Wagyu’s kry eie nis-abattoir

Oorsese markte die mikpunt
'n Wagyu-teler met jarelange kennis van nismark-sakeontwikkeling staan aan stuur van sake om 'n aanleg te ontwikkel wat in Wagyu-boere se unieke vereistes voorsien.
Elvira Hattingh
’n Namibiese abattoir wat daarin spesialiseer om Wagyu-beeste, maar ook kleinvee vir uitsoekmarkte te slag, open eersdaags sy deure op Rehoboth.

Buiten dat die C-klas abattoir reeds in werking is, kry dit ook nou sy voetwerk reg om teen einde November in ’n B-klas abattoir omskep te wees, sodat dit na SADC-lande kan uitvoer.

Mnr. Sarel du Toit, ’n Wagyu-teler van Dordabis en direksievoorsitter van die DAS-groep van maatskappye, wat die inisiatief saam met Jaco Smit as uitvoerende hoof dryf, verduidelik dit word alles gedoen sonder om produksie vir tussenposes langer as drie dae op ’n keer te onderbreek.

“Ons volgende oogmerk is om teen einde April volgende jaar ’n klas-A abattoir te wees. Dan sal dit beskik oor verwerkings- en ontbeningsgeriewe, asook verpakkingsfasiliteite.

“Hierdie inisiatief sal beheer en bestuur word deur die Desert Wagyu maatskappy, wat aan Wagyu-telers behoort en deur Barrie de Beer bestuur sal word.

“Ons hoop om teen die einde van volgende jaar in die posisie te wees om ’n kwota of toegang te verkry tot die Europese Unie asook die Skandinawiese lande.”

Du Toit sê die besluit om ’n eie abattoir vir die beesras op die been te bring, is gebore uit die unieke vereistes vir die verwerking en gradering van Wagyu-karkasse – iets waarvoor bestaande abattoirs nie werklik ruimte en tyd kon skep nie.

Boonop beteken ’n eie abattoir Wagyu-produsente sal nou volgens marmering (die intermuskulêre vetbeoordeling) vir hul baie gesogte produk betaal word, en nie soos by die ander abattoirs – ’n gegewe prys vir diere wat geklassifiseer word as ’n A-, B- of C-klas nie.

“Hoe beter die marmeringstelling, hoe beter sal die prys wees. Hier word die produsent betaal vir die gehalte wat hy lewer.”

Wagyu-vleis word wêreldwyd as ’n gesogte, hoë gehalte nisproduk beskou en die vraag daarna oorskry die aanbod verreweg. Daar is ook ’n wêreldwye verskuiwing in verbruikersvoorkeur van kwantiteit na gehalte.

UNIEKE VEREISTES

Du Toit sê plaaslike Wagyu-telers het verskeie uitdagings ervaar as dit by plaaslike abattoirs kom, wat insluit ’n beperking met slagbeurte asook die korrekte en eiesoortige ontbening en versnitting van die karkas.

“Meatco het alle private kontrakverslagting opgeskort en Beefcor is reeds vir ’n tydperk vooruit baie vol geboek.

Hy sê Wagyu-beeste het groot karkasse en weeg lewendig, as dit slaggereed is, tussen 700 en 800 kg.

“Dit beteken die karkasse neem langer om verkoel te word tot die gewenste temperatuur van 4 grade Celsius – wat nodig is om dit te kan gradeer.

“Die gradering van die Wagyu-karkasse word gedoen aan die hand van ’n internasionaal erkende skanderingsproses, wat deur die Namibiese Vleisraad oorsien en toegepas word.”

Wagyu-snitte verskil ook baie van die van gewone beeskarkasse, verduidelik Du Toit. “Wagyu’s se voorkwarte is spesifiek baie groot en daaruit kan tot 13 verskillende snitte gehaal word.

“Die verwerking en ontbening is dus uniek tot die ras.

“As jou diere reeds slaggereed is en die verbruiker die vleis soek, kan jy nie sukkel om ’n slagbeurt of ’n plek te kry om die verwerking te doen nie. Derhalwe het ons daarna gekyk om ’n eie slagplaas te koop of te bou,” sê Du Toit.

BOU OF KOOP?

“Namibië beskik eintlik reeds oor ’n ooraanbod van slagkapasiteit . Om nog ’n nuwe slagaanleg te bou en nuwe slagkapasiteit te skep, is ’n vermorsing. Daarom het ons besluit om ’n bestaande slagplaas te koop en daar is op Rehoboth besluit,” verduidelik Du Toit.

“Die aanleg is strategies goed geleë – dis sentraal binne die produksie-omgewing vir bees- en skaapvleis in Namibië en ook teen die B1-roete.

“Dis reeds ’n werkende en gelisensieerde klas-C-abattoir. Dit het aan die Rehoboth Gemeenskapstrust behoort, met wie ons onderhandel het en van wie ons eindelik die slagplaas gekoop het,” sê hy.

