• Tuisblad
  • Landbou
  • ‘Groenskemas is ‘n skrootwerf vir duur toerusting’
FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

‘Groenskemas is ‘n skrootwerf vir duur toerusting’

Parlement, nasie mislei
Die huidige toestande van groenskemas in die land is volgens 'n verslag gelykstaande aan korrupsie en die diefstal van openbare hulpbronne.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ‘n Gebrek aan of geen toesig deur die ministerie van landbou, water en bosbou - hetsy met opset of uit pure nalatigheid - en onbevoegdheid. Dit is die skreiende kritiek van die parlementêre staande komitee vir natuurlike hulpbronne oor die bestuur van groenskemas in Zambezi, Kavango-Oos en -Wes , nadat dit in September 2022 hier besoek afgelê het.

In ‘n verdoemende verslag verwys die komitee na vier jaar van geen produktiwiteit, terwyl daar steeds vir die skemas begroot word. Dit beskuldig ook die ministerie daarvan dat dit die parlement met “onwaarhede” in hul jaarlikse verantwoordbaarheidsverslae tydens die nasionale begroting voer en dat daar geen besoeke aan die skemas plaasvind nie.

“Dit is gelykstaande aan korrupsie, bedrog, die mors van grond en die diefstal van openbare hulpbronne,” aldus die verslag. Dit maan drastiese optrede moet geneem word vanaf die hoof tot bedryfsbestuurders “vir hierdie mislukking en die misleiding van die parlement en die hele nasie”.

Die groenskemabeleid van 2008 is ontwerp om besproeiingsgeleenthede in die Mieliedriehoek (Grootfontein, Otavi, Tsumeb), sowel as in die noordelike sentrale en noordoostelike streke met die gebruik van die Kunene-, Kavango- en Zambeziriviere ten volle te benut.

Dit fokus ook op die bevordering van landbouprojekte in die Suide deur die gebruik van die Oranjerivier en damme soos Naute en Hardap. Die beleid fokus ook op die verhoging van landbouproduksie en maatskapplike ontwikkeing. Van die grootste oorwegings vir die ter plaatse ondersoeke was om die operasionale lewensvatbaarheid van die verskeie groenskemas te bepaal in die lig van verslae dat dit onproduktief en die meeste dormant is.

Van die bevindinge na afloop van die besoek is landbou-implemente wat deur amptenare sonder gevolge of aanspreeklikheid gestroop word en groenskemas die skrootwerf vir baie duur en gesofistikeerde toerusting maak. Daar is vertragings in die betaling van seisoenale werkers deur die ministerie van landbou, water en grondhervorming en besluite word deur die ministerie sonder konsultasie met plaasbestuurders gemaak.

Die ministerie neem eensydige besluite en daar is ‘n gebrek aan kommunikasie en koördinering tussen rolspelers oor die bedryf van die skemas. Die verslag verwys na teenstrydigheid in die toekenning van fondse aan die skemas, sowel as ‘n vertraging in die betaling van dienste soos krag en water wat gelewer is. Dit bevraagteken die hoë kragrekeninge wat aan Nored betaal word hetsy die skema in produksie is of nie. Dieselfde geld vir die hoë onkoste om produkte te vervoer om verwerk of verkoop te word. Die verslag stel voor dat die regering weer onderhandel met tradisionele owerhede oor die nuwe terme en voorwaardes van die groenskemas en nie ‘n eensydige besluit “vir sy eie mislukking” neem nie. Dit stel ook voor dat die skemas gedesentraliseer word en dat “vaardige en toegewyde” mense die landbousektor bestuur.

Met verwysing na die skemas se sakemodel wat in Windhoek gesentraliseer is, sê die verslag dit is om “die bates van die inwoners van Kavango-Wes en -Oos te stroop en bestuur te verryk”. Dit is ook die rede waarom hulle (inwoners) en ook die tradisionele owerhede bewustelik by die bestuur uitgesluit is. Die verslag gebruik ‘n voorbeeld waardie regering 1 500 hektaar vir ‘n groenskema huur, 300 hektaar besproei en net vir laasgenoemde betaal. “Die 1 200 hektaar is ongebruik en die ministerie weier om te betaal, wat ‘n baie vreemde reëling is. Die ministerie weier om die ongebruikte 1 200 hektaar aan die tradisionele owerheid of die vorige eienaars terug te gee om gebruik te word om voedsel te produseer,” lui die verslag.

Dit vra ook dat die ministerie verslag moet doen oor die Liselo-projek van 1 800 wat geoormerk is vir ‘n groenskema in Zambezi en waarop tot op hede N$40 miljoen bestee is. Dit ten spyte van die feit dat die grond braak lê en die heining gevandaliseer is.

“Die groenskemas wat deur die regering bestuur word, is onderwerp aan ‘n nie-funksionerende burokratiese stelsel wat deur Agribusdev se verkeerde sakemodel ingestel is. Dit sonder die oorweging van die gevolge van hul optrede of die gebrek aan hul optrede.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 21° | 32° Ruacana: 22° | 29° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 21° | 30° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 23° Rehoboth: 24° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 26° | 38° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 21° | 30° Cape Town: 20° | 30° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 30° Harare: 18° | 27° #REF! #REF!