Padtoer ná die vloed

Op reis in die Kaap
Die Kaapse skiereiland is die punt van Afrika se hart. Pedro Vorster deel in sy eerste aflewering van 'n reeks reisartikels sy padlangse toer.
Henriette Lamprecht
Pedro Vorster – Gedurende Junie en Julie vanjaar is die weer omgekrap en was die Moederstad genadeloos gekasty deur reusegolwe, sterk winde en stortreën.

Beslis nie vakansieweer nie.

Maar hoe gemaak as die Kaap jou roep en die datums vir ’n besoek staan so vas soos Tafelberg? Skik en aanpas is jou voorland.

In die draaikolk van die informele sosiale media, gretig om wyd en syd sensasioneel in te lig, moet ’n mens koelkop bly en die berigte oor reuseverspoelings voortdurend ontleed.

Daar is vier plekke waar die Wes-Kaap/Namibiese grens oorgesteek kan word en die veiligste vir gewone sedanne is per teerpad by Noordoewer en Ariamsvlei.

Op Keetmanshoop neem ’n man brandstof in. Hy ry ’n kragtige grênd vier-by-vier met ’n sleepwa waarin ’n perd sal pas. Goed, dan eerder ’n ponie. Sy Belville-nommerplaat noop my om hom te vra oor die padtoestand by Noordoewer. Volgens alle berigte is die Noordoewer/Vioolsdrif-grensposte gesluit, maar hier staan hy dan! En sy wa is skaars bemodder.

Ten spyte van sy nuus wat bots met ons inligting besluit ons om versigtig te wees en met ’n wye ompad via Ariamsvlei, die RSA in te gaan. Die weer is nooit regsaanspreeklik nie en maak soos hy wil. Buitendien is ons uitgelewer aan die tirannie van die verblyf – geen-geld-terug-plekbesprekings op ons roete.

So skop ’n padtoer af wat verbasend sinkroniseer met al die goor weer en paar dae van Wes-Kaapse kuierweer. Waar die weer droogmaak, maak die Wes-Kaapse sonskynmense daarvoor op met vriendelike en goeie diens.

Die N14-teerpad van Upington tot by Springbok is in ’n baie goeie toestand. Keimoes, die pienk padwinkel, Kakamas en die netjiese verrassing Pofadder, glip gou verby. Aggeneys is ’n reusemyn met ’n dorp. Sy reuse berge erts laat jou wonder hoe diep die pit daaragter moet wees waar die erts uitgedolwe was.

Toe skuif die drielem-windlaaiers soos wetenskapfiksie robotte uit van agter die suidelike horison. En dan is daar nog en meer. Na omtrent dertig van die masjiene hou ek op tel, maar soos brawe soldate bly hulle kom. Daar moet oor die honderd van die goed lemme swaai in die dorre Noord-Kaap. Hierdie is een enorme kragwindpark.

Springbok word omring deur klipkoppies en water loop Bybels uit die rotse. Ons meen dit is ’n goeie teken, want Eskom se ongewilde beurtkrag steek hier kop uit. Hoopvol, of te nie, daar word kruis en dwars gesoek na ’n eet- en verblyfplek, verkieslik met ’n kragopwekker. Die meeste is beset. Die dorpie raak al hoe vaker in die laat Saterdagmiddag soektog, maar ons kry eindelik ’n duur en nie die beste-waarde-vir-geld blyplek nie.

Die grondpaaie in die omtrek kan rof raak, maar die N7-teerpad tot in Lambertsbaai is oopgestel en goed. Hier gooi ons anker. Die hoteleienaar het vir drie jaar op Hentiesbaai gebly en reël uitstekende verblyf in ’n ruim ten volle toegeruste strandhuis vir ons. Die rotse breek die branders in dramatiese trourokskeppings en soos die son vir die nag wegduik onder die weste kim, word die seeskuim gekleur in alle skakerings van geel tot bloupers.

Benewens kreef, verskyn olierige bokkoms op die spyskaart. Die vis se stinkreuk neem egter die brawe eerste proeërs se eetlus weg.

Die voëleiland is goed bevolk met broeiende seerawe, beter bekend as kormorante en malgasse. Betaal vir ’n begeleide toer.

Dit is met nostalgie dat mens terugdink aan die Lambertsbaai van so 25 jaar gelede. Behalwe dat die voëleiland se besoek gratis was, is ons verwelkom met trosse druiwe en vrugte. Straatverkopers het jou gesmeek om hul krewe te koop. Een visserman het ons gesin in sy bakkie (roeibootjie} spotgoedkoop in die hawe rondgeroei.

Toendertyd se skakelhuis was strandhuis op die hoofstrand. Jy kon oor die straat stap sowat 100 m see toe sonder om links of regs te kyk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!