Eienaarskap van die voerkraal en abattoir asook die verwerking en bemarking sal gesetel wees tussen Exigrade Feeds, wat die DAS-groep se Namibiese filiaal is, asook Desert Wagyu, wat aan geregistreerde Namibiese Wagyu-telers behoort.

Du Toit verduidelik die groep is betrokke in ’n verskeidenheid van landbou-aktiwiteite, wat handel en vervaardiging in Namibië, Suid-Afrika en selfs Australië insluit.

Die DAS-groep is ’n familie-onderneming met Jaco Smit as die besturende direkteur en aandeelhouer van die groep, terwyl Du Toit as voorsitter van die direksie dien.

Desert Wagyu is ’n Namibies geregistreerde maatskappy wat omsien na die ontwikkeling, bemarking en voorsiening van Wagyu’s vir die aanleg op Rehoboth.

Exigrade Feeds bedryf reeds twee vismeelaanlegte in Namibië, op Walvisbaai en Lüderitz. “Ons vervaardig vismeel en 98% daarvan word uitgevoer,” het hy gesê.

“Ons is reeds sedert 1992 by ’n verskeidenheid van vervaardigingsprosesse betrokke. Hierdie is dus niks vreemds vir ons nie,” sê Du Toit.

KAPASITEIT

“Ons kyk na ’n kapasiteit van minimum 14 000 bees per jaar en tussen 30 000 en 40 000 skape per jaar,” het Du Toit verduidelik. Hy sê hulle gaan hoë waarde, premie-markte met die abattoir teiken.

“Ons beoog ’n uitvoerfasiliteit en gaan net in die ‘boonste deel’ van die mark funksioneer. Ons wil nie kommersieel of op groot skaal met byvoorbeeld Meatco of Beefcor meeding nie. Ons mik vir die nismark.

“Ons wil dieselfde doen met die skape – ons wil net die ‘beste deel’ van die mark dien en daarom sal ons dan bereid wees om aan die produsent ’n premie te betaal, want die verbruiker is bereid om dit te doen.”

Du Toit sê tans is daar slegs 16 Wagyu-telers in die land en nie naastenby genoeg vir die abattoir om nou al teen volle kapasiteit te slag nie.

“Volgende jaar sal ons na verwagting sowat 500 Wagyu’s hê om te slag – grotendeels vanaf slegs vier telers.

“Dis nog nie eens 5% van die abattoir se kapasiteit nie. Ons sal op dié kapasiteit inhaal deur vir ander slaghuise en byvoorbeeld vir Hartlief te slag.

“Die aanleg is nie net vir Wagyu daar nie, maar namate die Wagyu-mark groei, sal ons al meer van die diere vir verslagting inneem – totdat ’n mens uiteindelik die doel van die aanleg bereik,” verduidelik hy.

Du Toit meen hierdie aanleg kan meer produsente aanmoedig om met Wagyu-beeste te begin boer, aangesien hulle verseker is van ’n afset en ’n keuse het of hulle in ’n osproduksie- of speenkalfproduksiestelsel wil belê.

KEUSE

Du Toit sê produsente sal oor twee opsies vir afset beskik, naamlik om ’n bees wat slaggereed is aan die abattoir te lewer, óf hulle van speenkalwers te voorsien.

“Ons gaan ’n voerkraal by die abattoir vestig. Dit sal dien as ’n deurgangsfasiliteit vir beeste wat uitgaan Suid-Afrika toe, asook om slagdiere aan ons eie aanleg te verskaf.

“Hiervoor sal ons dan speenkalwers en stoordiere van Wagyu-produsente aankoop, waarvoor ons ’n premie sal kan aanbied.

“Dit beteken die teler het die opsie om vee nie self finaal vir verslagting af te rond nie

“Voer in Namibië is baie duur; beskikbaarheid is soms ’n probleem en droogtes is ook periodiek deel van ons omstandighede en omgewing.

“Die strategiese voordeel van die voornemende voerkraal is dat die DAS-groep van maatskappye ook in die verskaffing van veevoer-grondstowwe spesialiseer. Derhalwe het ons deurlopend toegang daartoe en vanweë ’n ekonomie van skaal, ook ’n kostevoordeel.

“Ons verskaf grondstowwe aan plaaslike sowel as Suid-Afrikaanse veevoermaatskappye. Ons het dus beter toegang hiertoe, asook kundigheid om die vee mee af te rond,” verduidelik hy.

Die Wagyu-beesras, sy bestuurstelsels, gradering en versnitting is nog nuut vir Namibië. Alles wat sedert 2017 tot nou gedoen is, is dus eintlik nog pionierswerk, het Du Toit verduidelik.

Wagyu-produksie is internasionaal onder toesig van die Wagyu-Wêreldraad, wat seker maak dieselfde protokolle, stelsels en standaarde word wêreldwyd toegepas. Namibië is die jongste van die 18 lidlande.

Kommentaar

Republikein 2025-04-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer