Wat jy oor sitrusboerdery moet weet
Produsente hou eerste jaarvergadering
Terwyl produsente tydens hul eerste jaarvergadering die vereniging tot die Sitrus Kwekersvereniging van Namibië (Citrus Namibia) herdoop het, het 'n kenner belangstellendes meer oor die bedryf vertel.
Vir die beste kans op sukses behoort voornemende sitrusprodusente in Namibië winsgewende sitrus-variëteite soos Tango, Late Navel en suurlemoene te oorweeg wanneer hulle hul boorde vestig.
Sou Namibië vroeë toegang tot uitvoermarkte met suurlemoene kan verkry – soos wat verwag word – kan dit ʼn baie lonende bedryf vir die land word.
Dit volgens mnr. Andries van der Westhuizen van Stargrow, ʼn Suid-Afrikaanse vrugtebemarkingsonderneming. Hy het die afgelope Maandag lede van die nuutgestigde Sitrus Kwekersvereniging van Namibië (Citrus Namibia) op Tsumeb toegespreek, waar hul eerste jaarvergadering gehou is.
Die geleentheid is deur onder meer belangstellendes uit die Mieliedriehoek, maar ook uit die Okavango-streke, Outjo, Otjiwarongo, Okakarara, Summerdown asook Stampriet bygewoon.
Van der Westhuizen het aan die hand van ʼn grafiek gewys hoe bogenoemde sitrus-variëteite uiters winsgewend kan wees en na verwagting goed in Namibiese omstandighede sal aard. Hy het egter gemaan dat sy berekeninge op die toestande en faktore in die Wes-Kaap gebaseer is.
“Wat suurlemoene betref, geld dit net as Namibië vroeg by die mark kan inkom. Daarsonder sal dié syfer heeltemal anders lyk,” het hy gesê.
Hy is egter van mening dat die winsgewendheid van ʼn plaaslike sitrusbedryf grootliks deur uitvoere gedryf sal word.
GELDSAKE
Mnr. André Neethling, die vereniging se voorsitter, het verduidelik dat een hektaar sitrus ʼn gemiddelde oes van sowat 60 ton (of 60 000 kg) per jaar kan lewer, waarvoor ʼn produsent sowat N$10 per kilogram kan ontvang.
Neethling, wat self onlangs ʼn sitrusboord van 10 ha gevestig het, hou die koste laag deur waatlemoene en botterskorsies tussen die rye bome te plant en die winste terug in die jong boord te ploeg.
Van der Westhuizen het verduidelik die aanvanklike koste om ʼn boord te vestig kan tussen N$115 000 en N$168 000 per ha beloop.
“Die operasionele koste van ʼn sitrusboord, vanaf jaar een tot dit in volle produksie is, wat meestal ná jaar vyf is, kan produsente altesaam ongeveer N$300 000 per ha kos.
“Dit sluit die toediening van kunsmis, onkruid-, swam- en pesdoders, brandstof, elektrisiteit, konsultante, arbeid, onderhoudkoste en die ontleding van grond en blare in,” het hy verduidelik.
Hy sê sodra produsente gereed is om hul produksie uit te voer, geld bykomende uitgawes, wat verskeie oudits behels deur onder meer supermarkte of ander partye om vas te stel of jy etiese en goeie boerderypraktyke volg.
Hy het gesê die syfers sal plek-tot-plek verskil na gelang van die klimaat, koste, wisselkoers en ander faktore.
“Voor jy ʼn boord kan vestig, moet jy sekere faktore in ag neem. Dit sluit in klimaat, jou grond, die water wat jy tot jou beskikking het, boom-enting, hoe dig jy gaan plant, die plantvariëteite wat jy gaan gebruik, kruisbestuiwing en winsgewendheid.”
VARIËTEITE
Van der Westhuizen het verduidelik daar is hoofsaaklik vier kategorieë van variëteite om van te kies, alhoewel daar ook verskeie subkategorieë van mutante en hibriede-soorte is.
“Daar is die groep wat maklik afskil (easy peelers), wat die satsuma-, clementine- en mandarine- variëteite insluit; en dan die kategorieë vir lemoene en lemmetjies, pomelo’s en lemoene (Navels, Valencias, Late Navels).”
Hy is van mening dat Namibiese produsente onder meer mandarine-variëteite moet oorweeg, wat láát ryp word en oraloor die wêreld in aanvraag is.
