Vonke spat oor rook by Leonardville

Houtskool takel rookprobleem proaktief
Die rook word veroorsaak deur 'n eenmalige maar noodsaaklike projek om van skadelike prosopis-plante ontslae te raak.
Elvira Hattingh
Die probleem met rook in die Leonardville-omgewing word nie deur houtskoolproduksie veroorsaak nie, maar veel eerder deur ’n noodsaaklike projek om die prosopis-indringerplant in die rivierloop uit te roei.

’n Ondersoek deur die Houtskoolvereniging van Namibië (CAoN), en die direktoraat van bosbou binne die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme dui daarop dat geen houtskool in die rivierloop verbrand word nie, maar eerder prosopisse.

Dié inligting is deur die Leonardville Boerevereniging bevestig.

Dit kom ná klagtes van ’n inwoner, Yvonne Conradie, ontvang is oor die rook van houtskoolproduksie in die omgewing “wat die daaglikse lewe versteur en die gesondheid van mense en diere benadeel”.

Die dorp se boerevereniging sê egter dat die rook veroorsaak word deur ’n projek om prosopisse te verwyder en dat geen houtskool-verbranding in Conradie se nabye omgewing gedoen word nie.

“Hierdie is ’n eenmalige projek om die prosopisse uit te roei, wat tans ons watertafel laat sak, terwyl ons die water nodig het vir ons diere,” het die boerevereniging laat weet.

Daar word glo kleiner takke rondom die prosopis-stamme in die rivierloop geplaas om dit te laat smeul – klaarblyklik die enigste manier om doeltreffend van die indringerplant ontslae te raak.

Prosopis is ’n indringerplant uit Texas, wat uitermatig baie water gebruik en maak boonop beskermde spesies soos kameeldoringbome dood.

ROOK

CAoN se bestuurder, Michael Degé, het beklemtoon dat die rook nie met houtskoolproduksie verband hou nie.

Hy het bygevoeg dat prosopis-plante buitendien glad nie geskik vir houtskoolproduksie is nie.

Hy sê daar die vereniging het reeds herhaaldelik met Conradie in kontak getree oor haar klagtes.

Conradie kla egter die rook verswelg die omgewing en dat sy reeds daagliks simptome, soos ’n seer keel, hoes, hoofpyn, borspyn, naarheid en rugpyn ervaar, terwyl haar huis ook na rook ruik en alles deur ’n “fyn swart stof, soos roet” bedek word. Sy verwys na internasionale navorsing wat op die skadelike gevolge dui as rook ingeasem word.

Degé het gesê hy is nietemin in gesprek met die direktoraat van bosbou om wéér die klagte te ondersoek. Hy sê egter die riglyne vir houtskoolproduksie waarna Conradie verwys, is verouderd en intussen deur nuwe maatreëls vervang.

“Ons probeer ons bes om die probleem met die rook te takel,” het hy gesê.

Hy sê ten spyte van Conradie se beweringe dat houtskoolprodusente nie retort-kilns gebruik wat minder rook produseer nie, het uitgebreide navorsing deur CAoN bevind dat die retort-kilns binne ’n maand deurbrand, onbekostigbaar is en dat die houtskool wat dit produseer, nie uitvoergehalte is nie.

“Daarteenoor is CAoN besig om rookkondensators op kilns te bevorder, wat rookproduksie beduidend verminder en waarmee verskillende waardevolle byprodukte vervaardig kan word, wat insluit houtasyn, het Degé verduidelik.

“Daar is egter nog groot markontwikkeling wat voorlê en dit gaan minstens nog ’n jaar neem. Dit help nie om hiermee te begin as die nodige markte nog nie ontsluit is nie,” het hy verduidelik.

Hy het bygevoeg dat nuwe wetgewing ook binnekort afgekondig sal word wat houtskoolproduksie snags sal verbied, juis om rookproduksie te verminder.

Degé het beklemtoon dat houtskoolproduksie opnuut ’n oorlewingsmeganisme vir boere tydens die heersende droogte is.

Hy sê ook dit is onregverdig om die houtskoolbedryf vir stof te blameer.

“Wat moet ons aan die stof doen? Inteendeel, houtskoolproduksie kan help om weiding te herstel en meer gras wat groei, sal help vir minder stof,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer