Monah se skeppings op almal se lippe

Henriette Lamprecht
Haar skepping wat deur die Namibiese vrou van ’n Finse parlementslid gedra is, is deur meer as drie miljoen Finne gesien wat na dié land se regstreekse uitsending van sy onafhanklikheidsbal gekyk het.

Dorené Valkonen se uitrusting met die Namibiese landskap as inspirasie het soveel opslae in die buiteland gemaak, dat Ndeumona (Mona) Renatte Kandongo van Monah Creations sedertdien oorval word met vroue wat ook graag in een van die unieke skeppings wil pryk.

Die 34-jarige Monah vertel sy moedig kliënte gewoonlik aan om “iets anders te probeer”.

“Mode gaan vir my daaroor om jou onsekerhede te laat gaan en te sê ek is mooi soos ek is.”

Sy wou nog altyd ’n modeontwerper wees en toe sy die eerste keer agter ’n naaldwerkmasjien ingeskuif het, het dit gevoel asof sy daar hoort, sê Monah.

Tydens haar studies vir haar graad in bemarking het Monah ook vir ’n wyle naaldwerkklasse by ’n opleidingskool bygewoon. Omdat geld skraps was, het sy besluit om voltyds op haar graadstudies te fokus en ’n ander plan beraam om die nodige vaardighede aan te leer vir haar droom.

“Ek het tussen klasse na informele stalletjies gegaan en daar uitgehelp en ook geleer.”

Haar tannie het vir Monah twee naaldwerkmasjiene gekoop en toe sy voor dit inskuif, “kon ek dit onmiddellik doen. Dit was asof dit altyd so moes wees en dit was maklik vir my”.

Tydens haar matriekjaar in 2006 het van haar vriendinne gevra of sy nie vir hulle iets sal ontwerp nie.

“Dit was net die skets of ontwerp. Ek het die materiaal gekoop en iemand anders het dit gemaak. Ek het egter besef ek gaan nie so ’n wins maak nie, ek moet alles self doen. So sit jy ook jou passie daarin.”

Reeds met haar eerste modevertoning waaraan sy deelgeneem het, is haar skeppings goed ontvang, vertel Monah trots.

Met haar tweede modevertoning het sy besluit om ook plusgrootte skeppings deel van die loopplank te maak.

“Ek glo elke vrou is mooi, ongeag haar grootte.”

Haar pad het met Dorené Valkonen op Facebook gekruis waar laasgenoemde ’n beroep op Namibiese ontwerpers gedoen het om ontwerpe voor te lê waaruit sy haar keuse vir die Onafhanklikheidsbal sou maak. Dit het op ’n tyd gekom wat Monah pas vanuit Brittanje teruggekeer het en sy “regtig graag internasionaal met my skeppings wou gaan”.

Monah het vier sketse aan Valkonen per e-pos gestuur, hulle het daaroor gesels en twee weke later het Valkonen laat weet sy gaan een van Monah Creations se skeppings met die Namibiese landskap as inspirasie dra.

“Dis vir my baie belangrik dat my kliënte deel voel van my ontwerp en konsep.”

Sedert 2019 wat sy voltyds by Monah Creations betrokke is, verskaf sy werk aan sewe mense en erken “dit is baie werk, jy moet dit goed doen en ten volle toegewyd wees”.

Haar gunsteling-kledingstuk om te ontwerp en te maak, is aandrokke, “maar ek doen alles. Ek ontwerp en maak byvoorbeeld nie tradisionele Oshiwambo-rokke nie, maar doen my eie weergawe van dit. Dit is belangrik dat die kliënt gemaklik en geïnspireerd vol wanneer hulle my ontwerpe dra.”

Sy sou graag aan die Windhoekse Modeweek wil deelneem en beplan om in die ‘stil maande’ van Januarie tot Mei klere wat draggereed is te maak. Haar skeppings is te sien op Monah Creations se Facebook- en Instagramblaaie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!