“Dit het ʼn hoër waarde en gewilde soorte in die kategorie is Nova, Tango, Nadorcott en Royal Honey Murcott.
“Wat suurlemoene betref – is Eureka die variëteit wat 90% van die tyd geproduseer word. Dit lewer dikwels groot oeste en is geskik vir verdere verwerking.
“Suurlemoene word ook nie per variëteit bemark nie, maar eerder net as ‘n suurlemoen,” het hy bygevoeg.
“Julle behoort ʼn groot deel van jul suurlemoene voor die einde van Maart te kan oes. In dié tyd is plaaslike markte asook dié in Europa sterk,” het Van der Westhuizen gesê.
Wat lemoene betref, stel hy voor Namibiese produsente beproef die sogenaamde Late Navel-variëteit. “Dit oes sowat dieselfde tyd as Valencias, maar dit het gewoonlik ʼn beter kleur, lewer beter oeste met ʼn hoër waarde en dit berg ook baie goed. Die gewilde soorte in die kategorie is Witkrans en Cambria.”
“Die sogenaamde ‘rooi pomelo’ of Star Ruby begin vroeg produseer, wat groot voordeel vir Namibiërs kan inhou. Dit lewer goeie oeste en dit stoor uitstekend – dit kan baie lank in verkoelingsgeriewe geberg word.”
Hy meen dit kan egter tot ʼn uitdaging lei, want as die noordelike halfrond ‘n goeie oes het, sal Namibië ʼn direkte mededinger wees. “Aan die ander kant, as hul stoorgeriewe leeg is, sal jy goeie pryse kry.
“Nog iets interessant oor die Star Ruby, is dat China al hoe meer hiervan opkoop. Dit is ‘n enorme mark en hulle is nie so streng op gehalte of grootte nie, maar baie streng op stiptelike aflewering,” het hy gesê.
“Sitrus is wyd aangepas en daar is bykans net twee faktore wat jou daarvan sal weerhou om dit te produseer – waarvan die eerste ryp is. Dit is ʼn ernstige kwessie vir sitrus en jong boompies kan vrek wanneer temperature so laag as -2°C of -3°C daal.
“Die tweede faktor is die wisselvalligheid van die dag- en nagtemperature wanneer die vrug se skil sy kleur ontwikkel. As jy wil uitvoer, moet die vrugte nie net – soos verder noord in Afrika – goed smaak nie, maar ook goed lyk,” het Van der Westhuizen gesê.
WATERBEHOEFTES
“As jy van mikro-besproeiing gebruik maak, wat waarskynlik makliker is as drip-besproeiing, benodig jy gemiddeld jaarliks sowat 8 500 m³ per ha.
“As jy reën ontvang, sal die syfer verlaag, maar as dit baie droog in die somer is, sal die syfer verhoog.”
Van der Westhuizen sê die voordeel van drip-besproeiing is dat jy sowat 20% minder water benodig (6500 m³ tot 7000 m³ per ha per jaar), maar dit is ʼn duurder opsie en moeiliker om te bestuur.
Nog ʼn voordeel van drip-besproeiing is dat jy vloeibare bemesting (fertigation) doeltreffend kan toepas, maar in sanderige grond moet jy bykans dubbel die hoeveelheid water gee omdat die water nie goed versprei nie.
“Ek sal enige een aanraai om met mikro-besproeiing te begin.” Hy sê die besluit word gewoonlik gebaseer op wat die skaarste hulpbron is – water, grond of bestuur.
Hy het ook bygevoeg dat die water se geleibaarheid nie bó een mag wees nie, maar dat dit gewoonlik nie ‘n probleem is nie. Dit gaan oor jou water se soutvlakke of die brakheid daarvan, wat die geleibaarheid beïnvloed.
Van der Westhuizen sê as dit by plantdigtheid kom, word daar in die algemeen ʼn ruimte van 5,5 tot 6,5 m tussen rye gelaat, terwyl daar sowat 2 tot 4 m tussen bome in ʼn ry oopgelos word.
“Gewilde maniere om dit te doen, is om 727 bome per ha te plant (2,5 m x 5,5 m), of 666 bome (2,5 m x 6 m) of 555 (3 m x 6 m). Ek stel voor julle gebruik een van die laaste twee opsies,” het hy gesê.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie