of gekerf word.

Die WNNR sê kosvermorsing dra by tot voedselonsekerheid en is ook sleg vir die ekonomie en omgewing. Só is die hoeveelheid water wat uit grond- en oppervlakwaterbronne onttrek word om kos in Suid-Afrika te produseer, gelykstaande aan die inhoud van 680 000 swembaddens van Olimpiese grootte of sowat 33% van die inhoudsvermoë van die Gariepdam.

WAT IS DIE OPLOSSING?

In ’n poging om maniere te vind waarop Namibiërs kan seker maak minder kos gaan verlore en meer honger mae word gevul, het die Capricorn-stigting vandeesweek die Food Waste Challenge 2022 bekend gestel.

Hierdeur word mense aangemoedig om met vernuftige planne vorendag te kom. N$100 000 se prysgeld is vir die wenvoorstel op die spel.

Besoek capricornfoodwastechallenge.skild.com vir meer inligting oor hierdie kompetisie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!