Cook tel mylpale af op reis van 15 000 km

Die jongman met die kenmerkende rooi baard het meer as 124 000 volgers op Twitter, 59 300 op YouTube en meer as 167 000 op Instagram.
Tielman Van Lill
Die Engelsman Russ Cook, ’n man met die bynaam “Hardest Geezer”, sal Windhoek vandag bereik op sy epiese draftog van ongeveer 15 000 kilometer deur 16 lande oor die volle lengte van Afrika, suid na noord.

Die 25-jarige Cook het op 22 April by Kaap Agulhas, die mees suidelike punt van die kontinent begin.

Sy mikpunt is Tunisië se hoofstad Tunis, as Afrika se mees noordelike punt, waar sy #ProjectAfrica ná ’n geskatte 360 marathonne in 240 dae tot ’n einde sal kom. Dit sluit die draai na die mees westelike punt, Dakar in Senegal, in.

Indien die Hardest Geezer dit kan vermag, sal hy die eerste persoon word wat die lengte van die kontinent op dié wyse te voet tem.

Cook behoort vandag tussen 11:00 en 12:00 op dag 33 in Windhoek aan te kom. Hy sal dan reeds 1 644 km van sy missie voltooi het.

Hy het die Vioolsdrift- en Noordoewer-grenspos op 7 Mei ná 767 km oorgesteek.

Met stormsterk winde, reën, koue en hoë dagtemperature, is dit nie maanskyn en rose in Afrika nie.

Ná een van sy moeilikste dae (dag 26) toe hy ongesteld was en net 21 km kon aflê, het hy egter weer ten volle herstel en handhaaf weer tussen 40 en 50 kilometer per dag.

In een van sy inskrywings op Instagram sê hy: “Ek herinner myself daagliks op die pad – ek is die meester van my skip. Ek kies positiwiteit. Daar is altyd ’n lig om te vind, en as jy dit nie kan vind nie, kyk beter.”

Op nog ’n video Sondag sê hy: “Ons is sover reeds berge, woestyne, rooftogte, wilde diere en siekte te bowe gekom. Een ding waarvan ek meer as ooit seker is, is dat ek die eindpunt in Tunisië gaan bereik. Baksteen vir baksteen sal hierdie muur gebou word! Ek is terug en doen wat ek altyd doen – slaan teerpad!”

Na verneem word sal Cook drie aande in Windhoek wees voordat hy na Okahandja en van daar sy pad rondom die Etosha-wildtuin vat.

SY MOTIVERING

Cook hardloop om geld gelykop vir twee welsynsorganisasies in te samel, naamlik Water Aid in Afrika (@wateraid) en The Running Charity (@therunningcharity). Laasgenoemde gebruik padwedlope as ’n hulpmiddel om mense te help wat dakloos is of komplekse behoeftes ondervind.

Cook sê: “Project Africa gaan oor baie dinge. Dit gaan oor hoe ver ek my uithouvermoë kan druk. Dit gaan oor die ingesteldheid om jou alles in die lewe te werp – insluitend die kombuiswasbak. Dit gaan daaroor om van kulture te leer en te deel en om mense te wys drome hoef nie vir altyd net drome te bly nie.

“Dit gaan daaroor om ’n impak te skep wat verder strek as net een ‘geezer’ wat oor ’n kontinent hardloop.

“So met alles wat gesê word, is ek trots om Water Aid aan te kondig as die tweede welsynsorganisasie vir wie ons tydens die projek geld sal insamel. Water Aid se missie is om toegang tot skoon water, higiëne en sanitasie in die wêreld se armste gemeenskappe te verbeter.

“Dit was vir my baie belangrik dat ons ’n organisasie kies wat reeds betekenisvolle werk verrig op die vasteland waardeur ek hardloop.

“Min basiese behoeftes kan veel meer basies as skoon water wees. Vir iemand soos ek wat in Brittanje gebore en getoë is, kan ek nie voorgee dat ek die realiteite van sulke omstandighede verstaan nie.

“Ek is opgewonde om die impak van die werk wat Water Aid doen, te leer en met jou te deel terwyl ons hierdie kolossale missie onderneem.”

Teen gister het hy reeds meer as 16 800 pond van sy mikpunt (100 000 pond) vir sy gekose organisasies ingesamel.

Die skakels om hom op sosiale media te volg of te ondersteun: https://linktr.ee/hardestgeezer

Die jongman met die kenmerkende rooi baard het meer as 124 000 volgers op Twitter, 59 300 op YouTube en meer as 167 000 op Instagram.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!